Publiek gemaan om weg te bly van skeepswrak  

(Foto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die publiek gemaan om weg te bly van die Bos 400-skeepswrak by Maoribaai naby Houtbaai nadat hy vir die derde keer die afgelope maand ʼn reddingsoperasie van stapel moes stuur.

Lede van die NSRI se Bakoven- en Houtbaai-stasie is Saterdagmiddag na die skeepswrak ontbied ná berigte van ʼn verdrinking. By hul aankoms op die toneel is 12 jong volwassenes, glo studente van Stellenbosch, by die wrak aangetref.

ʼn Man is gered nadat hy glo na die wrak geswem en in die nood beland het. Hy het aan hipotermie gely en hy en vier vriende is met ʼn NSRI-vaartuig na die Houtbaai-stasie geneem. Hy het behandeling ontvang en is ontslaan. Die res van die groep het teen die berg opgestap en na hul voertuie teruggekeer.

Volgens die NSRI het die groep erken dat hulle na die wrak gegaan het om van die hyskraan in die see te spring. Die afgelope paar weke het ʼn jong man en ʼn jong vrou in afsonderlike voorvalle ernstige beserings opgedoen toe hulle van die wrak af in die see gespring het.

Die Bos 400 het in Junie 1994 gestrand en die NSRI het daarop gewys dat dit verbode is om die wrak te betree en dat dit ʼn ernstige gevaar vir die publiek inhou. Volgens die NSRI is dit ook uiters gevaarlik om in die see rondom die wrak te swem weens skerp metaal wat in die see gestort is.

(Foto: NSRI)

Dit blyk dat lede van die publiek die wrak al meer besoek nadat plasings daaroor op sosiale media gemaak is.

Die NSRI het ook ʼn beroep op toergidse gedoen om die gevare van die wrak aan besoekers uit te wys. Daar is kommer dat al meer bedrywighede rondom die wrak tot ʼn ernstige voorval kan lei. Waarskuwingsborde wat rondom die wrak aangebring is, het al begin verweer en is nie meer duidelik sigbaar nie.

Die wrak het oor die jare aansienlike skade opgedoen en ʼn deel van die hyskraan en die struktuur het in die see gestort. Metaalwrakstukke het weens stormtoestande op die rotse rondom Maoribaai beland.

Die NSRI meen dis net ʼn kwessie van tyd voordat nog dele van die hyskraan en struktuur ineenstort en dat dit ʼn uiters gevaarlike omgewing sal skep vir niksvermoedende lede van die publiek.

Die terrein bemoeilik ook reddingsoperasies en die NSRI meen die wrak moet ten alle koste vermy word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Fedup ·

So to start removing this ship wreckage is such hard work?
27 Years later and that wreckage is just as bad an eye sore as the country it is in.
Pathetic.
People are curious by nature.
As long as that ghost lie there stranded , people will go there.

Samuel ·

Have you ever been involved in the removal of a ship wreck? It is in anyway not in the shipping lane(s).

Wielspore ·

Hipotermie het eintliks niks te doen met die skeepwrak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.