Publiek teen nuwe slenter gewaarsku

Argieffoto: SAPD

Die polisie in Gqeberha (Port Elizabeth) het inwoners gewaarsku teen misdadigers wat hulleself as polisiebeamptes voordoen en hulle dan in hul huis beroof. Dit volg ná ʼn huisroof Dinsdag in Lorraine.

“ʼn 61-jarige man het omstreeks 12:15 buite gaan ondersoek instel toe iemand sy deurklokkie gelui het, het kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

Twee mans, in polisieuniforms, het aangevoer hulle is op die spoor van verdagtes wat oor ʼn heining in sy erf gespring het. “Die man het hulle op sy erf toegelaat. Toe die ‘polisiebeamptes’ saam met hom na die agterkant van sy erf gestap het, het een in sy huis ingegaan. Die man het die ‘beampte’ gevolg en is oorval.”

Die tweede verdagte het in hierdie stadium ook die huis binnegekom en die man met ʼn vuurwapen gedreig. Die man se 56-jarige vrou is ook gedreig.

“ʼn Derde verdagte, geklee in ʼn sweetpak, het hierna die eiendom betree. Die egpaar is vasgebind terwyl hul huis geplunder is. Die verdagtes het vuurwapens, ammunisie, ʼn Rolex-horlosie, juweliersware, selfone en ander goedere ter waarde van ongeveer R500 000 gebuit en met die man se Ford Ranger-bakkie gevlug,” het Janse van Rensburg bygevoeg.

Die Ford Ranger is teen omstreeks 15:30 in New Brighton opgespoor. “Toe die verdagtes die polisiebeamptes opgemerk het, het hulle uit die voertuig gespring en weggehardloop. Die gesteelde eiendom was nie meer in die voertuig nie.”

Die polisie in Kabegapark ondersoek ook twee gevalle waar verdagtes, wat hulself ook as polisiebeamptes voorgedoen het, huise in Sherwood en Kabegapark in Desember 2021 beroof het.

Janse van Rensburg maan inwoners om uiters waaksaam te wees en nie enige onbekende persoon op hul eiendom toe te laat tensy hulle ontbied is nie. “As enigiemand jou eiendom wil betree, selfs al dra hulle ʼn polisieuniform, moet hulle hul bewys van identiteit kan lewer. ʼn Polisie-ID bevat die beampte se naam, polisie-ID-nommer en foto. Moenie bloot aanneem dat enigiemand in ʼn blou hemp en broek wel ʼn lid is van die SAPD nie. Let op na die persoon se toerusting en voorkoms. Elke polisiebeampte moet ook ʼn naamkaartjie op sy/haar uniform hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Shakespeare ·

Stokou nuus. Die SAP kaders voorsien die kriminele van wapens tot kleredrag al vir minstens 20 jaar.

Marius ·

Lafaards en muise beweeg altyd in groepe. Op hul eie is hul niks werd nie.

Mieke ·

Hulle is so vindingryk wat slenters en leuens betref. Maar om ‘n eerlike dag se werk in te sit, ontbreek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.