Sers. Sam Shibambo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê vier mense is reeds in verband met die moord in hegtenis geneem.
Volgens Shibambo het ʼn huurder, wat ʼn kamer in die vrou se huis sou huur en gister sou intrek, vroeg die oggend met sy meubels by die huis in Makennalaan in Eersterust aangekom. Die hek was egter gesluit en daar was geen teken van die eienaar nie. Hy het by die bure navraag gedoen en by nadere ondersoek het hulle besef dat die veiligheidshek van die huis oopgebreek was.
“Die bure het die polisie ontbied en beamptes het in die huis ingegaan waar hulle die 76-jarige vrou se liggaam aangetref het,” het Shibambo gesê. “Sy het steekwonde aan haar liggaam gehad, maar die oorsaak van haar dood is nog nie amptelik bevestig nie.” Verskeie elektroniese items is uit die huis gesteel.
Shibambo het gesê die polisie het dadelik met hul ondersoek begin en kort daarna tweelingbroers en hul medepligtige, wat net ʼn paar huise van die slagoffer af woon, in hegtenis geneem. Later die middag is die vierde verdagte vasgetrek.
Volgens Shibambo sal die verdagtes Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en huisroof. Die oorledene se naam kon nie onmiddellik bekendgemaak word nie.
Oorhandig die skuldiges oor aan doe gemeenskap om met hulle gal te werk tot hulle tyd verby is
Die arme voornemende huurder. Skielik is sy lewe ook omvêr gewerp. Alles was gereël en heel moontlik het hy alreeds sy huurgeld of deposito of albei, alreeds betaal. Die lewe het ‘n manier om snaakse draaie met ‘n mens te loop.
Ek het op Google Earth gaan kyk na Makennalaan. Werklik ‘n netjiese straat.
Sterkte aan die fam. van die oorledene en mag die moordenaar(s) SWAAR gestraf word.