Publiek gevra om insae op wetsontwerpe te gee

(Argieffoto)

Action Society en Dear South Africa (DearSA) het ʼn vennootskap gesluit om die publiek se insae oor die wysiging van wetgewing rakende geslagsgebaseerde geweld in te vorder.

Suid-Afrikaners het tot 9 Oktober tyd om insae te gee.

“Om die deelnameproses te vergemaklik het ons besluit om kragte saam te snoer. Dit is ʼn belangrike geleentheid om ʼn verskil aan die geskiedenis van Suid-Afrika te maak. Ons wil daarom die publiek aanmoedig om aan die eenvoudige proses deel te neem,” sê Daleen Gouws, woordvoerder van Action Society.

Action Society het vroeër die maand president Cyril Ramaphosa se aankondiging verwelkom dat drie wette wat geslagsgebaseerde geweld raak, gewysig sal word. Aanpassings wat beplan word,  is onder meer dat verkragters van vroue se name by die nasionale register vir seksoortreders (NRSO) gevoeg sal word. Die register sal ook oop vir die publiek wees en die name van seksoortreders sal vir ’n langer periode op die register gehou word.

“Hierdie saak lê ons baie na aan die hart. Ons baklei al ʼn geruime tyd hiervoor. Vir ons is dit ʼn klein ligpunt aan die einde van ʼn donker tonnel; dit is egter nie die einde nie.

“Ons sal graag wil toesien dat hierdie voorstelle werklik geïmplementeer en afgedwing word sodat dit ʼn positiewe uitkoms betreffende die hoë voorkoms van seksmisdade teen vrouens en kinders sal hê.”

Vir te lank het skuiwergate in wetgewing veroorsaak dat seksoortreders gewetenloos kon aas op kwesbare vrouens en kinders, sê Gouws.

Action Society doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om ’n stem vir dié stemloses te wees en hul kommentaar digitaal op DearSA se webwerf in te dien.

“Ons moedig dus almal aan om hierdie konsepwysigings te help ontwikkel voordat die wet onderteken word. U insette kan aanlyn gelewer word deur www.dearsouthafrica.co.za/gbv/ te besoek,” sê Rob Hutchinson, besturende direkteur van DearSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries ·

Doodstraf doodstraf is die enigste oplossing. Wie gaan hulself nou steur aan n lysie waarop sy naam kom

Flip ·

Gee hulle almal lewenslank tronkstraf. O gaats cyril, jy het nie genoeg tronke nie….

Adeline ·

Wat van die HAAT moord en geweld MISDAAD op die Suid-Afrikaanse BOERE NASIE??????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.