Pta-vrou sterk aan ná weermaglid haar glo skiet

Carine van Staden en Johan Harmse. Foto: Via Facebook

Carine van Staden (28) sterk in die hospitaal aan nadat sy verlede week voor haar verloofde glo deur ʼn weermaglid in die noorde van Pretoria geskiet is.

Carine se pa, Johan van Staden (53), het Maandag aan Maroela Media gesê Carine is steeds stabiel en vorder goed, maar sy word nog in die trauma-hoësorgeenheid van die George Mukhari-hospitaal behandel.

Sy is van ʼn kort afstand in haar linkerbors geskiet. Die koeël het haar hart skrams gemis. Dit is deur haar linkerlong en agter haar rug uit. Haar long het platgeval, maar verder is geen ander organe beskadig nie.

Maroela Media het vroeër berig Carine en haar verloofde, Johan Harmse (29), was Donderdag omstreeks 18:00 van Daspoort op Harmse se BMW-motorfiets op pad na vriende in Montana toe ʼn amptelike weermagvoertuig hulle naby Wonderboom Junction skrams getref het.

“Die voertuig, ʼn wit Audi, het weermagnommerplate gehad en ons het vasgestel die jong man wat dit bestuur het, is glo ʼn drywer vir een van die generaals,” het Van Staden vroeër gesê.

“Die man het die motorfiets se voetrus getref waarop Carine se voete was en hy het toe net weggejaag,” het hy gesê.

Harmse het ʼn Go Pro-kamera aan sy valhelm gehad, dit aangeskakel en die voertuig agterna gesit.

“Die verkeerslig by die hoek van Lavenderweg en Braam Pretoriusstraat was rooi en die man moes stilhou. Carine het afgeklim en hom genader om te hoor hoekom hy weggery het. Sy het nog haar valhelm aangehad, maar dit was oop en haar gesig was sigbaar. Hy het bloot net sy deur oopgemaak en ’n pistool reguit in haar bors gedruk en haar ten aanskoue van haar verloofde en ander motoriste geskiet.”

Die man het daarna glo ook sy vuurwapen op Harmse, wat nog op sy motorfiets was, gerig voordat die verkeerslig groen geword en hy weggery het.

Harmse en Van Staden is ná haar opname na die Sinoville-polisiestasie om die voorval aan te meld. Dit was sowat ʼn uur en ʼn half ná die voorval. Die weermaglid was toe reeds daar en het, aldus Van Staden, aangevoer hy het gedink Carine en haar verloofde wou sy voertuig kaap. Hy het egter nooit amptelik ʼn klag aanhangig gemaak nie.

Ao. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig aanvanklik is ʼn klag van die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn openbare gebied en roekelose en nalatige bestuur teen die man aanhangig gemaak voordat hy op waarskuwing vrygelaat is. Die saak is intussen na poging tot moord verander. Die man is nog nie in hegtenis geneem nie.

“Ons beskou hierdie saak as ernstig en dit word as ʼn hoë prioriteit hanteer. Die ondersoekspan werk onverpoos om die nodige bewyse en verklarings af te neem, waarna dit na die Nasionale Vervolgingsgesag verwys sal word om oor verdere stappe te besluit. Die video is intussen na die polisie se spesialis- tegnolgiese eenheid gestuur om die beeldmateriaal af te laai en as amptelike bewyse in te dien,” het Van Dyk gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Edward Shawe ·

As afgetreede weermaglid stel ek voor dat die geval by H Leer daar langs die Pretoria gevangenis aangemeld word. Vra om met intilegensie te praat. Hierdie geval is n geval van poging tot moord. Geen weermaglid is geregtig om sommer net n vuurwapen af te vuur nie. Daar is ook n code of conduct wat deur elke weermag lid moet nagekom word. Die code of conduct kan op google gevind word. SANDF Code of Conduct.

Amanda ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die man nog nie in hegtenis geneem is nie!!!

Jaques ·

Amanda, dit gaan my verstand te bowe dat die man in die eerste plek net aangekla is vir die afvuur van ‘n vuurwapen in openbare gebied en toe sommet net laat gaan is.
Kan iemand asb vir my verduidelik hoe de drummel die man nie onmiddelik aan gekla is vir poging tot moord nie.
Sjoe, my gedagtes bevat baie meer gekruide taal as wat ek nou hier gebruik het…

Andre C ·

Volgens die hoofberig het hy haar glo geskiet,is sy geskiet of nie is my vraag ?,indien wel hoekom word die word glo gebruik

Leslie ·

Most sê sy is ń baie dapper vrou om die onbekende persoon te ge – konfronteer het! !

Daleen ·

Daar gaan dadels van kom!!!!! Die weermaglid het homself mos beskerm, dis mos die nuwe SA

Mike Kaapstad ·

Dis hoekom ek nie army toe is nie , wil nie onskuldige mense skiet nie…………………..

Pieter ·

Die skuldige is nie wit nie dis hoekom hy nog nie toegesluit is nie.

annamabok ·

Ek hoop hulle het n afdruk van die video gemaak voordat hul dit ingegee het by sap

Chris Beets ·

As jule die bwaarheid wil weet gaan google Siener Van Rensburg en lees sy visioen.

johnny_walker ·

amen , die boer profeet se woorde word stadig maar seker waar , die vierkleur sal weer wapper , wag maar

DORIS ·

Dit is lagwekkend hoe die sake verwys word na die NVG. om besluite te neem na ernstige sake en dan hoor n mens niks meer nie ek dink dit is tyd dat hulle wakker moet skrik en aandag aan die sake gee en minder ernstige sake net te sluit want ons almal word mos betaal om ons werk te doen maar hier definitief nie die geval is nie.

ek hou van kaas bra ·

Wys die video sodat al die tuis kenners,ontleders en sleutelbord speurders kan kommentaar lewer. Tensy daar meer agter die storie steek as wat vertel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.