Puk: Nog géén besluit oor Wessels-verslag

Prof Herman van Schalkwyk Foto: Noordwes-Universiteit

Prof Herman van Schalkwyk Foto: Noordwes-Universiteit

JONGSTE: Die Raad het intussen ‘n mediaverklaring uitgereik waarin hy bevestig dat die verslag nog bestudeer word. Klik hier om meer te lees.

Die Raad van die Noordwes-Universiteit het nog geen besluit geneem oor die verslag van dr. Leon Wessels se taakspan, wat die NWU se institusionele kultuur ondersoek het nie, ten spyte van beriggewing in ander media wat die teendeel impliseer.

Prof. Herman van Schalkwyk, rektor van universiteit se Puk-kampus in Potchefstroom, het Vrydag aan Maroela Media bevestig dat die raad, waarvan hy deel is, nog besig is om die verslag te hanteer. “ʼn Mediaverklaring sal later hieroor uitgereik word,” het Van Schalkwyk gesê. Hy het bevestig dat nie hy of enigiemand in die bestuur ʼn amptelike verklaring hieroor uitgereik het nie. “Niemand het nog die stelling gemaak dat ons die verslag verwerp het nie.”

Beeld-koerant het Vrydagoggend berig die NWU se Potchefstroom-kampus het die verslag verwerp.

Die koerant het ook aangevoer dat Van Schalkwyk ontevrede is met die manier waarop die taakspan sy kampus in die finale verslag uitgebeeld het. “Ek is ‘n volle lid van die Raad van die universiteit en, net soos enige ander lid het ek die reg om my menings oor die verslag by die Raad te lug wat ek dan ook gedoen het en steeds doen,” het Van Schalkwyk aan Maroela Media gesê. Hy het dit benadruk die Raad is in sitting en sal ‘n gesamentlike amptelike mediaverklaring uitreik.

Volgens Van Schalkwyk sal die Raad later bekend maak of die inhoud van die Wessels-verslag aan die publiek vrygestel gaan word. Met verwysing na “dreigemente van regsoptrede” indien die verslag bekend gemaak gaan word soos in ander beriggewing beweer word, het hy gesê ‘n volledige mediaverklaring sal later uitgereik word. “Die Raad sal later in ʼn mediaverklaring besluit of die inhoud van die verslag bekend gemaak gaan word,” het hy gesê.

Beeld het verder berig prof. Van Schalkwyk, prof. Rikus Fick (studentedekaan), en Janco Jordaan (voorsitter van die studenteraad) het ʼn “minderheidsverslag” saamgestel. Jordaan het Vrydagoggend telefonies aan Maroela Media bevestig hulle [Jordaan, Fick en Van Schalkwyk] het wel ʼn submissie vir die Wessels-komitee saamgestel en ingedien, maar dat dit nie ʼn minderheidsverslag was nie. “Inligting is moontlik uitgelek, ek is glad nie genader vir kommentaar hieroor nie,” het hy bygevoeg.

Van Schalkwyk sê ook niemand van die media was vanoggend met hom in gesprek oor dié dokument nie. “Ek het met verbasing kennis geneem van my sogenaamde standpunte en van die feit dat ek ‘nie bereik kon word vir kommentaar nie’,” sê Van Schalkwyk. “Ek het geen ‘missed call’ op my selfoon nie. Daar is nie ‘n minderheidsverslag nie. Die enigste dokument wat daar is, is die een wat ons voorberei het vir die Wessels-taakspan as deel van hulle ondersoek.”

Van Schalkwyk het egter bygevoeg die Raad sal hom nie steur aan enige inligting wat in die media gepubliseer word nie. “Die Raad gaan verantwoordelik om met hulle besluite,” het hy gesê. “Die media kan en sal nie bepaal wat die Raad besluit nie.”

Intussen het AfriForum Jeug Woensdag ‘n prokureursbrief aan die Raad gestuur waarin die Raad versoek word om nie die Wessels-verslag in sy huidige vorm te aanvaar of na die minister van hoër onderwys te verwys nie, nadat dit duidelik geword het dat die verslag nie aan die bepalings van die Wet op Gelykheid voldoen nie en tot onbillike diskriminerende en stereotiperende gevolgtrekkings kom.

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het aan Maroela Media gesê die inligting in die verslag is nie aan AfriForum uitgelek nie. “Ons het reageer op die inligting in die berig wat op Sondag, 15 Junie 2014, in Rapport gepubliseer is,” het Maree gesê. “AfriForum Jeug het definitief nog nie die verslag onder oë gehad nie.” Dit is nie duidelik waar koerant aan die inligting gekom het nie.

Lees ook:
AfriForum Jeug eis dat Wessels-verslag verwerp word
Puk-debat: Waaroor die geveg gaan en nié gaan nié
Puk-verslag “in politiek ontvang en gebore”
Raad wil Puk-verslag oor ontgroening eers verder bekyk
NWU-klag teen dagblad teruggetrek; transformasie by Puk bespoedig
Voorstelle van internasionale ondersoekspan by NWU belemmer multi-kulturele inslag
Puk: Engels moet gelyk met Afrikaans, sê verslag
Theuns Eloff tree uit met roerende afskeidsboodskap
NWU dien klag in by Persombudsman teen dagblad
Puk-ondersoekspan bekend gemaak
Puk-koshuise: Ondersoek afgehandel
Puk-raadsvergadering: Eloff tree uit; ondersoek van stapel gestuur
Puk-groet: Raad besluit oor Puk se pad vorentoe
Zuma reageer op Puk-groet
Regshulp vir geskorste Puk-HK-lede
Oud-student bedank Puk vir balans
Video: Hitler se reaksie op Puk-groet
Basson se roekelose joernalistiek
Video: pukke moet transformeer – departement
Puk-studente begin met eie veldtog
Video: Puk-studente stap uit tydens Nazi-video
Solidariteit v. Beeld lok vurige reaksie uit
Solidariteit: Bloedneus vir Beeld en Basson
Puk-groet: Departement sê koppe gaan rol
NWU-raad: “Ons sal nie menseregteskendings duld nie”
Puk-groet: NWU-bestuur moet dringend afgedank word – HETN
Premier reageer op Puk-groet
Puk-groet: Twitter-vermaak terwyl storm woed
Debat oor Puk-groet ‘n g*tslag vir Afrikaans
Puk-rektor sê oor Nazi-saluut

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Dis mos nou beter as Beeld se patetiese poging tot joernalistiek

Sarie ·

En dan word hulle benoem vir ‘n toekenning oor hierdie ondersoek wat Beeld gedoen het! Hoop maar net geregtigheid seevier.

Lynni ·

Mense moet ophou Beeld koop. Dis agv van hul berig dat daar nou ondersoek gekom het.

Lynni ·

Nog iets wat mens pla. Lyk asof Beeld sagte teikens ‘target’. Hul sal nie sulke dinge kwytraak van swart universiteite nie. Bang di klomp toi toi voor hul gebou. Of begin berig oor mnr. X. Van Marikana se skokkende onthullings van mynwerkers wat skape lewendig verbrand het. Of Malema en kie wat prontuit in parlement te vertelle het dat wit mense diewe is. Maar nee, Beeld hou om op met wit studente se ‘sogenaamde nazi saluut’. Maar hul vergeet dat daai studente se familie koop hul koerant.

andrea van vuren ·

Byt vas PUK. Adriaan Basson van Beeld is besig om julle te vernietig! Hy’s ‘n jong redakteurtjie nog in babadoeke en sy informant Leon Wessels lei hom op die verkeerde spoor!
Andrea van Vuren

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.