Pta-vliegramp: Oorledene se naam bekend

Christo Barnard. Foto: Verskaf

Christo Barnard (54), ʼn pa van twee dogters en ʼn vliegingenieur van Sinoville, is geïdentifiseer as die persoon wat Dinsdag in ʼn vliegtuigongeluk in die noorde van Pretoria dood is.

Pastoor Dawie Kruger (49), verbonde aan die Christ Kingdom Family Church en ʼn jare lange vriend van Barnard, het Woensdag aan Maroela Media gesê hulle het Barnard se vrou, Veronica, ná die tragedie bygestaan.

“ʼn Familielid van Christo het my gebel en gesê van die vliegtuig wat geval het, asook dat Veronica alleen is. Ons het haar gaan oplaai en was saam na die toneel. Dit was ʼn groot skok vir ons almal. Sy dood is ʼn groot verlies,” het Kruger gesê.

Kruger beskryf Barnard as ʼn baie intelligente man met ʼn groot passie vir die vliegbedryf.

“Hy het nog al die jare in die vliegbedryf gewerk en as vliegingenieur gehelp om vliegtuie te restoureer. Buiten sy passie vir vliegtuie was hy ook baie musikaal en kon verskeie musiekinstrumente bespeel. Hy was veral geheg aan sy familie en vriende. Hy was die soort ou wat jy enige tyd van die dag of nag kon bel en hy was daar vir jou.”

Barnard was aan boord die Convair 340 (ZS-BRV) wat omstreeks 16:00 naby Sakabukalaan in Montanapark neergestort het.

Maroela Media verneem die vliegtuig het by Wonderboom-lughawe opgestyg en rookwolke het uit die linkerenjin begin borrel. Die vlieënier wou kort ná die opstyging terugdraai na die lughawe toe dit neergestort het.

Die vliegtuig, wat in 1954 gebou is, is onlangs deur Rovos Air aan die Aviodrome-lugvaartmuseum geskenk nadat dit lank vir luukse lugvaartritte gebruik is. Dit was een van die vliegtuig se laaste besigtigingsvlugte voor dit na Nederland sou vertrek waar dit vir die lugvaartmuseum by die Lelystad-lughawe bestem was.

Aviodrome en die Tshwane-nooddienste het bevestig daar was 19 mense aan boord die vliegtuig toe dit neergestort het.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het gesê die vliegtuig het ook ʼn melkprodukfabriek getref voor dit tot stilstand gekom het. Drie mense in die fabriek is ook tydens die voorval beseer.

Van die beseerdes moes met helikopters na hospitale geneem word. Die vlieënier is een van dié wat kritiek beseer is. Maroela Media het intussen by twee bronne verneem een van die kritiek beseerdes het in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Dit moet egter nog bevestig word deur die burgerlike lugvaartowerheid (BLO), wat ondanks verskeie pogings nie vir kommentaar bereik kon word nie. Die persoon was glo in die fabriek ten tyde van die ongeluk.

Aviodrome het sy innige meegevoel met Barnard se familie en vriende betuig.

“Daar is tans nog verskeie mense in die hospitaal wat in die ongeluk was – van hulle is in ʼn kritieke toestand. Drie van ons museum se tegnici wat aan boord was, is intussen uit die hospitaal ontslaan,” lui Aviodrome se verklaring.

Serena van Kammen, Aviodrome se algemene bestuurder, is onderweg na die land om bystand te bied.

Barnard se begrafnisreëlings word nog getref. Afgesien van sy vrou laat hy twee dogters en vier kleinkinders agter.

Die burgerlike lugvaartowerheid (BLO) het ʼn ondersoek na die oorsaak van die ongeluk van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

O aarde ·

Koos, dit was ‘n Convair CV340. Kyk net na die stert en die stuurkajuit se voorruit en jy sal weet.

Skyspy007 ·

Verskoning Koos, ‘n Dakota het nie ‘n neuswiel nie…die Convair het ‘neuswiel…kyk die video. Dakota is ‘n taildragger.

Meegevoel aan die naasbestaandes, ons dink aan julle

Ander Annie ·

Dit is so hartseer. Christo Barnard jy vlieg nou met jou ewige vlerke. Ons gedagtes en gebede is met jou geliefdes, familie en vriende. Mag hulle vertroosting vind. Baie sterkte ook aan die beseerdes.

Koos de Meyer. ·

Engels is flight engineer. Afrikaans is boord tegnikus. Dit was verseker ‘n 340 en nie ‘n Dakota nie. Baie hartseer.

ben ·

Innige simpatie met die families.
“Hats off for the pilot.”

ben ·

Innige simpatie met die families.
“Hats off for the pilot”

O aarde ·

Ben, baie waar wat jy sê. Vlieeniers sê altyd jy “ry” die vliegtuig so ver as moontlik in die ongeluk in. Hierdie manne het dit wel gedoen, en baie goed ook. Meesters!

Yankee ·

Ag kom nou mense!! Wat maak dit saak wie reg of verkeerd is met “watse” vliegtuig. Saak is, dit was n vliegtuig!!!!

kas ·

Dit is so ongelloflik hartseer.Hoekom moes Christo nou juis op hierdie vlug wees.Hy vlieg nou verseker hoog en sonder vrees dat die vliegtuig sal val.Die GROOT KAPTEIN is nou in beheer van sy vliegtuig.Sterkte aan sy vrou.kinders en familie.Sterkte ook aan die beseerdes.

Brenda ·

Elanie en Ronique sterkte vir julle en jou ma dis baie hartseer.. Julle is in ons gebede.

Groot Piet ·

Het mos die Pratt & Whitney R-2800 engins in gehad oorspronklik. Tog baie betroubare werk-esels. Mens wonder wat waar verkeerd gegaan het.

Ria Maritz ·

My peetkind werk by Wonderboom Lughawe en sê hy moes nog daardie vliegtuig vir toetsrit gevat het.

STERKTE aan die familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.