Pta-vloede: Vermiste man se motor gevind

Leon Strydom se motor word uit die water getrek. Foto: EWN / Christa Eybers

Leon Strydom se motor word uit die water getrek. Foto: EWN / Christa Eybers

Die soektog na Leon Strydom (40), die man wat vermis geraak het nadat sy motor Donderdag deur vloedwater in die noorde van Pretoria meegesleur is, is Vrydagoggend hervat.

Maroela Media het Donderdag berig Strydom se motor is die oggend terwyl hy op pad werk toe was, op die R101 by Honingnestkrans deur die Apiesrivier meegesleur ná swaar reënval sedert Woensdag.

Reddingswerkers kon die motor van die oewer af sien, maar dit was onduidelik of daar iemand in die motor was omdat dit onder die water was. Daar is later vasgestel daar kan nie rekenskap gegee word van die bestuurder nie. Reddingswerkers kon weens erge reën, sterk strome en swak sigbaarheid, nie Donderdag by die motor uitkom nie.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het Vrydag aan Maroela Media gesê die reddingsproses is nou ʼn herwinning. “Die motor het Donderdag aanvanklik teen ʼn boom vasgesit en net toe polisieduikers by dit uitkom en daarin wou soek, het die motor losgekom en laer af teen ʼn brug beland. Die toestande was te gevaarlik om die motor te herwin en die herwinning is tot vandag uitgestel.”

Die motor is Vrydag omstreeks 10:30 deur ʼn trekker uit die water gehaal. Daar was niemand in die motor nie. “Soek- en reddingspanne gaan nou die oewers van die rivier in die omgewing begin fynkam na enige tekens van die man,” het hy gesê.

Bekommerde familielede van Strydom was Donderdag en Vrydag op die toneel.

Kapt. Riana van Aarde, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die soektog duur voort. “Polisieduikers en die honde-eenheid word by die soektog betrek. Die gebied tot om die Bon Accorddam sal gefynkam word,” het sy gesê.

Die Tshwane-nooddienste is sedert Dinsdag op ʼn hoëgereedheidsgrondslag geplaas nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens gewaarsku het swaar reënval kan moontlik kitsvloede in Pretoria veroorsaak.

Lees die opvolgberig hier: Man se liggaam gevind ná vloedwater kar meesleur

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gesiggie ·

Die arm man.. hoop dat hul hom gou sal kry en dat hy lewe..net jammer die redding werkers kon nie gouer daar uitkom… almal doen hul beste en as hul lewe in gevaar is, hoe nou anders.. Sterkte aan Leon se Gesin en Familie, mag jul gou nuus ontvang.

Trudie Erasmus ·

Ongelukkig slegte nuus. Hulle het sy lyk vêr onder af in die rivier gekry. So jammer. Het vrou en twee klein dogtertjies. Ons harte gaan uit na die familie in besonder sy broer wat dit nie kan hanteer nie.

Gesiggie ·

Trudie, dankie vir inligting, ag tog so jammer… My simpatie aan die vrou en 2 dogters, mag God jul vertroos in die moeilikke tyd. Sterkte

Fransie ·

Hoe vreeslik hartseer. Innige simpatie met familie. Net baie bly hulle het hom gekry – nou kan daar afskeid geneem word. Dink dit moet mens gek maak as mens nie die persoon kan opspoor en behoorlik afskeid neem nie. Baie sterkte vir sy vrou en kinders.

Hannelie ·

Ai dis so jammer. Baie sterkte aan sy vrou en 2 dogters en sy broer. Mag jul vertroosting kry.

Alki ·

Baie jammer om te hoor. ‘n jong man met ‘n belowende toekoms, mag sy naasbestaandes vertroosting vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.