Publiek oor vervalste matrieksertifikate gewaarsku

Skermskoot van die webwerf fakematricandcertificate.co.za

Die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys, Umalusi, het Maandag die verkope van vervalste matrieksertifikate veroordeel. Die raad het twee webwerwe geïdentifiseer wat by dié bedrogspul betrokke is.

“Dit is onwettig en is ʼn strafregtelike oortreding. Umalusi veroordeel hierdie bedrog ten sterkste. Die wanverteenwoordiging van kwalifikasies kan moontlik skade aanrig aan die beeld van Umalusi en die land se opleidingstelsel en die regering se pogings, om korrupsie uit te roei, ondermyn,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.

“Die publiek word dus om hierdie individue en entiteite by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan te meld of dit anoniem aan te meld by Umalusi se kontaksentrum by 0800 000 889.”

Die organisasie het gesê die twee webwerwe, wat reeds geïdentifiseer is, is http://fakematricandcertificate.co.za en http://www.registermatriccertificates.co.za.

Op die webwerf http://fakematricandcertificate.co.za is matrieksertifikate, diplomas, grade, rybewyse, geboortesertifikate en doodsertikate beskikbaar. ʼn Sertifikaat word aan ʼn koper gestuur sodra betaling en ander bykomende inligting soos foto’s ontvang is.

Op die webwerf http://www.registermatriccertificates.co.za word dienste soos die registrasie van die vervalste matrieksertifikaat “op die Suid-Afrikaanse regeringsdatabasis” aangebied. Dit kan vier tot sewe dae duur voor die sertifikaat op die stelsel geregistreer is nadat betaling ontvang is, aldus die webwerf.

Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, het gesê vervalste sertifikate is aan die toeneem en maan persone om Umalusi of ander privaat agentskappe direk te kontak indien hulle kwalifikasies wil verifieer. “Dit is verskriklik dat die persone wat hierdie webwerwe bestuur, dit straffeloos doen. Ek wil Suid-Afrikaners graag verseker dat die straf swaar sal wees vir enigiemand wat skuldig bevind word dat hulle vervalste matrieksertifikate vervaardig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Koos de Meyer. ·

Dis mos die nuwe Suid-Afrika.As die geld daar is kan jy enige enige iets koop. Pateties, ondervinding tel ook nie meer nie. Waar gaan ons standaarde heen.

selvage ·

Die wanverteenwoordiging van kwalifikasies kan moontlik skade aanrig aan die beeld van Umalusi en die land se opleidingstelsel en die regering se pogings, om korrupsie uit te roei, ondermyn,” wha ha ha ha! wat n grap! die standaarde alleen, doen skade en ondermyn die OPLEIDINGSTELSEL meer as wat enige skelmstreek ooit kan doen

Hanna Hoekom ·

Baie interressant! Ek was nog altyd n groot voorstaander vir onderrig in kinders se huistaal ( ten minste in die grondslag-fase). Hoop nou nie dit maak van my n rassis nie…

1 +1 ·

Daar sal vasgestel moet word waarom mense hierdie kwalifikasie koop. Dit mag moontlik wees dat hulle agterkom dat die gekoopte sertifikaat net soveel werd is as die verworwe een. ‘n Challenge vir Umalusi nie vir die SAPD nie asb.

Lola ·

“Gehalte versekering” – soos bv SABS? Wats dit? Daar kan tog nie regtig meer so iets in SA bestaan nie?

Johan ·

Hanna, nee jy is nie ‘n rassis nie. Inteendeel jy is een van min wat die voordele daarvan insien. Agv bepaalde omstandighede (ek is nie in die onderwys nie) het ek wel nogal baie opgelees oor moedertaalonderrig en die voordele daarvan. Dit is met wetenskaplike navorsing bewys dat moedertaalonderrig die beste is vir enige persoon.

In SA kan (laat ons nou maar reguit wees) swart kinders op die beste hul grondslagfase onderrig in hul moedertaal kry. Daarna in Graad 4 slaan hulle oor na Engels. Enige normale mens sal al klaar die probleem sien – skaars moedertaal bemeester nou moet hy/sy in Engels begin leer!!!!. So moedertaalonderrig vir die volle duur van skoolonderrig is die idiaal.

Maar daar is geen politieke wil om swart tale te bevorder nie. Net soos Afrikaanssprekendes moes baklei vir hul taal, sou mens hoop daar vir alle tale “baklei” word deur die onderskeie groepe. Maar dit hoef eintlik nie “baklei” te wees nie, want die Grondwet gee elke taal ‘n bestaansreg. Dit moet net ontwikkel word.

Maar die wil om sekere tale te ontwikkel, ontbreek. Daarom dat daar dan “teruggeval” word op Engels (dink maar aan wat by universiteite gebeur) en natuurlik iemand soos Lesufi se houding.

IK ·

Johan, skielik na 1994 kon 99% ‘ingels’ besig maak nie saak hoé geradbraak (mooi woord?). Dit het egter niks te doen met geletterdheid. Tog maak dit nie in alle opsigte van jou ‘n beter mens want daar is diegene met sogenaamde goeie akademiese opvoeding wat steeds soos padvarke bestuur, vullis rondstrooi, honde op ashope weggooi, arrogant teenoor andere en so kan ek aangaan. Teenoor voorgaande is daar die ongeletterde nederige persoon wat net die teenoorgestelde doen. Laasgenoemde behoort eerder ‘n sertifikaat te kry van uitnemendheid.

1+1 ·

“‘n Krimenele daad”, inderdaad!!, en “skade vir die beeld van Umalusi!!” – Ek stem saam. As bedrog nou ook die moederberoep tref, kan hierdie saak beslis die grootste ramp wees wat SA nog getref het. Wat bly daar dan vir ons kinders oor wat vir 12 jaar elke dag geswig en gesweet het om hulle Gr.12 jaar te bereik.
Ons dring aan op ‘n onafhanklike ondersoek na hierdie saak. Kinders wie se ouers nie deel het aan die koop van hierdie vervalsings nie se kanse om werk te kry is “0”. Die waarheid oor hierdie vervalsingsbedrog moet uit, al moet daar ook hier koppe begin rol.

Johan ·

As mens dink aan wat kriminele deesdae met tegnologie doen, is die vervalsing sekerlik baie moontlik – vir ons gewone mense wat “nie-krimineel” dink is dit verregaande. Nie vir mense wat “krimineel” dink nie.

Wat wel verontrustend is, is dat die genoemde twee webwerwe nie toegemaak word nie. Sekerlik moet die SAPS soos in vinnig reageer en moet hulle toegemaak word. Dit is immers die “verkoopspunt”. Dalk is dit al toegemaak – ek weet nie. Wil nie onnodig na so ‘n “site” toe gaan nie.

Blommie ·

Ek wonder as jy nou jou matriek sertifikaat koop met Universiteits toelating en jy gaan leer en slaag vir se nou maar n dokter en later word daar uitgevind dat jou matriek sertifikaat vervals was.
Verloor jy jou diploma of word jy net aangekla vir bedrog eerste oortreding miskien huis arres en na die paar maanda, kan jy voortgaan met jou diploma?

Adam ·

Dit is met alle respek gese totaal onverstaanbaar dat iemand bereid is om vir ‘n vervalste matrieksertifikaat te betaal, terwyl ‘n wettige een niks werd is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.