Pta-veiligheidswag glo eers beroof en toe in hegtenis geneem

Argieffoto: pretoria.cityseekr.com

Argieffoto: pretoria.cityseekr.com

Die Brooklyn-polisie het ʼn veiligheidsbeampte in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by ʼn gewapende roof Dinsdag by Hatfield Plaza in die ooste van Pretoria.

Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het gesê beamptes van ʼn veiligheidsmaatskappy het die middag by die winkelsentrum aangekom om geld by verskeie winkels in die sentrum op te laai. “Teen 17:25 het drie mans, waarvan een gewapen was, een van die veiligheidswagte aangehou toe hy besig was om kontant in die geldwa te laai,” het Weilbach gesê. “Die verdagtes het ses sakke met ʼn onbekende hoeveelheid kontant en die veiligheidswag se vuurwapen gesteel en te voet gevlug.”

Volgens Weilbach het die bestuurder van die geldwa die verdagtes agternagesit. “Die verdagtes het intussen die twee sakke met geld en die gesteelde vuurwapen laat val. Die polisie het daarop beslag gelê in ʼn straat buite die winkelsentrum.”

Geen skote is tydens die voorval gevuur nie en niemand is beseer nie.

“Die polisie het dadelik wenke opgevolg en bewyse gevind wat die veiligheidswag, wie se vuurwapen afgeneem is, met die rooftog verbind. Die 33-jarige man van Mamelodi is op die toneel in hegtenis geneem.” Hy moet Vrydag in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof en sameswering om ʼn misdaad te pleeg.

Die polisie is steeds op soek na die drie verdagtes wat ontsnap het. Hulle versoek enigiemand met inligting wat hulle met die ondersoek kan bystaan, om 012 366 1735 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

scalla ·

Weereens bewys dat hulle almal saamwerk en agterna deel in die buit. hoop hy kom met die hele sak patats uit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.