Pta-vloede: Soektog na ma duur voort

Madelein Murray (40). Foto: Verskaf

Madelein Murray (40). Foto: Verskaf

Die soektog duur voort na Madelein Murray (40), ʼn sakevrou en ma van vyf kinders, wat Vrydagoggend deur vloedwater in Pretoria meegesleur is.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het Maandag aan Maroela Media gesê hoewel die watervlak gedaal het, word die soektog bemoeilik deur die aantal opdrifsels langs die rivier en talle klippe, boomtakke en stompe in die water.

“Dit is ʼn moeilike soektog en die soekgeselskap moet kilometers ver in ongemaklike toestande soek. Soek- en reddingswerkers, die gemeenskap en die polisie se honde-eenheid fynkam die oewers van die Apiesrivier en die polisie se duikeenheid soek in die Bon Accorddam. Die soekgebied sterk oor sowat 13 km van die laagwaterbrug in Flowerstraat in Capital Park tot waar die rivier in die dam vloei, en dan die dam self,” het Pieterse gesê.

Heila du Preez, Madelein se skoonsuster, het Maandag aan Maroela Media gesê die familie soek sedert Vrydagoggend onverpoosd saam en hulle bly hoop dat sy gevind sal word. Du Preez en die familie het al tevergeefs talle hospitale in die omgewing besoek met die hoop dat iemand Madelein dalk gevind en daarheen geneem het. “Intussen kan ons maar net loop en saam soek,” het sy gesê.

Madelein is die eienaar van Scrap Zone Recyclers, ʼn skrootwerf in Pretoria se middestad. Sy is die ma van vier seuns en ʼn dogter tussen die ouderdomme van ses en 20.

Nooddienswerkers by die wrak van die motor in die Apiesrivier. Foto: Verskaf

Nooddienswerkers by die wrak van die motor in die Apiesrivier. Foto: Verskaf

Sy en haar oudste seun, Hanco (20), was in sy voertuig, ʼn Nissan Skyline, toe dit omstreeks 03:00 in vloedwater in die Apiesrivier beland het. Volgens Henco het hy bestuur toe ʼn fratsgolf die motor op die laagwaterbrug in Flowerstraat getref en in die rivier ingedruk het.

Hy het verbete probeer om haar te red maar die vloedwater het haar uit sy greep gespoel. Hy het ʼn ent van die brug self tot by die oewer gekom en hulp by vulstasie ontbied. Die motor se erg beskadigde wrak is omstreeks 09:00 gevind.

Volgens du Preez is die ondersteuning wat die familie van die gemeenskap ontvang hartroerend. “Hier is omtrent 50 mense wat al sedert Vrydag help soek na iemand wat hulle nie eens ken nie. Dit is fantasties om te sien dat mense nog omgee en hoe hulp uit alle oorde instroom. Daar is nog baie goeie mense daar buite,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

hoop en bid saam julle ·

Heila

Ons hoop en bid saam julle dat sy gevind word dat sy terug kan gaan na haar kinders.

Leonie ·

Sterkte aan die familie. Hoop hulle kry haar binnekort. So hartseer

Marisa ·

Sterkte vir almal betrokke. Henco, n spesiale gedagte aan jou… ek kan my net indink hoe desperaat jy moes geworstel het om jou moeder te red. Sterkte.

Liewe heksie ·

Ek het myself probeer help soek daar maar op n punt moes ek wit vlag hys ek haal my hoed af vir die mense wat so onvepoeës na haar help soek dit is baie erg soos die opdrifsels die soektog belemmer maar van daai mense gaan net aan en aan en dankbaar vir gemeenskap wat Drinkwater aanry hoop hul kry haar spoedig dit moet aaklig wees om te weet jou MA kan in daai water wees so baie sterkte aan die families en so ook aan die mense wat nogsteeds soek

Xenia ·

Sterkte aan al die familie, Hanco my seun ek weet dit is baie moeilik vir jou hou vas aan Jesus jy het n pragtige dogtertjie .Ons bid dat Jesus julle sal omvou met sy liefde en dat hulle jou mamma kry. Julle gaan nie handoek ingooi nie die Here sê nee dit is presies wat die vyand wil h ê. Julle is vegters en Jesus het julle baie lief

charmaine ·

Hierdie ramp was onnodig, hoe lank dreig die stadsraad om die brug en die pad reg te maak en te lig? Soveel motors en mense is op daardie pad weggevee, agv nalatigheid het nog n persoon en familie onder swak diens lei nou. Die stadsraad weet van die gevaar met swaar reen hoekom nie vroeer n plan van aksie in werking sit en die pad toemaak of waarskuwing tekens posit nie. Hierdie tragedie kon verhoed word. Ek kry hierdie mense vreeslik jammer

Marie ·

Ek wonder net of hulle al die voertuig uit die water gehaal het, as dit nie gedoen is nie is sy dalk vasgekeer onder die motor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.