PTA-skoolseun word vermis

Jaco Delport.

Jaco Delport.

OPVOLG: Jaco is Vrydagmiddag opgespoor. 

Jaco Delport (17), ʼn leerling aan Hoërskool Wonderboom in Pretoria se Moot-omgewing, word sedert Woensdagoggend vermis.

Thinus Delport, Jaco se pa, het Vrydag aan Maroela Media gesê hulle het hul seun die oggend vir die laaste keer by hul huis in Eloffsdal gesien toe hy op pad was skool toe. “Hy het egter die dag nie skool toe gegaan nie, en toe ons die middag omstreeks 17:45 by die huis opgedaag het, was hy nie meer daar nie,” het hy gesê.

Delport het gesê sy seun het ʼn briefie agtergelaat wat sê dat hy moet gaan, dat hy lief is vir hulle en dat hy hoop dat sy ouers hom sal vergewe.

“Dit was vir ons ʼn groot skok, ons het glad nie so iets verwag nie. Hy is nie ʼn rebel nie en het ook nie snaakse vriende nie,” het ʼn bekommerde Delport gesê.

Die egpaar het ʼn vermistepersone-saak by die Wonderboompoort-polisiestasie aanhangig gemaak en sy foto word op sosiale media versprei.

ʼn Ooggetuie het later die egpaar gebel en gesê hulle het Jaco die dag van sy verdwyning in Wonderboom-Suid gesien, waar hy sy fiets gestoot het. Delport het gesê na wat vasgestel kan word, het Jaco niks klere of toiletware saam met hom gevat nie. Hy het sy selfoon en kontant by hom. Sy selfoon is egter afgeskakel.

Hy het ʼn blou denim en geel hemp aangehad toe hy laas gesien is.

Mense wat Jaco sien of weet waar hy hom bevind, word versoek om kapt. Nkwana van die Wonderboompoort-polisie by 071 675 7425 of 012 335 2812 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Riaan ·

Sopas op Facebook gesien: die seun is veilig en ongedeerd by die huis!

Leeutjie ·

Ek is so bly die seun is veilig. As ek sy ouers is sal ek nog besorg wees oor hom. Iets is nie reg nie en hulle moet agter die kap van die byl kom. Soms is dit probleme met ouers, maats of iets wat dit veroorsaak.

Riaan ·

Sopas op Facebook gesien: die seun is veilig en ongedeerd gevind en by die huis!

Tammy ·

Ek is so dankbaar vir hom en sy ouers. Niemand wil deur so n nare ondervinding gaan nie.

Riaan ·

Jammer vir die duplisering almal! Ek lewer kommentaar en lewer kommentaar maar niks wys nie! Julle kan maar die ekstras afhaal!

Sune van Heerden ·

Dagsê Riaan

Dankie vir jou kommentaar! Maroela Media het ‘n outomatiese stelsel wat vir lesers eers vyf minute gun om wysigings aan hul kommentaar aan te bring voordat dit op die stelsel wys (soms sien mens mos eers ‘n spelfout of ‘n ander fout nadat mens “stuur” gedruk het!) Dit gee ons stelsel ook kans om die kommentaar deur ‘n siftingsproses te stuur wat sal seker maak dat daar nie aanstootlike woorde in die kommentaar gepubliseer word nie. Soms keur die stelsel ook kommentaar af en gaan lê dit in ‘n mandjie waar dit met die hand goedgekeur of afgekeur moet word. Dit gaan dus altyd minstens vyf minute duur voordat jou kommentaar op die webwerf wys.

Ons hoop jy kuier sommer nog lekker verder saam!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.