Publiek sê nee vir sportkwotas

Die minister van sport, Fikile Mbalula. Foto: GCIS

Die minister van sport, Fikile Mbalula. Foto: GCIS

Solidariteit het Woensdag berigte dat die omstrede nuwe kwotastelsel in sport vir eers uitgestel is, verwelkom en meen praatjies oor die voorgestelde nuwe kwotastelsel was niks minder as ʼn verkiesingsfoefie nie. Fikile Mbalula, minister van sport, het intussen ʼn vergadering met Solidariteit belê om die vakbond se besware te bespreek. Solidariteit sal deur die oorhandiging van nagenoeg 52 000 petisies gepaardgaande met ʼn memorandum, dit aan die minister duidelik maak dat kwotas, hetsy in die werkplek of op die sportveld, onaanvaarbaar is en aangeveg sal word.

Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê Mbalula se skielike aankondiging en dringendheid met die saak is tekenend van die regerende party wat die aandag van ander belangrike sake soos Nkandla probeer aftrek. “Dit is egter verblydend dat Mbalula gewillig is om so spoedig met Solidariteit en ander bekommerde partye oor die kwessie te vergader. Dit is duidelik dat openbare teenstand teen sy aankondiging vrugte afgewerp het en dat die minister genoop was om die implementering van die nuwe kwotas te heroorweeg en eers insette van belangegroepe te kry. Dit is ʼn verfrissende verandering van die regering se ondeursigtige houding teenoor regstellende aksie en sy volgehoue onwilligheid om ʼn sinvolle debat daaroor te hê. Solidariteit sal in sy vergadering met Mbalula daarop wys dat hierdie in wese ʼn arbeidsaangeleentheid is en dat die voorgenome kwotastelsel lynreg indruis teen die Wet op Gelyke Indiensneming.”

Kruger sê ʼn volledige memorandum met onder meer regsargumente teen die kwotastelsel sal tydens die vergadering volgende week aan die minister oorhandig word vir sy oorweging. “Ons het dit reeds duidelik gemaak dat die vakbond nie sal skroom om die saak in die arbeidshof of gelykheidshof te gaan beveg nie. Ons doen ʼn beroep op sportlui om die vakbond te nader indien hulle nou of in die toekoms deur kwotas benadeel word. Alhoewel die kwessie van regstellende aksie uiteindelik met gesonde debat en ʼn herontwerp van die totale model moet geskied, is die vakbond genoop om die saak in die howe te gaan beveg omdat die regering eenvoudig onverbiddelik voortgaan om sy ideologie van rasseverteenwoordiging op alle gebiede te implementeer.”

Solidariteit het reeds nagenoeg 52 000 petisies ingesamel van bekommerde burgers wat eis dat kwotas gestop word. Die petisies is genoeg om al die sitplekke van Loftus Versfeld vol te maak. Solidariteit het hierdie getal as doelwit gekies omdat ’n stadion vol stemme ook simbolies is van alle sportliggame en -instellings, spelers, sportliefhebbers en ondersteuners in Suid-Afrika wat hul stem wil laat hoor teen kwotas in sport. Die steun van lede van die publiek vir Solidariteit se veldtog teen kwotas is aanduidend daarvan dat mense keelvol is vir die regering se suiwer rassebenadering en sosiale manipulasie.

Lees ook:
Kwotastelsel vir sport eers op ys
Mbalula se raskwotas vir sportspanne is onwettig
Steun van internasionale sportliggame oor sportkwotas
Sportminister is “Nar van die Week” – VF+
Klagtes teen SA sportliggame wat voor regering se kwotadruk swig
Nuuskommentaar: Gaan SA weer sportisolasie tegemoet weens kwotas?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Riaan V ·

Ek hou ook van die 52000, maar ek bepleit ‘n boikotaksie waar daar by ‘n rugbywedstryd 52000 sitvlaklose stoele is so “boikotpetisie” sal miljoene TV kykers wereldwyd bereik. Ook ‘n verlies van 52000X ??? Rand; ek kan nie die som maak nie want ek het geen idee wat ‘n toetskaartjie deesdae kos nie (dalk R500? dan is dit ‘n verlies van omtrent R25 miljoen), en gee ook nie ‘n blou duit om nie, ek gaan nie rugby kyk as die beste spelers nie speel nie, swart, wit, pers, bruin is irrelevant solank hulle net die bestes is. Ongelukkig bestaan ‘n rugbyspan nie uit 15 vleuels en senters nie, en dis waar die grootste gros van ons gekleurde talent gevind word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.