Regter Anthony Millar stem saam dat die bekendmaking van die matriekuitslae ʼn gebruiklike instelling is en vanjaar oudergewoonte weer in die media gepubliseer moet word.
“Ons voer aan dat dit ʼn algemene praktyk sedert 1996 is,” het adv. Quintus Pelser SC Dinsdagoggend namens Maroela Media, die burgerregteorganisasie AfriForum en Anlé Spies, ʼn matrikulant van die 2021-matriekklas, in die Pretoriase hooggeregshof aangevoer.
Millar het saamgestem en gesê die plasing van die matriekuitslae is ʼn instelling, voordat hy die applikante se onbestrede hofaansoek toegestaan het. Die 2021-matriekuitslae mag dus Donderdag in die media gepubliseer word.
Pelser het in die hof aangevoer dat die besluit om die 2021-matriekuitslae uit die openbare sfeer te hou nié by die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, berus nie.
“Daar is geen oorwegende rede dat die matriekuitslae vir eerste keer ooit nié gepubliseer kan word nie. Dit is die kern van ons saak. Demokrasie en openheid troef alles.”
Millar het egter gesê hy het nie die indruk van die minister gekry dat sy inligting doelbewus van lede van die publiek weerhou nie, maar bloot ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) wil optree.
“Ek kan nie die minister van enige motief beskuldig nie. Die saak bly egter staan: Die betrokke inligting moet vir almal toeganklik wees,” het Pelser gesê.
Hy het voorts daarop gewys dat, sou die uitslae nie in die media bekend gemaak word en ʼn leerder nie in staat is om sy of haar uitslae by die skool af te haal nie, die leerder weens die regering se besluit genoodsaak sal wees om in elk geval sy of haar besonderhede aan iemand te verskaf sodat dié persoon die uitslae namens die leerder kan gaan afhaal.
“Hulle word dan verplig om hul privaatheid prys te gee.”
Daar is ook vanoggend daarop gewys dat ʼn skamele 10 000 leerders enkele dae gelede nog op die departement se webwerf geregistreer het om hul uitslae op die webwerf te ontvang.
Millar het toegegee dat dit ʼn ander saak sou wees as dié syfer hoër was.
“Sommige leerders het ook nie toegang tot die internet nie, terwyl een koerant onder baie versprei kan word om hul matriekuitslae na te gaan.
“Ek is tevrede en staan die aansoek toe,” het Millar eindelik beslis.
Die departement het in ‘n verklaring gesê hulle berus by die hof se besluit en sal die inligting verskaf aan dié wat dit versoek het.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
As ek nou pas klaar was met matriek en ek het geweet dat my 10 onderskeidings gelyk is aan so 65-70% in die ou SA se standaarde, sou ek skaam gewees het dat my naam in ‘n koerant verskyn.
Dit blyk op die oog af ‘n onbenullige aksie te gewees het maar die omvang sal in werklikheid eers verstaan kom word sou die aansoek onsuksesvol gewees het.
Dankbaar vir die uitslag!
Idiotiese en totaal ongevraagde aansoek van Motshekga.
Ek het my matriekuitslae in 1983 iin die Beeld koerant opgesoek. Kan nog die opwinding goed onthou.
Die publikasie van matriekuitslae in die koerante is al donkiejare n tradisie en ek onthou nog hoe rk en.my klasmaats in 1984 ons name in die koerant gesoek het. Motshekga moet eerder aandag gee aan die werklike onderwysprobleme as om te kerm oor matriekuitslae in koerante. Sy en hoed is voels van eenderse vere.