Pta-vliegramp: Voorlopige ondersoekverslag bekendgemaak

Die ongelukstoneel. Foto: Best Care-ambulansdienste

ʼn Voorlopige verslag ná die voorval in Julie waartydens een mens dood en talle beseer is toe ʼn vliegtuig by die Wonderboom-lughawe in Pretoria opgestyg en kort daarna naby Sakabukalaan in Montanapark neergestort het, is bekendgemaak.

Die Convair 340 (ZS-BRV) het op 10 Julie neergestort nadat rookwolke uit die linkerenjin begin borrel het kort nadat die vliegtuig opgestyg het. Die vliegtuig het ʼn melkprodukfabriek getref toe dit neergestort het.

Die vliegtuig is deur Rovos Air aan die Aviodrome-lugvaartmuseum geskenk nadat dit lank vir luukse lugvaartritte gebruik is. Dit was een van die vliegtuig se laaste besigtigingsvlugte voor dit na Nederland sou vertrek waar dit vir die lugvaartmuseum by die Lelystad-lughawe bestem was.

Die voorlopige verslag oor die ondersoek na die ongeluk is op die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) se webwerf geplaas. Die verslag van 29 bladsye dui aan die vliegtuig was as deel van ʼn besigtigingsvlug op pad na Pilanesberg met twee bemanningslede en 17 passasiers aan boord. Die twee vlieëniers was Australiërs, terwyl die passasiers onderskeidelik van Suid-Afrika, Australië, Zimbabwe en Nederland afkomstig was.

Foto: ER24

Die passasiers het almal ʼn inligtingsessie bygewoon wat gehou is voor die vliegtuig opgestyg het en almal het vrywaringsvorms onderteken.

Die gewone kommunikasie tussen die vliegtuig en die lugverkeerbeheertoring het plaasgevind nadat die vliegtuig se enjin aangeskakel is en terwyl dit na die aanloopbaan gery het. Die verslag noem dat beeldmateriaal van ʼn GoPro-kamera wat by die stert van die vliegtuig aangebring is, toon die vliegtuig het deurentyd na die linkerkant geswaai en dan na die middellyn teruggekeer. ʼn Hersiening van die beeldmateriaal van die GoPro-kamera wat in die stuurkajuit aangebring is, toon dat die kaptein op pad na die aanloopbaan gekla het oor die styfheid van die rigtingsroer.

Nadat die vliegtuig opgestyg het, het een van die passasiers die vliegtuig-instandhoudingstegnikus ingelig dat die linkerenjin aan die brand is. Volgens die verslag het die vliegtuig in dié stadium oor die Bon Accord-dam gevlieg op ʼn hoogte van ongeveer 800 voet met ʼn stygingskoers van tussen 600 en 700 voet per minuut.

Die verslag toon ʼn waarskuwingstoon kon duidelik gehoor word en die linkerenjin se brandwaarskuwingslig het aangegaan. Daar kan op die beeldmateriaal gesien word hoe die kontrolewiel na regs afwyk en dat die kaptein aandui dat die rolroer nie meer werk nie.

Foto: ER24

“Die vlieëniers was nie seker of hulle die onderstel teruggetrek het nie en daar kan gehoor word hoe hulle mekaar vra of dit uit is of nie. Hoewel die vlieëniers en die instandhoudingsingenieur ingelig is dat die linkerenjin aan die brand is, vra hulle mekaar watter enjin brand. Dít is sigbaar op die beeldmateriaal. In geen stadium het hulle bespreek of probeer om die brand by die linkerenjin te blus nie, aangesien die linkerenjin se brandblussingstelsel nooit geaktiveer is nie,” lui die verslag.

In die verslag word die behoorlike prosedure wat in so ʼn situasie gevolg moet word, uiteengesit en word daar aangevoer dat die korrekte prosedures nie gevolg is nie. Die vliegtuig het daarna eers kragdrade getref voordat dit teen die melkprodukfabriek vasgeploeg het.

Een van die passasiers aan boord die vliegtuig het gesterf. Die twee vlieëniers en twee van die passasiers het ernstige beserings opgedoen. Die ander 14 passasiers het almal geringe beserings opgedoen. Vier mense op die grond is ook ernstig beseer, terwyl nog vier mense op die grond geringe beserings opgedoen het.

Maroela Media het vroeër berig die oorledene is ná die ongeluk as Christo Barnard (54) geïdentifiseer.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO, het gesê die owerheid neem kennis van die voorlopige verslag van die ongeluk. “Die BLO sal eers kommentaar lewer nadat die finale ongeluksverslag bekendgestel is. Intussen sal die BLO die ondersoekspan die nodige ruimte en tyd gee om ʼn deeglike ondersoek te doen,” het hy gesê. “Hierdie verslag is slegs die voorlopige verslag wat feitelike inligting en voorlopige bevindinge bevat. Die ondersoek gaan steeds voort en daar gaan nog na ander aspekte gekyk word wat moontlik die bevindinge kan beïnvloed.”

Die volledige voorlopige verslag kan hier gesien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

1+1 ·

Is menslike nalatigheid die oorsaak van die ramp? Dit klink beslis so. Ek weet te min wat die vooraf inspeksie behels en wie daarvoor verantwoordelik is. Wat ek wel weet is dat getekende vrywaringsdokumente niks beteken as agterlosigheid bewys kan word nie.

Cherokee ·

Die vlieënier(s) is verantwoordelik vir die ‘preflight checklist’ inspeksie voor aangeskakel word en dan is daar weer toetse wat gedoen word op die aanloopbaan voor ‘takeoff’. Jy is reg met wat jy sê betreffende kwytskeldingsdokumentasie.

Josua Keys ·

Ek het ook na die video gekyk en as ek vat die tyd toe die vlietuig opgestuig het en toe neergestort het gaan geen prossedures gevolg kan word nie die tydgleef was hopeloos te min en nog voor die vlieniers tyd gehad het om die probleem op te som is hulle in die grond in, mense moet dit as ook in ag neem, op daardie stadium was hulle priorteid om die vlietuim met die insittendes veilig op die grond te kry en dink ek het hulle goed in hul taak geslaag.

Noujatoe ·

Goeie genugtig.
Gedog 30%’ters word net op die Soweton-blog gevind.
Terug skool-toe met jou.

Koos de Meyer. ·

Jou eerste prioriteit is om die brand te blus as jy ‘n waarskuwing kry. Volgens die verslag het hulle nie eers geweet of die onderstel in of uit was nie. Die engine brand bluster was ook nie geaktiveer nie,menslike fout. Hy moes nie eers opgestyg het nie want hy het gekla dat die grond stuur meganisme styf is. Sit maar ‘n vraagteken agter hulle bevoegdheid.

Koos ·

Swak geskryfte berig. Dit laat dit klink of dit slegs een enjin het wat aangeskakel is, maar later word van die linkereen gepraat. En hoe sou die GoPro op die stert die kajuitbemanning se gesprek kon opneem? Ek sal nou maar Google om meer oor die tipe vliegtuig te lees.

Koos de Meyer. ·

. Die mede vlieënier het nie ‘n lisensie vir die betrokke vliegtuig gehad nie asook die boord tegnikus volgens E nuus. Bevoegdheid speel ‘n groot rol in vliegveiligheid. ‘n Vliegtuig is nie ‘n voertuig wat kan stil hou as iets in die lug verkeerd gaan nie. Daar is baie streng reëls wat gevolg word. Als word in die vliegtuig se logboek aan geteken en elkeen wat betrokke was moet werk van watter aard ook al afteken. Weereens kom bevoegdheid ter sprake.

Koos ·

Koos, wonder hoe lyk die notas wat hulle in die logboek geskryf het toe daai enjin brand? Interessant is die legendariese orkes Lynyrd Skynyrd ook in so 240 dood.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.