Publiek oor feestyd-slenters gewaarsku

Argieffoto

Argieffoto

Die owerhede het waarskuwings aan die publiek uitgereik oor verskeie slenters wat nou weer die ronde doen en poog om niksvermoedende mense te mislei om persoonlike inligting te verskaf of onregmatige betalings te maak.

Stats SA het Woensdag gewaarsku dat hy bewus geraak het van mense wat hulle as beamptes van Stats SA voordoen en lede van die publiek bel om aan ʼn kamtige navorsingsopname deel te neem. Hulle word dan gevra om persoonlike inligting soos identiteitsnommers te verskaf.

“Stats SA doen wel soms telefoniese meningsopnames as deel van sakenavorsing, maar Stats SA doen geen huishouding-gebaseerde opnames oor die telefoon nie. Respondente se identiteitsnommers word ook nooit gevra as deel van opnames nie,” het Stats SA in ʼn verklaring gesê.

Die organisasie het die publiek gewaarsku om geen persoonlike inligting oor die telefoon te verskaf nie. Mense kan ook Stats SA nader om die identiteit van ʼn Stats SA-veldwerker te bevestig.

Intussen het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ook Woensdag ʼn waarskuwing aan belastingbetalers en korporatiewe organisasies uitgereik om op die uitkyk te wees vir valse e-posse en kennisgewings wat uitgestuur word.

Die inkomstediens het in ʼn verklaring gesê die SAID se logo word onregmatig op e-posse en kennisgewings gebruik waarin die ontvangers gevra word om betalings aan SAID te maak of hul persoonlike inligting en bankbesonderhede te bevestig.

Volgens SAID ontvang banke ook kennisgewings van derdeparty-aanstellings waarin daar versoek word dat geld van ʼn maatskappy se rekening afgetrek en in ʼn derde party se rekening inbetaal word. Van hierdie kennisgewings behels miljoene rande, het die inkomstediens gesê.

“Die SAID sal nooit belastingbetalers vra om betalings in derdeparty-rekeninge te maak nie. Alle wettige kennisgewings versoek dat betalings deur ʼn spesifieke SAID-betalingskanaal gemaak word en hierdie bankbesonderhede kan by SAID se inbelsentrum of enige tak geverifieer word.”

Die SAID het ʼn beroep op die publiek gedoen om geen betalings te maak of enige persoonlike inligting te verskaf voordat die wetlikheid en oorsprong van ʼn e-pos of kennisgewing eers by die SAID geverifieer is nie. Die publiek word ook aangemoedig om slegs van geregistreerde belastingpraktisyns gebruik te maak.

Nog valse inligting wat via die internet versprei word, is dat alle polisiestasies op 25 en 31 Desember gesluit sal wees. Brig. Sally de Beer, woordvoerder van die polisie, het hierdie inligting ten sterkste ontken.

“Die inligting wat versprei word, haal kamtig lt.genl. Khomotso Phahlane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, aan dat hy gesê het alle polisiestasies en hospitale sal op hierdie twee dae gesluit wees. Die SAPD distansieer homself van hierdie berigte en is van mening dat sulke inligting ʼn bespotting maak van die belangrike werk wat duisende professionele werkers moet verrig terwyl hulle terselfdertyd tyd saam met hulle families moet opoffer,” het De Beer gesê.

“Die SAPD het in teenstelling met hierdie berigte sy optredes versterk om seker te maak dat almal in Suid-Afrika veilig voel oor die feestyd. Saam met ons eweknieë in wetstoepassing en ander noodsaaklike dienste, sal ons nie rus en saam met ons families feesvier nie. Ons sal daar buite op ons pos wees, besig om misdaad te voorkom en mense in nood te help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

jaco ·

Oop of toe SAPD en staatshospitale op 25 Des & 1 Jan maak eintlik geen verskil nie, want hulle is anyway useless.

hugo ·

dis regtig n klap in die gesig en n onverantwoordelike uitspraak teenoor vele amptenary wat hul bes doen/probeer sodat mense veilig kan wees en voel.

Buitestander ·

Ongewensde kommetaar. Kan nie almal onder dieselfde kam skeer.

Lulu ·

Ek stem saam met Hugo en Buitestander. Jammer Jaco, maar ek kry op die oomblik behandeling by die staatshospitaal, Leratong vir n siekte wat die mediese fonds nie wil dek nie. Ek kan glad nie kla oor die diens, personeel of die spesialis (wat toevallig ook n privaat praktyk het) by Leratong nie. Hulle probeer altyd help waar hulle kan en ek wonder of ek by n privaat hospitaal in sulke goeie en bekwame hande sou wees.

Blommie ·

Ek stem saam met Jaco, ek wag nou nog vir die blits patrollie (10111) van 2010 af, my kar was gesteel en ek en my dogter was gestrand in die skemer van die aand, alleen, ek het hulle dadelik gebel en hulle het my verseker hulle is oppad, 2ure later het ek na die naaste polisie stasie gegaan en tot vandag nog het niemand my geskakel om verskoning te maak nie. So ja die polisie is useless om nie eers te praat van die staats hospitale nie

Oom Kalahari ·

@Jaco en Blommie, sekondeer jul stellings. @ Lulu, jy is dalk een uit ‘n miljoen wat die geluk kaart ontvang het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.