Pta-sentrum beroof: Verdagte in hospitaal vasgetrek

The Grove Mall. Foto: Facebook

ʼn 23-jarige man is in hegtenis geneem in verband met sy beweerde betrokkenheid by Donderdagoggend se rooftog by The Grove Mall in die ooste van Pretoria.

Kapt. Daniel Mavimbela, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte is Donderdagaand in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in hegtenis geneem toe hy mediese hulp gesoek het.

Volgens Mavimbela is die verdagte vir skietwonde aan sy bo- en onderlyf behandel. Mavimbela het gesê die verdagte sal in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van roof met verswarende omstandighede sodra hy uit die hospitaal ontslaan word.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep van tussen vyf en sewe gewapende mans het op ʼn juwelierswinkel in die sentrum toegeslaan. Hulle het juwele ter waarde van ʼn onbekende bedrag gesteel.

“Die eienaar van die winkel het twee skote op die verdagtes afgevuur. Ons vermoed een van die verdagtes is tydens die voorval gewond,” het Mavimbela vroeër gesê. Die verdagtes het van die toneel gevlug. ʼn Saak van sakeroof word ondersoek.

Julie-Anne Nel, sentrumbestuurder, het intussen in ʼn verklaring gesê hulle werk nou saam met die polisie in die ondersoek na die voorval. “Ons wil graag vir die publiek die versekering gee dat die veiligheid van ons huurders en klante vir ons uiters belangrik is en dat die winkelsentrum soos normaal vir sake oop is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Dit is verstommend dat die bestuur van die sentrums nog nie vuurwapens verbied in die persele nie en metaalverklikkertoetse doen by ingange nie.

Werner ·

Eish nog nooit het die verbied van n vuurwapen by n winkelsentrum n roof voorkom nie jy ontwapen net jou wetsgehoorsame burgers

ECB ·

Stem saam, dis ‘n dom voorstel. Ek dra my wapen 24uur ‘n dag saam met my en ek mag/gaan nie my wapen in die voertuig los nie.

JoeV ·

Bied jou aan nê! alle rowers lees altyd die kennisgewings om te sien of daar darem wapens toegelaat word op die perseel voor hulle ‘n roof pleeg. Gelukig vir die wetsgehoorsame winkel eienaar, is daar nog NIE so ‘n bordjie op nie en was hy in staat om homself en sy winkel met sy wettige wapen te verdedig. In die geval sommer eenetjie in die hospitaal gekry en word aangekla. Dink nou net die helse skade wat die rowers gaan ly as hulle nie meer wapens by party plekke mag invat nie!

Johann Buys ·

So jy meen die gewapende rowers gaan hulle steur aan die versoek van die sentrum? Seker net soveel as hulle hulself daaraan steur om nie te roof nie.

Piet ·

Sterfte syfers op snelweë sal dramaties afneem sodra ons voertuie op snelweë verbied ook. Dink ons moet die geswemmery in die see ook sommer stopsit. En die van julle met ‘n mes of twee in julle kombuis, klaar daarmee, ons verbied dit ook. Eish Eish.

Cherokee ·

Ek het by ‘n bank op die strand in Durban deur die kosyn van ‘n metaalverklikker gestap. My karsleutels het ‘n sein laat bingegelêngommelong deur die vertrek. Die wag het gevra wat dit veroorsaak het. A 9 mill on my ankle, het ek gesê. Dit is waar ek my pistool dra. Ó, het hy geantwoord en my laat deurstap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.