Publiek help om Muizenberg-verdagtes aan te keer

Foto verskaf deur SAPD Wes-Kaap

Twee verdagtes is onder polisiebewaking in die hospitaal ná hulle Vrydag glo verskeie misdade gepleeg het.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, sê polisieberigte dui daarop dat twee gewapende mans Vrydagoggend by ʼn huis in Muizenberg ingebreek het. Hulle het die 82-jarige vrou, die eienaar van die huis, vasgebind en verskeie items gebuit voor hulle van die toneel gevlug het.

“ʼn Paar meter van die eerste toneel het die vlugtende verdagtes nóg ʼn persoon van ʼn selfoon beroof. Toe hulle by Mainweg in St James aangekom het, het hulle gepoog om ʼn motor, wat deur ʼn vrou bestuur is, te kaap,” het sy gesê. “Toe lede van die publiek wou ingryp, het hulle hul aandag op nog ʼn voertuig gespits. Dié bestuurder wou ook die vrou in die eerste motor help. ʼn Derde voertuig het in die deur van die tweede voertuig vasgery en een van die verdagtes omgestamp. Hy het ernstige beserings opgedoen.”

Die tweede verdagte het van die toneel gevlug en ʼn vuurwapen in ʼn bos laat val.

“Die Muizenberg-polisie het vinnig reageer en ʼn man opgemerk wat pas by die beskrywing van een van die verdagtes. Hulle het hom agternagesit en in hegtenis geneem.”

Die man het, terwyl hy gevlug het, geval en ʼn kopbesering opgedoen. Hy is ná sy inhegtenisneming ook na ʼn hospitaal geneem.

In die tweede motor wat die verdagtes wou kaap, het die polisie verskeie items gevind wat uit die huis van die 82-jarige vrou gesteel is. Dit sluit juwele, buitelandse valuta, ʼn selfoon en vuurwapen in.

“Polisiebeamptes het Vrydagmiddag ook die vuurwapen gevind wat in die nabygeleë bosse gegooi is deur die tweede verdagte wat van die toneel gevlug het.”

Potelwa sê die lede van die publiek, wat die slagoffers bygestaan en die polisie gehelp het om die verdagtes aan te keer, word geloof vir hul optrede.

Die twee verdagtes, een in sy vroeë 20’s en die ander in sy 30’s, staan tereg op aanklag van huisroof, die rig van ʼn vuurwapen, gewapende roof en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Hulle sal in die hof verskyn sodra hulle uit die hospitaal ontslaan word.

“Die polisie het ook bevind dat die verdagtes bande het met bendes. Die moontlikheid dat die verdagtes aan ander misdade verbind kan word terwyl die ondersoek ontvou, word nie uitgesluit nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

EnoughSaid ·

Tyd dat anargie permanent hok geslaan word en as die regstelsel dit nie mag doen nie gaan daar (binnekort) n dag aanbreek wat alle gemeenskappe gaan sê “genoeg is nou GENOEG!!”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.