Publiek gewaarsku oor tronkposte-slenter

Argieffoto

Argieffoto

Zach Modise, nasionale kommissaris van die departement van korrektiewe dienste, het die publiek gewaarsku teen ʼn slenter oor beskikbare poste by die departement.

ʼn Aantal werksoekers is glo bedrieg deur beloftes van poste en leierskapsgeleenthede by die departement van korrektiewe dienste wat nie bestaan nie. “Die oortreders het van sosialemediaplatforms gebruik gemaak om die poste te bemark,” het Modise in ʼn verklaring gesê.

Hy doen ʼn beroep op die publiek om met wetstoepassingsagentskappe te werk wat tans ondersoek instel na dié “misleidende advertensies en ander verwante onwettige en kriminele dade”.

Die bedrieërs het glo ʼn administrasiefooi van R150 gehef om poste in die departement te verseker.

“Daar is geen koste aan verbonde om aansoek te doen vir poste in die departement van korrektiewe dienste of enige ander staatsdepartement nie,” het Modise gesê. “Dit is onwettig om geld te vra. Wetgewing vereis ook van enige persoon wat inligting het oor korrupte en bedrieglike aktiwiteite om dit dadelik by die owerhede aan te meld.”

Die persone wie se name in die valse advertensies genoem word, is nie op die databasis van korrektiewe beamptes nie en is onbekend aan die departement.

“Soortgelyke voorvalle kan by die departement van menslike hulpbronne aangemeld word by 012 305 2000 om ʼn bydrae te lewer tot die bestaande ondersoek, of meld die saak aan by 0800 701 701,” het hy bygevoeg.

Modise het gesê enige vakante poste of ander geleenthede word deur hoofstroommedia of die departement se eie webwerf en interne e-poskennisgewings bemark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lance ·

Ag wie wil nou eintlik daar werk wonder ek …hou maar die poste al is dit n slenter

Johann Marx ·

Lance, waarvan praat jy? Ek sal mal wees oor ‘n job daar……Jy doen die absolute minimum vir die absolute maksimum, sonder enige ervaring of bewese opleiding. Niemand kyk eers of jy ‘n kriminele rekord het voordat jy aangestel word nie, solank jy net instem om ‘n % van jou inkomste oor te betaal aan die aansteller…..is jou toekoms verseker.

Buitestander ·

Ja, as jy groot word met omkopery glo jy jy kan niks bekom sonder om kopery nie.

Lance ·

Dis baie waar wat jy se en ek stem so saam met dit maar dis nie hoe ons grootgemaak was nie en ek weet jy ook nie …maar jy raak verseker die regte punte aan…sou hou maar die jobs slenter if nie

christine ·

So waar onthou nog hoe ou Trueman Prins die bugermeeester van Beaufort Wes word hoe hy gese het hy gaan die pad deur n tollpad maak, nooit gedink hy sal n alternatiewe pad moet he nie. Nou kan jy nie eers op daai pad loop nie dan kry jy n spoedboete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.