Pta-skoolseun raak talle harte ná leeuaanval

Kristian Prinsloo. Foto: Verskaf

Duisende mense bid vir Kristian Prinsloo (11), die Pretoriase skoolseun wat verlede Saterdag deur ʼn leeumannetjie aangeval is, waar hy steeds kritiek in die hospitaal lê.

“Terwyl ek by die hospitaal sit en deur almal se boodskappe gaan, het die werklikheid by my opgekom van hoe geseënd ons is in hierdie tyd van nood. ʼn Hartseer het oor my gekom omdat ek weet dat daar so baie mense is wat ook deur erge situasies gaan en nie sulke wonderlike mense het om op te steun nie en nog erger, wat dalk nie God en Sy genade ken of glo nie,” het Kristian se pa, Herman Prinsloo (47), gesê.

Herman het laat Saterdagaand laat weet dat Kristian se toestand nog onveranderd is. “Hy het nog swelling op sy brein en die wond aan sy nek is weer oopgemaak om septiese stof uit te kry. Ons moet net geduldig wees met die swelling en op die Here vertrou.”

Herman, ʼn sakeman van Centurion, en sy vrou, Adri (47), waak sedert verlede naweek 24 uur per dag by hul enigste kind se bed nadat hy op ʼn landgoed in Lephalale (Ellisras) in Limpopo aangeval is.

Hy word in die waakeenheid van die Mediclinic Muelmed-hospitaal in Arcadia, Pretoria, behandel en is aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel. Marie Strydom (75), Adri se ma wat die leeu van Kristian af gestoei het, staan die egpaar by.

Kristian, ʼn gr. 6-leerder aan die Laerskool Louis Leipoldt, het oudergewoonte dié skoolvakansie by Strydom in Lephalale gaan kuier waar die tragedie hom afgespeel het. Lees meer hier.

ʼn Ondersteuningsgroep is Woensdag vir Kristian op Facebook geskep om boodskappe van bemoediging te deel. Die blad het teen Sondag sowat 3 000 ondersteuners gehad.

Herman en Adri het almal bedank vir hul gebede en boodskappe.

Lees die vorige berigte oor Kristian Prinsloo op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jdv ·

Ons dink aan die ouers en ons hoop die jongman trek deur. Ons het ons enigste seun 8 maande terug verloor en die lewe is en sal nooit weer dieselfde wees nie. Kom boet jou pa en ma het jou meer nodig as wat jy dink, klou aan daai lewe vas….jy kan!!!

Naomi ·

Dankie dat julle ons op hoogte hou van die seun se toestand, hy bly pal in my gedagtes en gebede. Sy ouers se onwrikbare geloof is prysenswaardig. Baie sterkte ons dink aan julle en bid vir julle.

Stella ·

Ag siestog as ek na hom kyk op die foto kan n mens sien hy is n aan die gang laaitie, lief vir die lewe…Ek bid dat hy weer vinnig en volkome sal herstel.. sterkte aan almal wat hom liefhet

T ·

Kan nie dink deur watse hel hierdie ouers en Ouma moet gaan nie. Die Ouma is n heldin ongeag haar wonde en skok haar kinders by te staan. Ek bid vir beterskap en herstel.

toy ·

Ons bid dat die Here julle asb sal help deur die tyd en dat Kristian ten volle sal herstel.

Cheryl ·

My hart is seer vir hierdie mamma en pappa… Ek kan my net voorstel deur watter vreeslik pyn en hartseer hul gaan om hul seun so te sien. Geen ouer verdien om so langs hul kind se hospitaal bed te waak nie. Liewe ouers baie baie sterkte aan jul en die familie Ek hou jul in my gebede… Ek dink ook elke dag aan Die seun en hoe dit met hom gaan. Hou ons op hoogte asb MM!!!

Alida ·

Dit is so hartseer maar kon verhoed gewees. Mens tart nie die noodlot nie. Leeus word nie mak nie. Ek is kwaad omdat dit gebeur het. Dit moes nie.

Piet ·

Ek dink die ouers sal nog baie kans kry vir selfblaam, ek is seker hulle het nie nodig dat jy hulle daarop moet wys nie. Bid eerder vir die kind en fokus op sy beterskap as wat jy raad gee oor wilde diere se gedrag. Ek vra verskoning as jy dalk op die plaas was en bekend is met hoe die hokke oop en toe maak en wat die prosedure op die plaas is.

Alida ·

Ek sal bly hamer daarop dat hierdie gruwelike ding nooit moes gebeur het nie maar dit het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.