PTA-slimkragmeters: ‘Installasiewerkers’ beroof inwoners

Saam met identifikasiekaarte met amptelike installasiewerkers ook só 'n kenteken dra.

Saam met identifikasiekaarte met amptelike installasiewerkers ook só ‘n kenteken dra.

Die Tshwane-metro het inwoners gewaarsku dat ʼn groep kriminele hulself as munisipale werkers voordoen wat die nuwe slimkragmeters in Pretoria installeer, en dan inwoners beroof.

Die slimkragmeters word tans in die ooste van Pretoria en in Centurion geïnstalleer. Die meters word gratis geïnstalleer en vervang die tradisionele en ou voorafbetaalde kragmeters. Die meters gaan by alle huishoudings geplaas word in ʼn poging om onder andere agterstallige kragskuld, asook probleme met geraamde meterlesings hok te slaan.

Die metro het Maandag in ʼn verklaring gesê hy is bewus van ʼn groep mans wat veral in die ooste doenig is, en hulself as installasiewerkers voordoen wat inwoners beroof. “Die groep besoek voorstede waar die nuwe meters geïnstalleer word, en verskaf valse bewyse dat hulle vir die City of Tshwane-munisipaliteit werk,” het die metro in ʼn verklaring gesê. “Hulle beroof die kliënt sodra hulle toegang tot die perseel het.”

Die metro het inwoners in kennis gestel dat alle meterinstallasies vir residensiële kliente van die straat af gedoen word, en dat werkers in die meeste gevalle nie toegang tot inwoners se huise of erwe benodig nie. “Waar daar wel ʼn meter in die inwoner se huis of erf is, sal die metro reëlings tref om die meter na ʼn straatboks te skuif.”

Volgens die metro sal kontrakteurs met inwoners in verbinding tree om die verbruiker se koppelvlakeenheid in die huis te installeer, sodra die oorskakeling moet plaasvind (moontlik eers in April of Mei vanjaar). “Inwoners sal van dié proses in kennis gestel word.”

Installasiewerkers van die munisipaliteit het identifikasiekaarte met die persoon se foto, sy naam en ID-nommer daarop. Die metro se logo en inbelsentrum se telefoonnommer is ook op die kaart aangebring. Die werkers se amptelike voertuie het ook die nodige kentekens op.

Inwoners kan op die uitkyk wees vir ’n kennisgewing wanneer beamptes die meters in hul gebied gaan installeer. Hulle werk Maandae tot Saterdae tussen 07:00 en 18:00. Indien daar ʼn kragonderbreking in die gebied is, werk hulle totdat die kragtoevoer herstel is. “Selfs in so ʼn geval word daar nie toegang tot ʼn inwoner se erf benodig nie.”

Inwoners wat twyfel oor ʼn werker se egtheid, kan die persoon se identiteit nagaan deur die inbelsentrum by 012 943 9950 te skakel.

Die metro het met die afskop van die installasies in Januarie inwoners aangeraai om geen geld aan stadsamptenare of enigiemand wat hulle voordoen as ’n amptenaar, te betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Joe Olivier ·

“Die meters word gratis geiinstalleer” `n absolute lieg. Ons sal wel iewers daarvoor betaal. Die meters word by alle huishoudings ingesit. Nog `n leuen. Ons almal weet die wat nou nie betaal nie sal nooit betaal nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.