Publiek verbied by UKZN-studente se verhoor ná dreigemente

'n Gebou van UKZN wat gebrand is tydens die betogings. Foto: Twitter

‘n Gebou van UKZN wat gebrand is tydens die betogings. Foto: Twitter

Die publiek is verbied om die borgtogverhoor van twee KwaZulu-Natal studente by te woon, nadat hofbeamptes ernstige dreigemente ontvang het.

Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het Vrydag bevestig dat die borgtogverhoor van of Lukhanyo Mtshingana en Luwazi Magwaza in camera gehou sal word weens die dreigemente wat hofbeamptes ontvang het. Sy wou nie uitbrei oor die aard van die dreigemente nie.

“Weens die ernstige intimidasie en veiligheidsdreigemente wat hofbeamptes ontvang het, is dit gepas om die verhoor in camera te hou, om ons hofbeamptes en moontlike staatsgetuies te beskerm,” het sy gesê. Sy het gesê die saak is ook na die SAPD se provinsiale hoof verwys vir ondersoek.

Mtshingana en Magwaza is in hegtenis geneem tydens die gewelddadige betogings wat op 13 September by die KwaZulu-Natal Universiteit (UKZN) ontstaan het toe ʼn administratiewe gebou aan die brand gesteek is. Mtshingana is die voorsitter van die universiteit se Westville-kampus studenteraad.

Die universiteit het die afgelope paar weke verskeie kere onder betogings deurgeloop. Studente is na bewering ongelukkig omdat die universiteit die Registrasie Appèlkomitee-proses opgeskort het wat studente wat agterstallig is met studiegeld toelaat om voort te gaan met hul studie, terwyl hulle hul skuld in paaiemente afbetaal.

Berigte is ontvang van nog betogings Donderdagaand op die Westville-kampus, asook betogings Vrydagoggend op die Edgewood-kampus. Polisie kon dit egter nog nie bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bruno Stef ·

Dit is die vooruitsigte van die universiteite wat die sogenaamde transformasie by hulle kampusse ge-implimenteer het. So veral Maties en Pukke neem deeglik kennis daarvan dit kan julle voorland word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.