Pta-vliegramp: Melkerywerker nie dood

Foto verskaf aan Maroela Media

Dinsdag se noodlottige vliegtuigongeluk in die noorde van Pretoria het nie twee mense se lewens geëis soos aanvanklik beweer is nie.

Die burgerlike lugvaartowerheid (BLO) het Vrydag aan Maroela Media bevestig die tweede persoon wat hulle gesê het is Woensdag in die hospitaal dood, lewe nog.

“Woensdag het ons ʼn opdatering oor die voorval uitgestuur uit inligting wat aan ons verskaf is deur verskeie rolspelers. Dit is beslis ʼn verligting om te hoor dat die aantal noodlottige beserings nie toegeneem het nie en dat die fout oor die inligting wat aan ons deurgegee is, geïdentifiseer en reggestel is,” het Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO, gesê.

Dit is nie duidelik wat tot die verwarring gelei het nie. ʼn Werknemer by die Moorddrift-melkery, wat die vliegtuig getref het toe dit neergestort het, het Vrydag aan Maroela Media gesê die werker wat owerhede gedink het dood is, lewe inderdaad nog.

Maroela Media het vroeër berig die Convair 340, met 19 mense aan boord, het omstreeks 16:30 naby Sakabukalaan in Montanapark neergestort. Christo Barnard (54), ʼn pa van twee dogters en ʼn vliegingenieur van Sinoville, is op die toneel dood en die res is beseer. Drie mense wat tydens die ongeluk in die melkery was, is ernstig beseer.

Die ongeluk het plaasgevind kort nadat die vliegtuig by die Wonderboompoort-lughawe opgestyg het. Op ʼn video kan gesien word hoe rookwolke uit die vliegtuig se linkerenjin begin borrel terwyl dit opstyg. Die vlieënier wou kort ná die opstyging terugdraai na die lughawe toe toe dit neergestort het.

Die vliegtuig, wat in 1954 gebou is, is onlangs deur Rovos Air aan die Aviodrome-lugvaartmuseum in Nederland geskenk nadat dit lank vir luukse lugvaartritte gebruik is. Dit was een van die vliegtuig se laaste besigtigingsvlugte voor dit na Nederland sou vertrek waar dit vir die lugvaartmuseum by die Lelystad-lughawe bestem was. Dinsdag was die vliegtuig se bestemming die Pilanesberg-lughawe in Noordwes.

Van die 19 mense aan boord was 16 passasiers en drie bemanningslede, bestaande uit twee vlieëniers en ʼn vliegingenieur [Barnard]. Daar was drie mense van Nederland, 14 Suid-Afrikaners en twee Australiërs aan boord.

Ledwaba het ʼn beroep op alle rolspelers en die publiek gedoen om die ondersoekspan die ruimte en vtyd te gun om die oorsaak van die ongeluk behoorlik te ondersoek. ʼn Voorlopige verslag word binne 30 dae verwag.

Lees die vorige berigte oor die Wonderboom-vliegongeluk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tina ·

Alle simpatie en sterkte aan die familie van Mnr Christo Barnard. MM, volgens paragraaf 5 kom dit steeds tot ‘n mate voor asof twee persone oorlede is.

Nana ·

@Tina, as mens die vorige berigte gelees het sal hulle sien dis die selfde persoon…. pa van 2 dogters en n vliegingenieur, 1 persoon, nie 2 nie

c ·

Nee Tina hy was ‘n pa van 2 kinders gewees en hy het gewerk as ‘n vliegingenieur.

Tina ·

Dankie Nana en c. Ja, ek is bewus van die feite. Dink net dat die sinskonstruksie in paragraaf 5 misleidend kan wees vir lesers wat nie op hoogte is nie.

Pietman ·

Tina, jy is heeltemal korrek, dit ís swak sinskonstruksie en dus verwarrend

Cherokee ·

Sowat ‘n halfeeu gelede het Frank Frayne my geleer vlieg. Ere aan Frank wat nie net senior posisie beklee het by Lugvaart maar tergelyketyd in sivies geklee was en terwyl hy soos ‘n straatling gelyk het, ons land opgepas het. Frank, ons onthou jou as vriend en ons eer jou. Wat ek eintlik wou sê benewens die eerbetuiging, is dat Frank dit in my ingedril het om nooit soos in ooit, terug te draai na ‘n lughawe nie maar ‘n noodlandingsplek te vind reg voor jou.

Loxtonbride ·

Pluimpie aan die vlieënier, volgens my huurders en werkers het die vliegtuig se stert die top van die bome in my plot getref Maw vlieënier moes die vliegtuig toe hoog genoeg kon kry om oor my huis te vlieg waar my kinders besig was om TV te kyk en 800m van my stoep ongelukkig te lande gekom. My hart gaan uit na die oorledene en almal wat beseer is. Die besef dat my kinders binne tref afstand was, maak my baie bang, maar tog baie baie dankbaar.

Johanna Botha ·

As hulle nie eers kan se of bepaal hoeveel mense nou regtig beseer en oorlede is nie wat nog van die ondersoek om te bepaal wat eintlik gebeur het …..alles is VROT en pateties in SA ! !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.