Publiek genooi om sê te sê oor fluitjieblaser-wetgewing

Argieffoto (Foto: jacqueline macou/Pixabay)

Die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling se aanbevelings oor die hersiening van wetgewing rondom fluitjieblasers is beskikbaar gemaak vir openbare kommentaar.

Die aanbevelings is gebaseer op deeglike navorsing en vergelykende analise van fluitjieblaserstelsels in lande soos die VSA, die Verenigde Koninkryk, Nieu-Seeland, Kanada en Australië.

Minister Ronald Lamola het ook fluitjieblaserstelsels in vyf Afrikalande – Uganda, Namibië, Kenia, Tanzanië en Ghana – in ag geneem om ʼn omvattende evaluasie te verseker.

“Die keuse van dié lande was strategies divers en het ons in staat gestel om die universele aspekte van die fluitjieblaser-verskynsel omvattend te verken.”

Die navorsing en aanbevelings volg ná pres. Cyril Ramaphosa se reaksie op 24 Oktober 2022 op die Kommissie van Ondersoek na Bewerings van Staatskaping, Korrupsie en Bedrog in die staatsdiens.

“Die kommissie het fluitjieblasery as ʼn noodsaaklike wapen geïdentifiseer in die stryd teen korrupsie,” het die president gesê. “Die optrede van fluitjieblasers het ʼn noodsaaklike rol gespeel om talle aktiwiteite te onthul wat deel was van staatskaping. Fluitjieblasers moet aangemoedig word om gevalle van bedrog en korrupsie aan te meld en moet beskerm word teen viktimisering, vooroordeel en gevaar.”

Die departement van justisie hersien die Wet op Beskermde Openbaarmaking en die Wet op Getuiebeskerming.

Die dokument dek fluitjieblasers en getuiebeskerming en die studie het ten doel gehad om huidige wetgewing te hersien sodat enige leemtes of tekortkominge in die stelsel getakel kan word.

Dit word verdeel in drie dele – die ondersoek van die wetsraamwerk, prosedures en praktyke en hulpbronne wat beskikbaar is om fluitjieblasers te ondersteun.

Lamola sê streng wetgewing is nodig om fluitjieblasers te beskerm om burgers en instansies teen korrupsie te beskerm.

“Met die vermoë om na vore te kom en gevalle by hul werkgewer, owerhede of die burgerlike samelewing aan te meld, word individue bemagtig om moontlike korrupsie te voorkom of dit te onthul,” voeg Lamola by. “Deur ʼn kultuur van deursigtigheid en aanspreeklikheid kan ons ʼn beter toekoms vir almal bou.”

Die dokument is hier beskikbaar: https://www.justice.gov.za/legislation/invitations/invites.htm

Die sperdatum om kommentaar te lewer is 15 Augustus 2023.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan Tredoux ·

Pasop. Hulle soek jul opinie oor fluitjieblaser wetgewing sodat hulle die fluitjieblasers kan uitken.

Delia ·

Fluitjieblasers in NZ???
Kyk eerste na fluitjieblasers se veiligheid!!!

Johan Botha ·

Mense wat hulle skuldig maak aan korrupsie en diefstal van staatsgeld en eiendom is landsverraaiers. As iemand weet van sodanige misdrywe en dit nie aanmeld nie,is dié persoon OOK skuldig aan die misdryf en moet saam met die skuldige aan die pen ry.
Die sake van staatskaping en korrupsie van ANC regeringsamptenare, wat reeds bewys is deur die gekose kommissie, word nie opgevolg nie. Dit plaas die verantwoordelike amptenare, vir die gebrek aan vervolging van aangeklaagdes, in dieselfde katagorie as die geïmpliseerde misdadigers.

domheks ·

CR sal eerste toegesluit moet word! Hy weet van staatskapers en doen NIKS daaromtrent nie! Hoekom moet ons miljarde rande betaal aan Zondo kommissie en dan doen hy niks!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.