Pta-vrou van bromponie afgeslaan, beroof

clubview-misdaadChristine Jacobs (42), ʼn inwoner van Valhalla in Centurion, is Vrydagoggend op pad werk toe met ʼn stok van haar bromponie afgeslaan en beroof.

Christine se ma, Nelma Jacobs, het aan Maroela Media gesê Christine werk in Johannesburg as ʼn kliëntediensadministrasieklerk en maak weekliks van die Gautrein gebruik om heen en weer te pendel.

“Sy het gewoonlik ʼn saamrygeleentheid van ons huis tot by die stasie, maar die man saam met wie sy gewoonlik ry is vir ʼn week oorsee, so sy ry sedert verlede Vrydag met haar bromponie tot by die stasie,” het Nelma gesê.

Volgens Nelma het Christine net ná 05:00 by hul huis vertrek en is ʼn paar minute later in Endstraat in Clubview, tussen Leriba Lodge en die Ben Schoeman-snelwegbrug aangeval.

“Sy het ʼn man agter ʼn bos uit sien stap en aangeneem hy wil oor die straat loop. Sy het spoed verminder en toe sy verby hom ry het hy haar met ʼn groot stuk stok op haar keel geslaan. Sy het haar balans verloor en van die bromponie afgeval.”

Die man het haar rugsak van haar rug afgeruk en te voet in die rigting van die snelweg gevlug.

ʼn Motoris het kort daarna stilgehou en Christine bygestaan. “Sy het darem nie baie seergekry nie en die bromponie het ook nie te veel skade opgedoen nie. Die vrou het Christine terug op haar motorfiets gehelp en sy was in staat om tot hier te ry. Sy het omstreeks 06:30 in trane weer hier aangekom.”

Christine is na die ongevalle-eenheid van die Pretoria-Wes-hospitaal geneem aangesien sy nie ʼn mediese fonds het nie. Haar elmboog en enkel is beseer en sy ervaar baie pyn. Dokters vermoed sy het moontlik minstens een rib gebreek. Sy sal na verwagting Vrydag ontslaan word sodra X-strale geneem is.

Nelma het gesê Christine is erg getraumatiseerd.

Christine het die voorval by die Wierdabrug-polisiestasie aangemeld. Die rower is weg met haar beursie met bankkaarte, kos vir die dag en ʼn baadjie. Haar selfoon was in haar broeksak en is nie gesteel nie.

Braam Rossouw, voorsitter van die Wierdabrug-gemeenskappolisiëringsforum (GPF), het gesê die forum is van die voorval ingelig en het aangebied dat Christine berading ontvang.

DA-raadslid Ina Strydom het aan Maroela Media gesê die bebosde gebied naby die plek waar die voorval plaasgevind het, is ʼn probleemarea, veral ten opsigte van gryp-en-spaander-voorvalle.

“Daar trek van tyd tot tyd bosslapers daar in en plak daar. Die metropolisie se grondbesettingseenheid gaan op ʼn gereelde grondslag daar in om die mense te verwyder, veral as ʼn vlaag misdade aangemeld word. Ons het reeds met die metropolisie geskakel en beplan eersdaags weer ʼn operasie om die veld weer skoon te maak,” het Strydom gesê.

Rossouw en Strydom het ʼn beroep op die publiek gedoen om paraat te wees met die oog op verdagte optrede in die gebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Jane ·

Gaan niks weer van die rower hoor nie. Christine baie sterkte, hoop jy herstel gou van die aanranding en roof. Jammer daaroor.

rudi ·

Jip. Soos die polisie en howe versleg en tronke hotelle word so neem misdaad toe. n natuurlike proses. Afrika in aksie

Patrys ·

Elke dag wat ek dit koerant lees word ek net al hoe kwater. Mens voel so magteloos! Waar gaan dit eindig!! Sterkte Christine!

snoefie ·

maar n eie persoonlike fb woede-uitbarsting oor vuurwerke wat na my beskeie mening niks met kontras of lig te doen het nie, kan gou tot n internationale sirkus aangeblaas word. hoe uiters siek

marie van heerden woest ·

goeie middag .dankie dat julle ons op hoogte hou met die nuus.my ouers was aangeval op hul plaas.op 26 januarie.wil net dankie se dat hulle die aanval oorleef het.Die Here het hul beskerm.wil net dankie se aan die polisie en kliniek van Luckhoff ,koffiefontein en omgewing en boerebeskerming almal wat help om die arme oumense te help met die tramatiese gebeure.

Elma Maartens ·

Dit is skrikwekkend en ons dames wat alleen moet ry begin ‘n probleem word.

Johan Likkewaan ·

Hoe kook my bloed sommer nou. Toe ek twaalf jaar oud was, het twee ouens my so van my fiets afgeslaan en beroof op mespunt. Ek het weg gehardloop maar my fiets was gesteel.
As ek nou so iets lees onthou ek daardie dag, maar ek is nie meer twaalf nie en nou amper twee meter lank so sal baie daarvan hou om die ouens in die hande te kan kry. As ek ‘n vrou of kind is wat alleen moet ry sal ek maar bang wees in vandag se tyd, hulle word altyd ge teiken ai.

Nelma ·

Goeiemiddag, wil nt se dat my dogter ok is, gelukkig nt n ribfraktuur en verder is sy di ene blou kolle. Dankie vir die belangstelling

AmY ·

Hi Nelma: Baie dankbaar jou dogter is veilig. Baie sterkte vir julle xxx

Cherokee ·

Dankie vir die nuus en gerusstelling, Nelma. Sê vir haar ons sê hallo.

Ben ·

As ek weet my buurman se hond byt, dan bly ek buite die hek ! Ek gaan nie gebyt word en dan trek ons die hond se tande nie. Die raadslid weet van die probleme in die gebied.Die metropolisie weet van die probleem. Hulle gaan ruim eers op na VERAL NA n VLAAG MISDADE ! Hoe ironies ! Die vrou kon dood gewees het. Het mense vergeet dat daar iets bestaan soos PRO-AKTIEF! Word asseblief tog net so bietjie wakker en doen iets!

Nadia ·

Ina Strijdom is ‘n baie goeie vriendin van my en 1 van die min Ds raadslede wat iets doen in haar wyk. Gaan kyk gerus op haar profiel wat sy alles uitrig in Centurion. Sy is 1 vrou wat 10 se werk doen en rig so baie uit. As sy meer hulp gehad het sou sy meer kon doen. Sy kan nie orals op dieselfde tyd wees nie.

AmY ·

So gaan daai mense (nes ons) eendag rekenskap van hulle dade moet gee.

Wat moet ek glo ? ·

Die berig is maar baie swak geskryf. Eers word gemeld dat die dame nie baie seergekry het nie en later word weer gemeld dat haar enkel en elmboog seergekry het en moontlik ook `n rib gebreek het……alles in dieselfde berig !

André ·

Sy het nie baie seergekry nie en ervaar baie pyn. Ek het ook gewonder watter een dit nou is.

Isabel ·

Vader U wat regeer help ons asb. Ons word stelselmatig uit gemoor. Ons word beroof. Ons word aan gerand. Ons word verneder. Alles word van ons weg geneem. Asb neem U die wraak. Ek bid vir elke persoon wat op een of ander manier te na gekom is. In Jesus Naam. Amen.

J ·

Die vrou staan vroeg op om in Johannesburg te gaan werk. Dan word sy beroof oppad werk toe deur iemand wat te lui is om te werk .

Se ook maar net ·

Maak asb baie seker van jou feite voordat jy uit jou beurt praat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.