Pta-stadsrede ontwrig: ‘Dit was ʼn staatsgreep’

Solly Msimanga, burgemeester van Pretoria (11 April 2017)
Foto: Jonisayi Maromo / ANA

Solly Msimanga, Tshwane-burgemeester, het Dinsdag tydens ʼn perskonferensie gesê die ontwrigting van sy stadsrede verlede week Donderdag was ʼn staatsgreep.

“Twee raadslede het hulself as speaker en burgemeester verklaar,” het hy gesê. “Een van die raadslede, wat homself speaker van die raad genoem het, het op rekord gesê dit is ʼn staatsgreep. Tydens ʼn amptelike geleentheid, vir enigiemand om te sê dis ʼn staatsgreep, is ʼn strafregtelike oortreding. Hulle is nie as speaker of burgemeester verkies nie.”

Maroela Media het vroeër berig ANC-raadslede het geweier dat die stadsrede voortgaan omdat dit gehou is op die dag waarop die struggle-ikoon, Solomon Mahlangu, in Pretoria gehang is. ANC-raadslede het ingestap met plakkate wat aanvoer die DA het Mahlangu vermoor omdat die voormalige leier van die DA Tony Leon, se pa, regter Ramon Leon, Mahlangu laat hang het. Een van die raadslede is met ʼn galgtou deur die tydelike raadsaal by die Pretoria-skouterrein in Pretoria-Wes gelei, terwyl die res van die ANC-raadslede gesing, gedans en plakkate rondgeswaai het.

Msimanga het Dinsdag gesê daar is ʼn reeks vergaderings voor die stadsrede gehou nadat hulle inligting ontvang het oor moontlike ontwrigtings. “Ons het met die hoof van die metropolisie, Steve Ngobeni, vergader en gesê ons wil alle voorsorgmaatreëls tref. Ons het die versekering gekry dat alles in plek is om seker te maak dat die geleentheid vlot sal verloop.”

Volgens Msimanga is die geleentheid van die begin af ontwrig. “Die leier van die ANC het ʼn oomblik van stilte versoek en onderneem dat ons kan voortgaan ná die oomblik van stilte. Een van sy kollegas het egter besluit dat hulle nie gaan toelaat dat die verrigtinge kan voortduur nie. Hulle het die hele ding gekaap en dit in ʼn Solomon Mahlangu-geleentheid omskep.”

Msimanga het gesê die ANC-raadslede het gedreig om die klankstelsel te vernietig as hulle nie die geleentheid sou kry om te praat nie.

Rachel Mathebe, speaker van die Tshwane-raad, het die verrigtinge verdaag om met die raadslede te vergader.

Die deurmekaarspul het voortgeduur. Mathebe het die Tshwane-metropolisie aangesê om die ANC-raadslede te verwyder. Volgens Msimanga was Ngobeni in hierdie stadium teenwoordig.

“Die ding was vooraf beplan. Hulle [die ANC-raadslede] het geweet dat diegene, op wie ons staat maak om hulle te verwyder, het ʼn teenopdrag ontvang om nie op te tree nie. Ons het dit gesien toe hulle begin om die tafels om te keer. Die hoof [Ngobeni] het gesê as hulle begin om eiendom te beskadig, sal hulle optree. Ons wou by hom weet wat meer wil hy hê voor hulle sou optree. Hy het in sy motor geklim en weggery.”

Msimanga het gesê Ngobeni het duidelik van iewers anders af opdrag gekry. “Hy het met ʼn voormalige lid van die burgemeesterskomitee, Terrence Mashego, gesels. Jy moet jouself die vraag afvra waar sy opdragte vandaan kom. Kom dit van die wettig verkose uitvoerende raad in sy stad, of kry hy opdrag van Luthuli House en ʼn oud-burgemeesterskomiteelid? Ons het hom ná die gemors gebel en gevra hy moet dit kom hanteer.”

Msimanga het bygevoeg die metropolisiebeamptes was onseker hoe om op te tree, want hulle het ʼn ander opdrag van hulle hoof af gekry. “Ek het met die stadsbestuurder en die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid vergader dat ons hom op daardie dag van sy mag moet stroop en dan die adjunkhoof van polisie moet versoek om op te tree, aangesien die hoof van die metropolisie duidelik versuim het om op te tree.”

“Ek het die minister van staatsveiligheid David Mahlobo, waarnemende nasionale polisiekommissaris Johannes Phahlane, Gautengse provinsiale polisiekommissaris genl.maj. Deliwe de Lange en genl. Daniel Mthombeni van Tshwane-Wes-polisie gekontak, maar niemand kon vir die bevelvoerder sê wat veronderstel is om te gebeur nie.”

Hy het gesê dit is baie duidelik dat partypolitiek ʼn rol gespeel het tydens die stadsrede en gesê het dit was duidelik op dieselfde dag wat Phahlane aangekondig het dat die Tshwane-munisipaliteit die #SaveSouthAfrica-betoging afgekeur het.

“Ons het ʼn duidelike opdrag gegee dat die optog sonder enige ontwrigting kan voortgaan. Ons het die oggend nog met die polisiehoof vergader. Ons het die aand gehoor dat Tshwane besluit het om die mense te verhoed om te betoog. Ons het nie enigiemand verhoed om aan die optog deel te neem nie. Daar is mense wat hulle administratiewe posisies misbruik om na politici se pype te dans.”

Hy het gesê hy het nie die mag om Ngobeni te skors nie. “Slegs die raad kan hom skors, en ons ondersoek ons opsies hoe ons bymekaar kan kom om die saak voort te sit. Dit sal tydens ʼn volgende raadsitting hanteer word.”

Derrick Kissoonduth, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het gesê die #SaveSouthAfrica-optog verlede week Vrydag was “een van die vreedsaamste optogte in die stad tot dusver”.

Hy het gesê daar is reeds toestemming verleen vir die “Nasionale Dag van Aksie”-betoging Woensdag waar talle opposisiepartye sal verenig teen pres. Jacob Zuma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

PJ ·

Dis ons voorland Staatsgreep oortuig daarvan dat de klerk en kie se wigte en teenwigte gaan dan verseker in werking tree

Pat ·

Ek ondersteun Sally ten volle. Hy is ‘n puik mens en ons moet bankvas staan teen die vernietigende ANC lede. DA optogte en protes vreedsaam teenoor die ANC wat alles afbreek en mense seer maak. Die ANC begin ‘n rekord opbou van intimidasie net soos Mugabe teenoor sy opposisie party.

Danie ·

Solly kry jou raad vinnig bymekaar en fire Ngobeni duidelik hoort hy nie daar nie. Hy is een van die “puppets”

AL ·

Staan jou man Solly. Hy is n swak verloorder en onopgevoed.
Hulle ken nie die integriteit wat jy het nie.

TDW ·

Die muntstuk is in die lug. Aan watter kant gaan hy val? Oorlog of vrede? Ons hou asem op. O God help ons nou.

pieterdp ·

Die wet is oortree. Die ANC weet prisies wat hu doen. Dis moet daar n klagtis gelê word en die wet moet sy gang gaan sonder bevoordeuling .

Siener van Melbourne ·

Msimanga, dit was nie n staatsgreep nie maar wel n stadsgreep.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.