Pta-vloede: Ma nou ʼn maand lank vermis

Madelein Murray (40). Foto: Verskaf

Madelein Murray (40). Foto: Verskaf

Madelein Murray (40) het ʼn maand gelede vermis geraak toe vloedwater haar en haar oudste seun meegesleur het. Daar is steeds geen teken van haar nie en die amptelike soektog na haar is intussen afgelas.

Sy was saam met haar oudste seun, Hanco (20), in sy wit Nissan Skyline toe vloedwater die motor op 11 November omstreeks 03:00 ná swaar reën op die laagwaterbrug in Flowerstraat, Capital Park, meegesleur het.

Francis Venter (60), Madelein se ma, soek egter nog elke dag na haar dogter. Sy parkeer haar motor by Mayville Mall, sowat 4 km stroomaf van die laagwaterbrug en loop langs die Apiesrivier tot by die plek waar die motor se wrak gevind is. Vandaar loop sy tot by die laagwaterbrug en loop aan die ander kant van die rivier terug na Mayville Mall. As sy genoeg brandstof het, ry sy na die Bon Accorddam, waar sy verder gaan soek.

Francis Venter by die Bon Accorddam waar daar vir haar dogter gesoek is. Foto: Phillip Bruwer

Francis Venter by die Bon Accorddam waar daar vir haar dogter gesoek is. Foto: Phillip Bruwer

Venter was Vrydag baie emosioneel toe Maroela Media met haar gepraat het. “Dit gaan net slegter en slegter met my en dit voel asof ek ʼn senuwee-ineenstorting kry. Christo [Madelein se lewensmaat] staan sterk en neem leiding by die onderneming,” het sy gesê.

“Ek eet nie. Ek slaap nie en as ek slaap, kry ek nagmerries. Dit voel asof ek gaan knak. Ek kan nie meer nie, die onsekerheid maak my mal. Sonder enige teken van haar, bly ek hoop sy lewe nog. Ek hoop, glo en bid nog sy sal gekry word. Ek sal eers berusting kan vind of afskeid neem as sy of haar liggaam gevind word. Ek bid net vir enige teken van enigiets net om afsluiting te kry. Tot dan sal daar altyd ʼn stukkie hoop wees. My kind moet êrens wees.”

Adj. Jan Louw, koördineerder van die polisie se duikeenheid, het Vrydag aan Maroela Media gesê die soektog is intussen afgelas, maar hulle stuur wel beamptes uit as enige leidrade ontvang word. “Ons het twee weke gelede inligting van ʼn ooggetuie ontvang, wat moontlik iets in die dam gesien het. Ons het die Vrydag en Saterdag gesoek, maar kon niks kry nie,” het hy gesê.

Volgens Hanco het hy bestuur, toe ʼn fratsgolf die motor op die laagwaterbrug in Flowerstraat getref en in die rivier ingedruk het. Hy het haar verbete probeer red, maar die vloedwater het haar uit sy greep gespoel. Hy kon daarin slaag om sowat 1,5 km van die brug uit die vloedwater te kom en hulp by ʼn nabygeleë vulstasie te kry. Die motor se wrak is omstreeks 09:00 gevind, maar daar was geen teken van Madelein nie.

ʼn Volskaalse soektog deur die gemeenskap, Tshwane-nooddienste, die polisie se duikeenheid, honde-eenheid en soek-en-reddingseenheid, van so ver as Benoni en Bronkhorstspruit, is van stapel gestuur. Die polisie se lugvleuel was ook by die soektog betrokke.

Die soektog het in en langs die Apiesrivier plaasgevind oor ʼn gebied wat sowat 13km ver strek, van dié laagwater brug tot waar die rivier in die Bon Accorddam invloei en in die dam van 148 hektaar self.

Madelein is die eienaar van Scrap Zone Recyclers, ʼn skrootwerf in Pretoria se middestad. Sy is die ma van vier seuns en ʼn dogter tussen ses en 20 jaar oud.

Louw het gesê dit gebeur nie gereeld as iemand verdrink het, dat dit so lank neem om die liggaam te vind nie. “Maar dit gebeur wel. Dit hang van baie faktore af, soos die omvang van die soekgebied, die riviere en waarheen dit lei. Daar was al gevalle waar ons iemand gladnie kon opspoor nie. Daar is ander gevalle waar die persoon maande later eers gevind is. Enigiets is moontlik, maar ons wil nie bespiegel nie,” het hy gesê.

Lees alle vorige berigte oor Madelein Murray op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

elize ·

dit is so hartseer elke oggend as ek oor die apies rivier ry dan wonder ek of hulle haar al gekry het…dankie vir die “update” mag sy spoedig gevind word want ek dink dit is vreeslik vir die familie wat wonder waar is sy…glo mens sal berusting kry as sy opgespoor word…sterkte aan die familie

SANNA ·

IS SY REGTIG WEG? NIE DALK N OPSET NIE EK MEEN SO LANK GEEN HANDSAK GEEN PERSOONLIKE BELONGINGS VAN HAAR NIKS NIE BAIE VREEMD…… SORRY MY OPINIE

varkie ·

Regtig die was n frats ongeluk en ek sal die kind glo tot anders bewys kan word dalk het n krokkedil of barbers haar al opgevreet want van julle kom met letterlik beskuldegings dat die kind dalk sy ma kon vermoor het regtig

Alida ·

Ek begin ook dink iets is nie lekker nie. Die rivier het lankal gesak.

Kobus ·

Daar is slange oral…in die toilets en in die gras….ek begin dink die slang in die gras het met n polis of 2 te doen

Cheryl ·

Ja nee kyk ek het al begin wonder oor die waarheid toe hul geen teken van ha of ha besittings gekry het nie… Iewers is iets nie lekker nie. Varkie nerens se iemand iets van ha seun word beskuldig nie… Slang in die gras se ek ook.

Annie Botha ·

Mev. Francis Venter u verlies en onsekerheid oor u lieflingdogter gryp ons aan die hart. Weet dat u elke dag in ons gedagtes is en dat ons u daagliks in ons gebede opdra. Mag u krag en vertroosting ontvang, meer kon julle nie gedoen het nie.

Alida ·

Kobus die polis ding spook ook by my. Die versekerings maatskappye is nie dom nie.

Giffie ·

Sou haar ligaam gevind word sal ou sanna en varkkop natuurlik swyg ne? Gaan loop soek eerder vergewis jouself eers van die terrein die gebeure en dan as alle remediee uitgeput is dan fel jy n oordeel stilweg in jou binneste tot dan swyg want jy openbaar jou ongure karakter huidiglik.

YvonneL ·

Giffie, jy slaan die spyker op sy kop! Dis vir my skokkend hoe die “ongure karakters” hulle hande saamwring in afwagting op die moontlikheid dat hierdie ‘n bedrogspul is wat hulle met groot verontregting sal kan veroordeel, in plaas van ‘n menslike tragedie. Sekerlik lees die naasbestaandes hulle gissinge en verseker moet dit bydra tot hulle smart!

Kobus ·

Giffie….ek sal die eerste een wees wat sal erken dat ek verkeerd was met my kommentaar en vergifnis vra vir my onkunde….maar ek staan by my kommentaar totdat ek verkeerd bewys is….hoop uit my hart dat daar vinnig n antwoord vir die familie sal wees….want so n onsekerheid vreet mens op….tensy dit net oeverblinderry is om so op en af langs rivier en dam te loop….as ek reg verstaan is haar lewensmaat met die lopende besigheid betrokke….daar sal beslis vir Ma n geldjie wees vir brandstof…as hy self nie meer help met soektog…sterkte

Kobus ·

Giffie…my vorige kommentaar nie geplaas…dalk te kras gestel…maar se weer dat ek die eerste een sal wees wat verskoning sal vra as ek verkeerd is…maar staan by my kommentaar totdat ek verkeerd bewys is….

Dirk ·

Regtig varkie,krokkedil in die Apies rivier…Ek dink ook iets is nie lekker daar nie.

Isabel ·

Francis ek voel vir jou. Jy moet egter sterk bly. Dit help nie jy stort ineen nie. Wie gaan na jou kyk?

LS ·

Maroela Media hoekom is my kommentaar verwyder van Vrydag?
Ek kannie verstaan dat soveel van my kommentaar verwyder word nie, daar is absoluut NIKS gese wat lelik is nie !!! So baie mese kla oor kommentaar wat verwyder word en ek verstaan nou hulle problem.
Aan almal verder, daar is geen slang in die gras of ‘n polis of enige sulke SNERT wat julle UITDINK nie !!! Dis nie ‘n sepie waaroor julle kan bespiegel nie, dit gaan hier oor WERKLIKHEID !!!
Dit was ‘n baie tragiese ongeluk en ek wens hulle vind haar sodat die familie berusting kan vind. Sterkte aan familie !!!

Rbee ·

Madelein se 3 seuns het gister by die Apies rivier saam hul biologiese pa en stief ma afskeid geneem van haar. Ps Bert Murray het gesê hul gaan nou aan met hul lewens.

PTA ·

NO WAYS HOE OP AARDE KAN JY AFSKEID NEEM AS JY NIE N LYK HET NIE? EKS JAMMER MY SIEL SAL NIE RUS KRY TOT EK WEET SY LEWE EN IS IEWERS NIE OF DAARS N LYK NIE. AS SY REGTIG OORLEDE IS MOET HAAR LYK GEVIND WORD KAN NIE NET VERDWYN NIE

Hester ·

YVONNE EN GIFFIE ONS LEWE IN N SIEK WERELD ENIGE IETS IS MOONTLIK EN BAIE MENSE HET AL SULKE FRAUD SKANDES GEDOEN

Sjoe ·

Jene kan nie glo daar word ‘afskeid’ geneem SO gou en sy is nie eers gevind nie!! My man en kinders sê as dit ek was sou hulle nooit ophou soek het nie en dit sou baie lank gevat het voor hul daarmee sou vrede maak. En as my ma weg was sou ek nog aanhou soek het en nie so gou ‘afskeid’ geneem het nie. Stem saam met die wat sê daar ‘n slang innie gras!! Ai, mag sy gevind word vir ware berusting!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.