Publisering van matriekuitslae ʼn ‘instelling’ – regter

Regter Anthony Millar stem saam dat die bekendmaking van die matriekuitslae ʼn gebruiklike instelling is en vanjaar oudergewoonte weer in die media gepubliseer moet word.

“Ons voer aan dat dit ʼn algemene praktyk sedert 1996 is,” het adv. Quintus Pelser SC Dinsdagoggend namens Maroela Media, die burgerregteorganisasie AfriForum en Anlé Spies, ʼn matrikulant van die 2021-matriekklas, in die Pretoriase hooggeregshof aangevoer.

Millar het saamgestem en gesê die plasing van die matriekuitslae is ʼn instelling, voordat hy die applikante se onbestrede hofaansoek toegestaan het. Die 2021-matriekuitslae mag dus Donderdag in die media gepubliseer word.

Pelser het in die hof aangevoer dat die besluit om die 2021-matriekuitslae uit die openbare sfeer te hou nié by die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, berus nie.

“Daar is geen oorwegende rede dat die matriekuitslae vir eerste keer ooit nié gepubliseer kan word nie. Dit is die kern van ons saak. Demokrasie en openheid troef alles.”

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, buite die hof. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Millar het egter gesê hy het nie die indruk van die minister gekry dat sy inligting doelbewus van lede van die publiek weerhou nie, maar bloot ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) wil optree.

“Ek kan nie die minister van enige motief beskuldig nie. Die saak bly egter staan: Die betrokke inligting moet vir almal toeganklik wees,” het Pelser gesê.

Hy het voorts daarop gewys dat, sou die uitslae nie in die media bekend gemaak word en ʼn leerder nie in staat is om sy of haar uitslae by die skool af te haal nie, die leerder weens die regering se besluit genoodsaak sal wees om in elk geval sy of haar besonderhede aan iemand te verskaf sodat dié persoon die uitslae namens die leerder kan gaan afhaal.

“Hulle word dan verplig om hul privaatheid prys te gee.”

Daar is ook vanoggend daarop gewys dat ʼn skamele 10 000 leerders enkele dae gelede nog op die departement se webwerf geregistreer het om hul uitslae op die webwerf te ontvang.

Millar het toegegee dat dit ʼn ander saak sou wees as dié syfer hoër was.

“Sommige leerders het ook nie toegang tot die internet nie, terwyl een koerant onder baie versprei kan word om hul matriekuitslae na te gaan.

“Ek is tevrede en staan die aansoek toe,” het Millar eindelik beslis.

Die departement het in ‘n verklaring gesê hulle berus by die hof se besluit en sal die inligting verskaf aan dié wat dit versoek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jaco ·

As ek nou pas klaar was met matriek en ek het geweet dat my 10 onderskeidings gelyk is aan so 65-70% in die ou SA se standaarde, sou ek skaam gewees het dat my naam in ‘n koerant verskyn.

Theunis ·

Dit blyk op die oog af ‘n onbenullige aksie te gewees het maar die omvang sal in werklikheid eers verstaan kom word sou die aansoek onsuksesvol gewees het.
Dankbaar vir die uitslag!

Shakespeare ·

Idiotiese en totaal ongevraagde aansoek van Motshekga.

Marius ·

Ek het my matriekuitslae in 1983 iin die Beeld koerant opgesoek. Kan nog die opwinding goed onthou.

Rooikopheks ·

Myne was in 1974 in die Beeld gewees, iewers in Desember. Almal was vreeslik opgewonde.

Willem ·

Die publikasie van matriekuitslae in die koerante is al donkiejare n tradisie en ek onthou nog hoe rk en.my klasmaats in 1984 ons name in die koerant gesoek het. Motshekga moet eerder aandag gee aan die werklike onderwysprobleme as om te kerm oor matriekuitslae in koerante. Sy en hoed is voels van eenderse vere.

Estelle ·

Ek verstaan nie hoe is dit ‘algemene praktyk’ sedert 1996 as my matriekuitslae al in 1980 in die koerant gepubliseer is nie … dit was al lank voor 1996 algemene praktyk

Eiervrug ·

Sy wou nie uitslae bekend maak nie, want hulle sukkel steeds om punte uit te krap vir party ouens…. Sy het mos reeds verlede week begin met verskonings soos Covid, Beurtkrag ens. Sy het gehoop dat sy meer tyd sou hê om die punte te “kook”, maar tick tock tannie. Nou sal jy moet spring om beter uitslae uit jou duim te suig…

Blikkies ·

Nee wat, die Kaders dink mos hulle weet altyd beter. Dom verby.

VaalDonkie ·

Ek gee nie om oor die uitslae nie. Maar ek haat dit as die regering goed vir ons wegsteek. Want jy weet sommer dat daar iets agter skuil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.