Puik speurwerk land Boomgaard in beskuldigdebank

Zaheera Boomgaard

Briljante ondersoekwerk deur ’n speurder verbonde aan die polisie se forensiese afdeling het in 2020 daartoe gelei dat die beweerde reeksmoordenaar Zaheera Boomgaard binne twee dae geïdentifiseer is as ’n verdagte wat kon help met die opsporing van ’n vermiste Britse burger in Suid-Afrika.

Boomgaard (61) staan tans in die Pretoriase hooggeregshof tereg op drie aanklagte van moord, twee van roof met verswarende omstandighede en meer as 50 van bedrog en diefstal.

Adjudant Kevindren Govender het Donderdag voor regter Tshifhiwa Maumela getuig dat hy in Mei 2020 opdrag ontvang het om die vermiste Harkant Nathvani (72) op te spoor. Nathvani se familie in Londen het onraad vermoed nadat groot bedrae geld uit sy Britse bankrekening onttrek is terwyl hy in Suid-Afrika met vakansie was.

Die familie kon ook nie langer met hom kontak maak nie en het plaaslike owerhede om hulp genader.

Govender het inligting gehad dat Nathvani se bankkaart onder meer by ’n tak van Pick n Pay aan die Wes‑Rand gebruik is. Hy het deur beeldmateriaal van die winkel se kringtelevisie gegaan om vas te stel wie die transaksie etlike dae vroeër aangegaan het.

Dit was uiters moeilik omdat die beweerde bedrieglike transaksie in Britse tyd aangedui was terwyl die videomateriaal ’n Suid-Afrikaanse tydkode gehad het. Betaling op die winkel se databasis was uiteraard in rand aangeteken, maar die lys van transaksies wat aangestuur is, was in Britse pond.

Govender kon nietemin die betrokke transaksie opspoor en het gesien dat dit ’n vrou was wat die kaart as betaling aangebied het. Haar gesig was egter deur ʼn masker verberg omdat Covid-19‑regulasies gegeld het.

Harkant Nathvani se verkoolde liggaam kon slegs aan sy tande uitgeken word

Hoewel daar ook beeldmateriaal van dieselfde vrou in die parkeerterrein was, het die kamera nie op die nommerplaat van haar voertuig gefokus nie.

Govender is die volgende dag na Beagle Sekuriteit wat straatkameras in die omgewing monitor en moes weereens deur ure se beeldmateriaal werk tot hy uiteindelik die voertuig gekry het en die nommerplaat kon vasstel. Die eienaar van die voertuig was Zaheera Boomgaard en haar adres was ʼn kleinhoewe naby De Deur suid van Johannesburg.

Daar aangekom het Govender slegs ’n vervalle plek gevind sonder enige teken van Nathvani of Boomgaard. By die plaaslike polisiestasie het hy gehoor dat hulle die eienaar van die hoewe as Zaheera Wookey geken het en dat sy voorheen verskeie kere met die gereg gebots het.

Op dag vier van die ondersoek het Govender vasgestel dat Boomgaard in die Villa Barcelona‑kompleks in Albertsville in Randburg woon. Hy het haar begin dophou en agtervolg, steeds met die hoop dat sy hom na die vermiste Nathvani sou lei óf weer die Britse bankkaart gebruik.

Toe sy by ’n nabygeleë hardewarewinkel inkopies gaan doen, het Govender haar gevolg en later agter haar by die betaalpunt gestaan. Sy het met ’n bankkaart betaal, maar toe hy haar konfronteer het dit geblyk dat sy haar eie bankkaart gebruik het en nie in besit van Nathvani se kaart was nie.

Boomgaard het ook ontken dat sy weet wat van die vermiste man geword het, maar het later ingestem dat Govender en ’n kollega haar woonplek in Villa Barcelona deursoek.

Kaptein speel baba-oppasser terwyl ma getuig

Kapt Werner van den Bergh (links) en Lt Kol Flip Claassen met Agnes Ndlovu se 10-maande oue knapie buite die hofsaal. (Foto: Susan Puren)

Govender se getuienis is Donderdag tydelik onderbreek sodat ’n vrou van Giyani in Limpopo, Agnes Ndlovu, kon getuig oor die beweerde vervalsing van haar handtekening op twee testamente van wyle Marlene Mustapha. Marlene se suster, Lynette, was na bewering een van Boomgaard se slagoffers. Boomgaard sou etlike miljoene rand uit die susters se boedels erf.

Ndlovu het vroeg die oggend inderhaas per taxi uit Giyani vertrek om voor die hof te verskyn ná ’n vorige getuie die hof oor die vervalste handtekening ingelig het. Kort voor middagete het sy laat weet dat sy met haar tien maande oue baba by die Stormvoël-afrit op die N1 staan en opgelaai moet word.

Die hoofondersoekbeampte, kapt. Werner van den Bergh en lt.kol. Flip Claassen van die speurtak op Newcastle, het hulle na die plek gehaas om Ndlovu op te laai en betyds by die hof te kry. Van den Bergh moes toe sonder meer die baba buite die hofsaal oppas terwyl die seuntjie se ma getuig.

Sy het deur ’n tolk in Tsonga aan die hof gesê dat sy geen kennis van die testamente dra nie en dat dit nie haar handtekening is wat as getuie verskyn nie. Dit is wel haar ID-nommer wat op die CV is wat sy sowat twee jaar gelede, terwyl sy in Tembisa aan die Oos‑Rand gewoon het, vir iemand gegee het, wat dit aan Boomgaard oorhandig het.

Govender het Vrydag sy getuienis voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen-oog ·

Goeie werk. Laat my aan die Welkom moord dink en in n mate bring haar gesig Daisy De Melker by my op. Sit maar lewenslank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.