Publiek kan ‘uitgehongerde perde’ nou aanneem

Foto: NDBV

Lede van die publiek kan nou perde aanneem wat uitgeteer by ʼn fasiliteit in Potchefstroom aangetref is en waarvan die DBV intussen eienaarskap geneem het.

Ná ernstige kommer oor die welvaart van die perde van die Suid-Afrikaanse Leër, is eienaarskap van 69 perde uiteindelik aan die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (DBV) toegestaan, het die DBV in ʼn verklaring gesê.

Die perde is in April 2018 uitgehonger aangetref terwyl hulle in die sorg van die Suid-Afrikaanse Leër se spesiale infanterie-eenheid (SAASIC) by die Potchefstroom-basis van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag was. Die SAASIC-eenheid het versuim om voer aan te skaf om vir die perde te sorg. Hulle is dus gedwing om grond en hul eie mis te eet en hul toestand het verder verslag. Altesaam 25 perde moes van kant gemaak word as gevolg van hul toestand.

“Drie maande het verloop en met voortgesette kommunikasie kon die DBV uiteindelik 69 perde van die Suid-Afrikaanse Leër verwyder,” aldus die verklaring.

Die DBV het op 23 en 24 Julie 2018, met behulp van New Turf Carriers, die 69 perde van Potchefstroom na ʼn groot plaas in Gauteng geskuif waar hulle versorg sal word. “Die oplaai en vervoer van die perde het glad verloop en hulle is afgelaai in ʼn pragtige, groot oop gebied wat heeltemal anders is as die barre omgewing waarvandaan hulle kom. Die plaas het ʼn groot ruimte waar die perde vry kan rondhardloop en natuurlik kan wei, asook stalle, skadubome en groot spasies waar die perde sonskyn kan geniet. Daar is genoeg waterbronne waar die perde sal kan afkoel. Dit is ʼn omgewing waar die perde fisies en geestelik versorg sal word.”

Foto: NDBV

Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van die DBV, het gesê dit was ʼn emosionele belewenis om te sien hoe die perde van die vragmotor afklim en hulself vertroud gemaak het met hul nuwe omgewing. “Mens kon die verligting sien hoe hulle tree vir tree besef het hulle is in ʼn plek van veiligheid, ʼn plek waar hulle vry sal wees en versorg sal word. Die beste oomblik was toe hulle in die water begin speel het en in die gras gerol het, asof hulle hul vryheid wou erken.”

Sy het gesê die DBV waardeer New Turf Carriers vir hul bystand om die perde te vervoer; Meadow Feeds, ʼn filiaal van Astral, wat voer verskaf het en die mense wat die versorging en vesting van die perde sal hanteer. “Sonder hierdie ondersteuning, op só kort kennisgewing, sou dit nie moontlik gewees het nie.”

Die perde is wild en het nog nooit menslike aanraking geken nie. Nie al die perde is in ʼn goeie toestand nie. “Die tipe sorg, insluitend veeartsenysorg wat hulle vereis, is baie duur en ʼn groot las op ons reeds beperkte hulpbronne. As lede van die publiek ʼn bydrae wil lewer vir die versorging van hierdie perde kan hulle dit op die DBV se webwerf doen met die verwysing ‘Army Horses’.”

Enigiemand wat belangstel in aanneming kan ʼn e-pos stuur aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Helene

Wat ‘n skreiende skande!! Hoe het Suid-Afrika nie verval in die rommelstatus-land wat dit tans is nie. Dankie ANC en Kie!!

Alida

Dit is wonderlik. Baie dankie.

Ella

Iemand moet aangekla word van diereverwaarlosing en talle ander oortredings van wette.
Party mense is bo die wet verhewe maar hier behoort ernstig opgetree te word.
Dankbaar dat die perde gered kon word en hartseer oor die vir wie dit te laat was.

Boer-in-die-wind

Mmmmm, volgens die DBV gaan hulle die skuldiges vervolg. Dit is al drie maande later – ek het nog niks gehoor nie?

Frans

Die REGERING, asook die WEERMAG, wat EINTLIK bedoel is om die publiek te beskerm, is nie óf kan nie eens sy eie diere beskerm nie. Wat nog van die beskerming van SA se mense? Hoeveel bewyse het SA se mense nodig voordat die besef deurdring dat die REGERING geensins belangstel in die wel en weë van SA se mense nie? Hoe LAAG en ONBETROKKE kan ‘n regering daal dat diere en mense nie eens beskerm of versorg word nie. En dan wil die regering “glo” dat SA se mense op die regering moet vertrou vir leiding en beskerming? Hoeveel misleiding… Lees meer »