Puk: Duisende sê ja vir Afrikaanse kampus met eie bestuur

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die uitslag van ʼn referendum oor of die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus Afrikaans moet bly en sy eie bestuurstruktuur moet hê, sal aan die NWU-konvokasie se raadsverteenwoordigers gestuur word.

Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het gesê die reaksie op die referendum was oorweldigend. “In minder as 48 uur het 18 900 oud-Pukke gestem en 99.5% het ja gestem.” Die referendum is deur Pro-Puk begin. Pro-Puk is ʼn groep oudstudente wat ʼn informele groep gestig het om Afrikaans op die Puk-kampus te beskerm.

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, het voorgestel dat ’n bestuursmodel ingestel word waarvolgens die drie NWU-kampusse onder een struktuur beheer en bestuur word.

Volgens Hermann sal die uitslag van die referendum aan die NWU-konvokasie se raadsverteenwoordigers gestuur word met die doel dat dit Vrydag tydens die NWU-raad se bosberaad bespreek word. “Oud-studente word as belangrike belanghebbendes van ʼn universiteit beskou. In die NWU se geval het die konvokasie, wat uit oud-studente bestaan, vier lede op die raad. Vir Pro-Puk is dit noodsaaklik dat die raadslede wat hulle verteenwoordig ʼn duidelike boodskap kry van die gevoel van oud-studente.

Hermann het gesê dit lyk asof die referendum ʼn sweer van woede oopgemaak het. “Oud-studente is kwaad omdat hulle voel dat die historiese ooreenkoms wat met hulle en die Afrikaanse gemeenskap rondom die samesmelting aangegaan is, deur prof Kgwadi verbreek is. Daar was op ʼn gedesentraliseerde model waar kampusse hulle eie bestuur gehad het en Afrikaans beskerm is ooreengekom. Nou word presies die teenoorgestelde gedoen.”

Volgens Hermann het Solidariteit intussen R1 miljoen beskikbaar gestel vir enige arbeidsregaksie wat uit die NWU se herstruktureringsplanne mag voortspruit. “Ons is baie bekommerd oor wat die gevolge vir personeel mag wees indien die NWU voortgaan met hulle planne om fakulteite oor kampusse te vestig. Op die oog af lyk dit of dit kan lei tot afleggings en mense wat gedwing word om te trek. Ons dink dit sal uiters onbillik wees as personeel negatief geraak word deur politieke agendas. Ons is ook bekommerd dat daar reeds benadeling plaasvind as gevolg van prof Kgwadi se planne wat nog nie eers deur die raad aanvaar is nie.”

Vir meer inligting oor die referendum, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henry ·

Dankie tog by voorbaat aan Solidariteit wat ons Afrikaner-status en -voortbestaan verdedig!!!

Swanna ·

Hel mense, het ons nog nie uit die geskiedenis geleer dat jy hulle nie kan vertrou nie. Self die regering van nou se oggend en aand praaitjies stem nie oor een nie. Wat hulle sê en wat hulle doen is twee verskillende dinge. Met alles wat hulle aanpak het hulle geen benul wat hulle doen nie. Geen ding word deursugtig beplan of bekyk nie. Word net deur gedruk.

Gideon Roos ·

Ek kan vir jou sê dat minstens 85% van huidige PUK-studente met ‘n soortgelyke referendum onder ons ook sou JA stem.
Afrikaans is nie net deel van die PUK kultuur nie, dit IS die PUK kultuur.

Vissie ·

Theuns Eloff het hierdie ding gesien kom, dis hoekom hy bedank het !!

Chris v R ·

Theuns Eloff het met die storie van samesmelting saam met Kadar Asmal begin. Soos n tipiese libtard hardloop hy toe weg toe sy kortsigtige idee, soos verwag is, in sy gesig ontplof.

Anoniem ·

Dankie Solidariteit…hulle wil graag Praat van diskriminasie….Nou wil hulle diskrimineer teen alle Afrikaans sprekende student om dit weg te vat………Hou duim vas dat PUKKE sal bly!

nicolette ·

Tyd vir saam staan is nou en veg vir die Pukke.PUKKE MAG NIE VERNIETIG WORD NIE.AFRIKAANS EN PUKKE ALTYD BO.

Jacques van Rhyn ·

Ons woon in Australie waar my dogter tans op Universiteit is. Hier ken hulle nie die kampus lewe wat ons bevoorreg was om te beleef nie en om ons taal en kultuur uit te leef nie. Sal baie jammer wees as die PUK soos ons dit ken verlore gaan. Hoop julle kan dit red vir die nageslag. Sterkte daar julle het n groot taak op hande maar ons bid elke dag vir God se rykste seen vir alle Suid-Afrikaners

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.