Pta-seun ure lank geopereer, bed wag by staatshospitaal

Sean Smith in die hospitaal. Foto: Verskaf

Sean Smith in die hospitaal. Foto: Verskaf

Dit het ʼn spesialischirurg Donderdag byna vier ure geneem vir die eerste van vele operasies wat voorlê om wonde regoor Sean Smith (16) se liggaam skoon te maak, nadat hy vandeesweek erg in ʼn fratsongeluk met petrol gebrand het.

Sean, ʼn gr. 10-leerder, is Maandagmiddag na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem nadat sy hemp aan sy lyf aan die brand geslaan het.

Hy moes Donderdag dringend die eerste van vele operasies ondergaan om van dooie weefsel  te verwyder en sy wonde skoon te maak om lewensgevaarlike infeksie te verhoed.

Amoré Jooste, ʼn goeie vriendin van Sean se ma, het Vrydag aan Maroela Media gesê tydens die operasie is vasgestel Sean het ernstige derdegraadse brandwonde aan sy hande, ken en nek en gedeeltes van sy rug, bors en arms opgedoen. Hy het ook inwendige brandwonde opgedoen toe hy vlamme ingeasem het.

“Hy het ook brandwonde in sy gesig opgedoen, maar gelukkig is sy oë nie beskadig nie,” het Jooste gesê.

“Sy wonde is nou diep skoongemaak en die dokters het die dooie weefsel gedeeltelik begin afskraap. Hulle het net sowat 10% van die vel geskraap, sodat hy nie te veel bloed verloor nie. Sean moet elke tweede dag teruggaan teater toe, hetsy by Unitas of ʼn staatshospitaal, sodat sy verbande omgeruil en die wonde skoongemaak kan word. ”

Melissa en sean smith 2

Mé-Lissa en Sean Smith. Foto: Verskaf

Sean is in afsondering en onder verdowing in die hospitaal se hoësorgeenheid waar hy aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel is.

Amoré het gesê intussen is ʼn bed nou vir hom beskikbaar die Dr George Mukari-hospitaal in Ga-Rankuwa, noord van die stad. Hy sal onder beheerde omstandighede daarheen oorgeplaas word wanneer sy toestand stabiliseer.

Maroela Media het vroeër berig Sean was saam met ʼn gesinsvriendin, wat ʼn tuindienste-onderneming besit, toe die voorval plaasgevind het. Sy het hom by sy huis, in Theresapark in Akasia, opgelaai en hulle was in Eldoraigne in Centurion toe die tragedie hom afgespeel het. Die vrou het besef haar bakkie lek olie en sy het langs die pad stilgehou om ondersoek in te stel. Sean het onder die enjinkap gekyk wat hy kan sien en aan die enjin gewerk. Sy hande was vuil en vol olie. Hy het petrol gevat om sy hande skoon te maak en sy hande aan sy hemp droog gevee. Die hemp het vlam gevat toe iemand glo naby hom ʼn sigaret aangesteek het.

Hy is na die hospitaal gehaas, waar hy dadelik vir pyn behandel is voordat hy onder verdowing geplaas is. Die hospitaal het onderneem om Sean se mediese koste te dek totdat hy na ʼn staatshospitaal met ʼn toegeruste brandsorgeenheid oorgeplaas kan word. Sy ma, Mé-Lissa Smith, is ʼn enkelma van vier kinders en het nie ʼn mediesefonds nie.

Die Hero Burn Foundation, ʼn nie-winsgewende organisasie wat ondersteuning bied en omsien na brandslagoffers, samel geld in om Sean se ma finansieel by te staan en te sorg dat die slagoffers die beste behandeling ontvang. Bel 082 902 1133 bel of klik hier vir hul bankbesonderhede. Gebruik “Sean” as ʼn verwysing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marlene Oosthuizen ·

Wat het van die Pippie fonds vir brand slagoffers geword? Sekerlik is daar nog fondse om Sean ook te help.

Anneke ·

Ek wil nie die post kaap nie maar wil graag vir Maroela vra of julle asb vir ons n opvolg artikel kan doen oor die mense wat so erg gebrand het by die lugskou met die cook n spray bottel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.