Pta-skietery: Seun (14) ontbied hulp ná hy skote hoor

Paramedici en die polisie op die toneel. Foto: Verskaf

Die Boschkop-polisie ondersoek die omstandighede rakende ʼn skietvoorval Woensdag in die vroeë oggendure in ʼn landgoed in die ooste van Pretoria waarin ʼn man dood en sy vrou kritiek gewond is.

Kapt. Michael Mbewe, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 01:00 in die Leeuwenhof-landgoed in Hazeldean plaasgevind.

“Die polisie is deur veiligheidsbeamptes na die toneel ontbied, waar die polisie die egpaar in hul slaapkamer met koeëlwonde aan hul bolywe aangetref het. Die egpaar se 14-jarige seun het die skote gehoor en hulp by die landgoed se veiligheidsbeamptes ontbied,” het Mbewe gesê.

Volgens Tebogo Magoro, woordvoerder van Netcare 911, is die vrou (39) in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal geneem. Die man is op die toneel dood verklaar. Magoro het gesê die vrou het ʼn skietwond aan haar bors gehad en die man ʼn skietwond aan sy kop. Die man het na bewering sy vrou geskiet voor hy homself geskiet het.

Maroela Media het by ʼn betroubare bron verneem die 14-jarige seun en sy agtjarige boetie is in die sorg van familielede geplaas. Hulle was ten tyde van die skietvoorval in ʼn ander kamer in die huis.

Die motief vir die skietery word ondersoek. Die moontlikheid dat dit verband hou met huishoudelike geweld kan nie uitgeskakel word nie.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Die oorledene se naam is nog nie bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oujongvrou ·

Die mans wat deesdae hulle vrouens so vermoor raak nou n plaag. Regtig!!!wat gaan aan dat hulle nie meer redelik kan wees en die vrouens net laat gaan.

E.K. die eerste ·

Verskriklik! Arme arme kinders…om nou met dit te moet saamleef. Ai hemel tog ek hoop hul familie lief hul vreeslik en ondersteun hul honderd persent. Wens ek kon elkeen ‘ns tywe druk gee! Hopelik kry hul terapie…

ekook 'nvrou ·

Oujongvrou, dit gaan ongelukkig deesdae albei kante toe. Die totale moordsyfer in die land is skrikwekkend. Bitter hartseer dat daar so baie moorde is, en so baie kinders ouerloos gelaat word agv daarvan…….

Abel ·

Soos ek verstaan, lewe die mamma nog. Nou moet ons bid dat sy volkome sal herstel en haar kinders ten minste weer ñ mamma het. Sterkte en gebede vir die familie.

SNEL ·

Beslis so Abel, ons moet bid dat die Here sy hand om hierdie mamma vou en haar spaar vir haar kindertjies ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.