Puk: Engels moet gelyk met Afrikaans, sê verslag

Hoofhek van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus Foto: TimesLive

Hoofhek van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus Foto: TimesLive

Die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Unversiteit moet sy taalbeleid aanpas om Engels op gelyke voet met Afrikaans te stel.

Dít is een van die aanbevelings in ʼn internasionaal geleide evalueringsverslag oor die geslaagdheid van dié universiteit se eerste tien jaar van transformasie wat Dinsdag bekendgemaak is.

Volgens die verslag bestaan daar ook nog groot “rasse- en geslagsongelykhede” onder die dosente en studente van die universiteit, en behoort die universiteit meer klem daarop te plaas om ‘n geïntegreerde NWU-kultuur en –identiteit daar te stel.

Die NWU het gedurende 2013 ʼn internasionaal geleide paneel opdrag gegee om eerstens te evalueer tot watter mate die aanvanklike samesmeltingsdoelwitte van die universiteit bereik is ná die samesmelting van die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en die voormalige Universiteit van Noordwes, en die inlywing van die Sebokeng-kampus van die Vista-universiteit in 2004. Tweedens moes die paneel evalueer in watter mate die NWU se missie-elemente verwesenlik is.

Volgens die verslag behoor die universiteit ook die “beweeglikheid van dosente” tussen die onderskeie kampusse van die NWU te ondersteun, en behoort die instelling dit te oorweeg om interkampus-sportspanne daar te stel, veral in sportsoorte waarin die universiteit nasionaal en internasionaal kompeteer.

Die verslag maak geen voorstel oor hoe dié twee aanbevelings behaal behoort te word gegewe die feit dat die kampusse 200km van mekaar geleë is nie.

“Die paneel se verslag is die resultaat van talle sessies met verskeie belanghebbendes aan die begin van 2014, soos die institusionele bestuur, kampusbesture, akademici, studenteleiers, en ʼn aantal eksterne partye,” het Louis Jacobs, woordvoerder van die Raad van die NWU, in ʼn verklaring gesê. “Tydens ʼn werkswinkel van die NWU Raad gehou op 15 April 2014 is die inhoud van hierdie verslag ontvang en van kennis geneem. Dit moet beklemtoon word dat die verslag nie deur die Raad, bestuur of die breër universiteitsgemeenskap bespreek is nie. Die Raad het in belang van deursigtigheid besluit om die verslag aan die breër eksterne gemeenskap asook lede van die universiteitsgemeenskap beskikbaar te stel.”

Die verslag het die universiteit geloof vir onder meer die opbou van sy navorsingskapasiteit, sy finansiële bestuur en stabiliteit, en sy kundigheid in tegnologieoordrag.

Die paneel het opgetree onder voorsitterskap van prof. Frans van Vugt (president van die Europese Sentrum vir Strategiese Bestuur van Universiteite), en het bestaan uit prof. Barney Pityana (voormalige visekanselier van UNISA), dr. Torben Rasmussen (voormalige direkteur-generaal van die Departement van Hoër Onderwys in Denemarke), dr. Nico Cloete (direkteur van die Sentrum vir Tansformasie in Hoër Onderwys), prof. Lynn Meek (professorale genoot by die LH Martin Institute of Higher Education Leadership and Management by die Universiteit van Melbourne), prof. Mala Singh (voormalige lid van die Hoëronderwys-kwaliteitskomitee en Raad op Hoër Onderwys in Suid-Afrika) en prof. Ian Bunting (voormalige hoofdirekteur in die SA Departement van Onderwys).

Klik hier om die volledige verslag te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VerVanRyn ·

Wie gee om watter slim akademici op die paneel gedien het, moenie aan ons taal beleid raak nie! Dis die laaste bastion vir Afrikaanse Tertiêre opleiding en behoort niks te doen aan die bevordering van Engels nie. Daar is genoeg ander universiteite wat daardie taal bevorder.

alet ·

Ek stem ons dobber nie met hulle tale nie ons is n boere volk en dit sal hulle nie uit ons kry opgevoede mense nie barbare nie

Veronica Deacon ·

Ek stem saam, VerVanRyn. Waarom moet Afrikaans altyd plek maak vir Engels, los ons taalbeleid en neuk aan na ‘n ander universiteit en hou op in wurm op elke terrein.

Gert Hough ·

Dis pynlik, om die minste te sê, om van dag tot dag te lees, te sien en te hoor hoe Suid Afrika en en Afrikaans en die kultuur en erfenis van die Afrikaans sprekende Suid Afrikaner afgebreek en aangeval word as rassisties en net altyd verkeerd. Verstaan tog dat ek met baie liefde en respek enige ander taal en kultuur hul eie bestaansreg gun, dis net jammer dat wanneer iets iewers bekend is as Afrikaans of vir Afrikaans of vir die Afrikaans sprekende, dit onder die gedagte van gelykheid afstand moet doen van sy aspirasie tot die uitbou van Afrikaans of die opbou van iets vir Afrikaans en die Afrikaans sprekende nageslag, en so afgekraak moet moet tot die rommel op die “grass roots level” wat die oogmerk van sukses van sommige kulture is.

Om meer te sê sal nie veel help nie want dié wat verstaan, verstaan.

Pieter ·

Die vraag is hoekom?
En tweedens gaan al die ander 26+ universiteite wat net in engels doseer, dan vir Afrikaans op ‘n gelyke voet stel?

Waarom word daar nie ondersoek na die magdom universiteite wat net in Engels of Afrikatale klasgee, gekyk en versoek dat Afrikaans op gelyke voet geplaas moet word nie?
Elke taalgroep het sy eie universiteit, en die vraag is waarom word die kultuurtaal van Afrikaners geteiken?
Voor 1994 was bevind dat dit onsettend duur en eintlik onbekostigbaar is om ‘n dubbelmedium opleidingfasiliteit te hê?
Waarom word suksesvolle universiteite, wat deur Afrikaanse studente suksesvol gemaak word as gevolg van hulle akademiese talente, geteiken? Jaloesie? Minderwaardigheidsgevoel deur onderpresteerders en kulture aan ander universiteite? of dalk die staat wat nie slim en opgeleide landsburgers kan bekostig nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.