Pta-vliegramp: Tweede sterfte bevestig

Christo Barnard. Foto: Verskaf

Die burgerlike lugvaartowerheid (BLO) het bevestig dat een van die mense wat in Dinsdag se vliegtuigongeluk in die noorde van Pretoria beseer is, in die hospitaal oorlede is.

Dit bring die dodetal van die ongeluk op twee te staan, met 20 mense wat beserings opgedoen het.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO, het gesê ʼn ondersoekspan is aangewys om die oorsaak van die noodlottige vliegtuigongeluk te bepaal.

Maroela Media het vroeër berig die Convair 340, met 19 mense aan boord, het omstreeks 16:30 naby Sakabukalaan in Montanapark neergestort. Christo Barnard (54), ʼn pa van twee dogters en ʼn vliegingenieur van Sinoville, is op die toneel dood. Die tweede persoon, wat tydens die ongeluk op die grond was, is Woensdag in die hospitaal oorlede. Die oorledene se naam is nog nie bekendgemaak nie.

“Die ongeluk het plaasgevind kort nadat die vliegtuig by die Wonderboompoort-lughawe opgestyg het. Die ondersoek is steeds in ʼn vroeë stadium en sommige besonderhede moet nog bevestig word,” het Ledwaba gesê.

Ledwaba het gesê die BLO kan tans bevestig die Convair 340 is deur General Dynamics vervaardig en in Suid-Afrika geregistreer.

Maroela Media het vasgestel die vliegtuig, wat in 1954 gebou is, is onlangs deur Rovos Air aan die Aviodrome-lugvaartmuseum in Nederland geskenk nadat dit lank vir luukse lugvaartritte gebruik is. Dit was een van die vliegtuig se laaste besigtigingsvlugte voor dit na Nederland sou vertrek waar dit vir die lugvaartmuseum by die Lelystad-lughawe bestem was.

Ledwaba het gesê die vliegtuig se bestemming Dinsdag was die Pilanesberg-lughawe in Noordwes.

“Van die 19 mense aan boord was 16 passasiers en drie bemanningslede, bestaande uit twee vlieëniers en ʼn vliegingenieur [Barnard]. Daar was drie mense van Nederland, 14 Suid-Afrikaners en twee Australiërs aan boord,” het Ledwaba gesê.

Op ʼn video kan gesien word hoe rookwolke uit die vliegtuig se linkerenjin begin borrel terwyl dit opstyg. Die vlieënier wou kort ná die opstyging terugdraai na die lughawe toe dit neergestort het. Die vliegtuig het ʼn melkprodukfabriek getref voor dit tot stilstand gekom het. Buiten die tweede persoon wat Woensdag dood is, is twee mense wat ook op die grond was, beseer.

“Die vliegtuig het ʼn lugwaardigheidsertifikaat gehad wat op 15 Augustus sou verval,” het Ledwaba bygevoeg.

Ledwaba het ʼn beroep op alle rolspelers en die publiek gedoen om die ondersoekspan die ruimte en tyd te gun om die oorsaak van die ongeluk behoorlik te ondersoek.

“Ondersoeke verskil van voorval tot voorval en kan in sommige gevalle ʼn geruime tyd duur om af te handel. Ons behoort egter ʼn voorlopige verslag binne 30 dae gereed te hê.”

Aviodrome het Woensdag sy innige meegevoel met die oorledenes se familie en vriende betuig en gesê Serena van Kammen, Aviodrome se algemene bestuurder, is op pad na Pretoria om bystand te bied.

Die drie Nederlanders aan boord was tegnici verbonde aan die museum en is reeds uit die hospitaal ontslaan.

Lees die vorige berigte oor die Wonderboom-vliegongeluk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.