Publiek en sakelui pak kragreus in hof

Argieffoto: GCIS

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die sakeregtewaghond AfriSake het ’n gesamentlike hofaansoek teen Eskom gebring om die kragreus te verplig om die korrekte prosedures rakende die invordering van munisipale skuld te volg.

Dít ten einde eindverbruikers wie se kragrekeninge ten volle betaal is, te beskerm teen die onregmatige onderbreking van kragtoevoer.

Vertoë deur ’n reeks ander partye, hoofsaaklik sakeondernemings wat nadelig deur kragonderbrekings geraak word, is ook deur die Noord-Gautengse hooggeregshof aangehoor.

“Munisipale skuld aan Eskom het teen die einde van 2016 tot meer as R15 miljard toegeneem. Swak munisipale bestuur gaan daartoe lei dat hierdie bedrag slegs gaan toeneem. Krag wat direk aan verbruikers verkoop word kan ’n oplossing wees wat verseker dat Eskom geld invorder vir die krag wat hy lewer.

Astral Foods, een van die instansies wat ook deel is van die gesamentlike verrigtinge, het byvoorbeeld ’n skikking met Eskom bereik om elektrisiteit direk van die kragreus te bekom en sodoende die munisipaliteit as wanbetalende middelman uit te skakel,” sê Morné Mostert, hoof van plaaslike regeringsake by AfriForum.

Die hofaansoek het ten doel om Eskom te dwing om voorgeskrewe prosedures te volg voordat dit bloot munisipaliteite se krag afsny. In Januarie 2017 is ’n reeks munisipaliteite kennis gegee dat kragtoevoer aan hul distrikte gestaak gaan word weens wanbetaling. Dit sou onskuldige verbruikers, wie se rekeninge betaal is, in die donker gelaat het. Hoewel baie munisipaliteite terugbetalingsooreenkomste met Eskom gesluit het, bestaan die risiko steeds dat Eskom dieselfde taktiek kan inspan as daar weer wanbetalings sou wees.

Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake, meen sulke kragonderbrekings is nie net uiters nadelig vir die publiek nie, maar ook vir ondernemings wat in baie gevalle nie kan funksioneer as die krag af is nie.

“As hierdie toedrag van sake té lank voortduur, kan die finansiële skade wat dié ondernemings ly so groot wees dat ondernemings personeel moet afdank of hulle deure moet sluit. Die ekonomiese impak is dus verreikend, maar dit blyk dat Eskom nie die aard en omvang van die potensiële skade aan sakeondernemings in ag neem nie,” sê Greyling.

Uitspraak word voorbehou. Die hof sal in sy uitspraak duidelikheid gee oor hoe Eskom te werk mag gaan om skuld in te vorder, asook watter wetlike prosedures gevolg moet word voordat kragtoevoer aan munisipale distrikte weens wanbetaling afgesny mag word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jan ·

eskom is tebsng Jan publiek gaan n sent spaar as eskom direk aan elke gebruiker krag verkoop. onthou 4/5 kragkopers is wit. eskom kan die nedersettings patrolleer en onwettige konneksies dadelik verwyder en seker maandeliks 50% spaar. en nog werk skep ook.

marous ·

Eskom voel vere daarvoor want hulle weet dat hulle op een of ander manier hulle geld uit die geregistreerde eienaars gaan uitwurg. Die munisipale bestuur kom elke keer ongeskonde weg. Hulle verdwyn eenvoudig en skuif die las maar net oor na die eienaars , wie indien nie betaal se eiendom verkoop gaan word om vir die gemors pa te staan. Agterstallige munisipale rekenings het selfs preferensie bo verbandhouers. Alles deel van beplanning vir onteiening sonder vergoeding

CHRISTA ·

Ek weet nie, maar dit lyk vir my Ekurhuleni en “oortollige” elektrisiteit want ten minste 30% straatligte brand HEEL DAG!!! Dalk moet Eskom by Ekurhuleni kom krag koop en dit dan “verniet” weggee vir verbruikers (soos wat die ANC 23 jaar gelede beloof het – “free water, free electricity, free housing, free education, free medical services”)!!!

dirk ·

die beste is om jou krag aan te vul deur ander maniere . Dit is ook skandalig dat n dorp se krag afgesny word sodat hospitale sonder krag sit. die ironie – mense kry alles gratis en het lui geraak vir werk. maklik omgekoop deur anc beloftes wat nou platval

John ·

Eskom is ‘n pyn. Punt. Die lewe van almal in die land, buiten seker diegene in woongebiede waar die top-induna’s bly, is die afgelope paar jaar deur Eskom soms ondraaglik gemaak. En dit hou net nie op nie. Buiten vir kragonderbrekings het die prys van krag dramaties gestyg wat sekerlik veral die armes sleg tref. Om in koue winters met klein kindertjies in die koudste dele van ons land te moet oorleef met die swaard van Eskom oor hul kop… en hy voel vere…en dink net aan sy volgende verhoging/bonus en die nuwe atoomkragstasies om vreemde lande se ligte aan te hou. En wie moet daarvoor opdok, weer die arme siele wat reeds gebuk gaan onder sy dwase juk. Wat ‘n patetiese spul.

Frederik ·

In 2008, met Eksdom se beurtkrag, het omtrent die helfte van die melkboere in SA oorgeskakel na ander boerderyaktiwiteite, waar krag nie benodig word nie.

Andre ·

Eksdom gaan nog soos Telkom by die publiek kom soebat om asseblief sy krag te koop. Want ons is stilletjies besig om alternatiewe bronne van krag in te span om van Eksdom se dwang en uitbuiting ontslae te raak.

Bevry julle self!

Wek jou eie krag op! Sonkrag, windkrag, gas!

As groot groepe mense saamstaan kan hulle die voordeel van skaal benut deur grootmaat aankope te doen van songeysers, sonpanele ensovoorts.

Doen dit net!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.