Die Renoster-en-leeu-natuurreservaat in die Wieg van die Mensdom by Maropeng in Gauteng het Maandag aangekondig dat die publiek voortaan nie meer leeuwelpies by dié reservaat mag vryf nie.
Die reservaat het in ʼn verklaring gesê hoewel hy die afgelope 30 jaar sy liefde vir diere met die publiek gedeel het, het dinge egter onder die bestuur van nuwe eienaars verander.
“Tye het verander. Onder die nuwe eienaarskap van die Bothongo-groep sal die reservaat nou op die welstand van diere fokus,” lui die verklaring.
Jessica Khupe, die reservaat se handelsmerkbestuurder, het verduidelik dat die nuwe bestuur bewus is daarvan dat dít wat in 1990 aanvaarbaar was toe die reservaat destyds vir die eerste keer geopen het, moontlik nie meer in 2019 aanvaarbaar is nie.
“Mense wou nog altyd naby aan wilde diere kom. Hoewel dit te verstane is, het studies getoon dat dit egter nie goed is vir die welstand van die diere is nie.”
Khupe het die publiek wat moontlik ongelukkig gaan wees oor die besluit verseker dat dit “die regte ding is om te doen”.
“As diereliefhebbers verstaan ons hoe charismaties die natuurlewe van Afrika is. Maar die waarheid is dat ons liefde vir diere hulle egter onbewustelik kan benadeel, al is dit nie ons bedoeling nie,” lui die verklaring.
Volgens Mike Flynn, bedryfshoof by die reservaat, is die teel van welpies met die hoofdoel die publiek se aanraking nie net nadelig vir die diere nie, maar ook nie ʼn winsgewende sakemodel nie.
“Van nou af fokus ons daarop om die publiek in te lig oor die natuurlewe en die belang van bewaring. Dit is waarom ons met onmiddellike effek kies om ʼn einde te maak aan die vryf van welpies en hoop dat ander fasiliteite [ons voorbeeld] sal volg.”
Die reservaat het ook reeds ʼn driejaarplan van stapel gestuur om al sy fasiliteite op te knap met die welstand van diere in gedagte.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
24 Kommentare
Stem 100% saam met die besluit!
Die beste besluit wat hulle kon doen
Dit is wonderlike nuus! Hoop alle soortgelyke plekke volg julle!!
Goeie besluit! Respek en waardigheid vir diere in aanhouding. Hoop van harte ander volg die voorbeeld.
mooi so julle