Pta-skole laat vaar kontaksport weens Covid-19

Nagenoeg 14 skole in die ooste van Pretoria het besluit om etlike buitemuurse aktiwiteite tydelik te staak weens ’n toenemende aantal positiewe Covid-19-gevalle. (Argieffoto ter illustrasie)

Nagenoeg 14 skole in die ooste van Pretoria het besluit om etlike buitemuurse aktiwiteite tydelik te staak weens ’n toenemende aantal positiewe Covid-19-gevalle.

Verskeie skole het Donderdag in soortgelyke verklarings aangedui dat dié besluit tydens ’n vergadering met die hoofdebelangegroep van skole in die oostelike voorstede geneem is. Hulle het ook gesê dat dit op die aanbevelings van kundige viroloë geskoei is.

Die besluit behels onder meer dat alle interskole-sportaktiwiteite waarby kontaksportsoorte soos rugby, netbal, hokkie en stoei betrokke is onmiddellik tot 29 Mei 2021 opgeskort word. Dit sluit ook kooroefeninge in.

“Deelname aan proewe bly die keuse van die ouer en kind.”

In nie-kontaksportsoorte soos tennis en krieket mag bedrywighede egter voortgesit word.

Die verklaring dui aan dat vaardigheidsoefeninge in kontaksportsoorte mag voortgaan, asook dat kontakoefeninge hierin op 24 Mei hervat kan word.

“Daar word ’n dringende beroep op alle ouers gedoen om daadwerklike stappe te doen om sosiale byeenkomste sodanig te bestuur dat die verspreiding van die virus bekamp word.”

Die verklaring verduidelik voorts dat die besluit in belang van die skoolgemeenskap geneem is.

“Wanneer die veiligheidsbelange van mense ter sprake is en teen sosiale en sportbedrywighede opgeweeg word, is die regte besluit voor die hand liggend.

“Sportliggame wat op grond van die besluit genader is, het hul begrip uitgespreek en bevestig dat geen speler benadeel sal word nie.”

In ’n video op die Hoërskool Waterkloof se Facebook-blad sê die skoolhoof, Chris Denysschen, dat twee positiewe Covid-19-gevalle ná afloop van ’n wintersportnaweek by dié hoërskool aangeteken is.

“In sommige van die skole is tot 17 positiewe gevalle ná ’n sportnaweek aangemeld.”

Maroela Media het verlede maand berig dat Denysschen self langer as ’n week in die hospitaal behandel is nadat hy positief vir Covid-19 getoets het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

M-woord ·

Dis nou wat n mens goeie bestuur noem! Welgedaan skoolhoofde

Anel ·

Nou wonder ek net hoeveel mense het in die verlede verkoue en griep gekry na sulke byeenkomste?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.