Publiek gewaarsku oor tender-slenter

Argieffoto

Die Moses Kotane-munisipaliteit in Noordwes het Donderdag die publiek gewaarsku om nie slagoffers te word van ʼn slenter wat glo onder ʼn munisipale raadslid se naam bedryf word nie.

Volgens Beauty Makganye, woordvoerder van die munisipaliteit, het dit onlangs onder die plaaslike owerhede se aandag gekom dat daar ʼn persoon is wat homself voordoen as raadslid Lucky Moate. “Daar word beweer dié skurk verkoop munisipale tenders vir R20 000 en eis telkens ʼn deposito van R5 000 van sy onskuldige slagoffers,” het Makganye gesê.

Sy het gesê Moate het bewus geword van die slenter toe mense wat hy ken hom genader het en gevra het oor die tenders wat verkoop word.

Die bedrieër is veral in die Mogwase- en Lerome-gebiede bedrywig. Dit is nog nie bekend hoeveel mense al deur hom bedrieg is nie.

“Die munisipaliteit wil dit duidelik maak dat die bestuursprosesse van goedere- en dienstevloei in lyn met die munisipaliteit se beleide gevolg word en dat raadslede nie aan hierdie prosesse, insluitend tenders, deelneem nie,” het sy gesê.

“Die speaker veroordeel die ongegronde bewerings [teen Moate] ten sterkste en moedig enige persoon aan wat inligting oor hierdie bedrogspul het om die voorvalle by die polisie aan te meld. Die gemeenskap word ook aangemoedig om nie by kriminele aktiwiteite betrokke te raak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dissie ·

Briljant! Maak geld uit “onskuldige slagoffers!” LMGA!!

AttieNo1 ·

Ons kort nog ‘n 1000 van die bedrieër se soort. Staatsamptenare moet ten alle tye bang wees dit is ‘n slenter. Lol

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.