Publiek glo mislei oor 1 017 polisielede se afdanking

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Die polisievakbond Sapu het Vrydag gesê die publiek word mislei oor die afdanking van meer as 1 000 polisiebeamptes.

“Dit is onaanvaarbaar dat die minister [Nathi Mthethwa] en nasionale polisiekommissaris [Riah Phiyega] die publiek tot so mate kan mislei,” het Oscar Skommere, uitvoerende hoof van die vakbond, in ʼn verklaring gesê.

Mthethwa het Donderdag bekend gemaak dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) besig is om 1 017 polisiebeamptes te verwyder, nadat ʼn oudit bepaal het dat 1 448 polisiebeamptes kriminele rekords het. “Die korrekte regs- en arbeidsprosesse is gevolg en daar is vasgestel dat 1 017 polisiebeamptes nie geskik is om die amp te beklee nie,” het David Barritt, woordvoerder van die polisie, gesê. Klik hier om meer te lees.

Skommere sê die vakbond trek die integriteit en akkuraatheid van die “sogenaamde ouditproses” in twyfel. Hy sê die kriminele rekords is ver verwyder van die waarheid. “Van hierdie sogenaamde kriminele rekords dateer al van 40 jaar gelede,” het hy gesê. “Van die ander is kleiner misdade soos verkeersoortredings waar die beampte ʼn boete ter erkenning van skuld betaal het.”

Skommere sê die leierskap en bestuur van die polisie moet nie die publiek mislei om goedkoop politieke punte in te win voor die nasionale verkiesing nie. Hy benadruk dit dat die vakbond geensins kriminele gedrag deur sy lede goedkeur nie. “Die reg moet sy gang gaan. Niemand is bo die wet verhewe nie, insluitend polisiebeamptes,” het hy bygevoeg. -SAPA

Lees ook:
Polisie gaan 1 017 afdank oor misdaad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tiaan Dippenaar ·

As jy ‘n kriminele rekord het moet jy in die eerste plek nie die geleentheid kry om by die SAPD te gaan werk nie, want jy is self ‘n krimineel. As jy die kriminele rekord gekry het toe jy alreeds in diens was van die SAPD moes jy summier afgedank geword het. Dit verbaas my dat daar 1400 polisie beamptes met kriminele rekords sit. Wie moe ons dan vertrou as iemand ‘n misdaad pleeg as ons nie die polisie kan bel nie? Nie almal het geld vir ADT of Chubb nie. Die SAPD moet hulle eendjies in ‘n ry kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.