Pta-waterlikkewaan: ‘Ons het groot geskrik’

Die likkewaan nadat dit gered is. Foto: Verskaf

Die likkewaan nadat dit gered is. Foto: Verskaf

Die waterlikkewaan wat Dinsdag uit ʼn inwoner van Pretoria se swembad gered is, is gesond en sal binnekort in ʼn veilige omgewing vrygelaat word.

Craig Allenby, woordvoerder van die Nasionale Dieretuin, het Woensdag aan Maroela Media gesê die dieretuin se veeartse is tevrede met die likkewaan se toestand en is van mening dat hy reeds sterk genoeg is om vrygelaat te word en dat hy in die veld sal oorleef.

“Ons sal die nodige permitte na verwagting oor ʼn week hê waarna die reptiel vrygelaat gaan word,” het Allenby gesê.

Maroela Media het Dinsdag berig die likkewaan wat 1,5 m lank is en 4,5 kg weeg het groot opwinding veroorsaak toe hy te midde van ʼn hittegolf wat Pretoria getref het, in ʼn inwoner van Villeria in die Moot-gebied se swembad gaan swem het.

Die inwoner, Elize Tereblanche, het Woensdag aan Maroela Media gesê ʼn elektrisiën was omstreeks 10:00 buite die huis besig om herstelwerk te doen toe hy ʼn geraas by ʼn asdrom gehoor het.

“Dit was baie warm en die asdrom staan in ʼn koeltehoekie. Die elektrisiën het aanvanklik gedink dit is ʼn rot wat by asdrom doenig is, maar het gaan ondersoek instel toe die ding te erg tekere gaan.”

Toe die man die asdrom wegtrek, het die likkewaan weggeskarrel en oor ʼn 1,5 meter hoë betonmuur wat die swembad omhein, geklouter. Vandaar het hy eers agter bosse gaan skuil voordat hy skynbaar te warm gekry het en in die swembad gaan lafenis vind het.

Tereblanche het gesê hulle het aanvanklik groot geskrik en die heel eerste ding wat sy en haar ma gedoen het, was om hul klein hondjies na veiligheid te neem. “Al het ons geskrik was die likkewaan te mooi om leed aan te doen. My ma het hom dopgehou terwyl ek rondgebel het vir iemand om hom te kom red.”

Tereblanche het uiteindelik by Allenby uitgekom, wat gereël het dat ʼn beampte van die dieretuin die likkewaan gaan red het. Ná sowat ʼn uur en half was die likkewaan in die dieretuin se dierehospitaal. Daar was ʼn stuk tou om sy nek verstrengel. Die tou het ʼn groot letsel veroorsaak en was heel waarskynlik al ʼn geruime tyd om sy nek. Die tou het die likkewaan se hioïedbeen in sy nek beskadig.

Allenby het gesê daar word vermoed dat die likkewaan voorheen vasgebind was en losgebreek het. “Iemand het dit dalk vasgemaak om aan te hou as troeteldier, om die vleis te eet, of om dele van die likkewaan te gebruik vir tradisionele medisyne. Aangesien die vleis eetbaar is, is die mees waarskynlike rede dat die reptiel geëet of vir tradisionele medisyne gebruik sou word.”

Volgens Allenby kom waterlikkewane natuurlik in Pretoria voor, veral langs strome en riviere. “Hulle is glad nie geskikte troeteldiere nie weens hul temperamentele geaardheid. Dit is ook onwettig om dié likkewane as troeteldiere aan te hou aangesien hulle inheems is en geen inheemse wild in die land as troeteldiere aangehou mag word nie.”

Tereblanche het gesê hulle woon sowat ʼn blok van ʼn veld af waardeur ʼn klein spruit vloei. Haar gesin woon al vyf jaar daar en dit is die eerste keer dat hulle ʼn besoeker van só aard gekry het.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jef ·

Ek is baie bly dat die likkewaan okay is, nou gaan ons almal die LIKKEWAAN LOOP doen

Eliza-beth ·

Mnr Likkewaan, baie bly jy is okay. Gaan geniet jou vryheid en mag jy lank lewe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.