Publiek genooi om Johnny Clegg finaal te groet

Johnny Clegg het die skare op hul voete gehad tydens dié konsert by die Durban-uitstallingsentrum in 2005. (Foto: Shelley Kjonstad)

Die publiek word genooi na die gedenkdiens vir die legendariese sanger Johnny Clegg wat die afgelope week in die ouderdom van 66 gesterf het.

Clegg is Dinsdag by sy huis in Johannesburg dood. Hy het pankreaskanker gehad.

Clegg se familie het bekendgemaak ʼn gedenkdiens sal Vrydag om 12:30 in die Sandton Konvensiesentrum in Johannesburg gehou word. Die publiek word genooi om die diens by te woon.

“Toegang tot die gedenkdiens is gratis, maar om ʼn sitplek te reserveer moet jou kaartjie van vandag [Sondag 21 Julie] by enige Computicket-kiosk of afsetpunt afgehaal word. Daar sal ook ʼn ongereserveerde staande area wees,” lui ʼn verklaring.

Die gedenkdiens bied ʼn geleentheid vir Clegg se aanhangers van reg oor die wêreld om hom finaal te groet en aan hom eer te betoon. Die sanger is reeds Woensdag tydens ʼn private seremonie in Johannesburg ter ruste gelê.

Clegg se familie het mense wat graag blomme wil stuur of na die gedenkdiens wil bring versoek om eerder donasies aan The Click Foundation te maak deur die Friends of Johnny Clegg-veldtog.

Clegg was ʼn sanger en liedjieskrywer wat as baanbrekermusikant gesien is omdat hy deur sy musiek ʼn brug oor rassegrense gebou het. Hy was bekend daarvoor dat hy Engelse lirieke met Westerse melodieë en Zoeloe- musikale strukture gekombineer het, en musiek saam met musikante van ander rasse gemaak het. Tydens die apartheidsjare is musiek van groepe van gemengde rasse nog deur radio’s gesensor en dié groepe verbied om in openbare plekke op te tree.

Clegg het in sy loopbaan van vier dekades meer as vyf miljoen albums verkoop en met talle internasionale kunstenaars en organisasies saamgewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Osie ·

Great idee om ‘n Legend te groet! as trotse Afrikaner sal ek graag dit wil bywoon

‘n Legende ·

Osie ek stem saam met jou. Hy was, is en sal altyd die grootste SA sanger ooit wees. RIP.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.