Puk-raadsvergadering: Eloff tree uit, ondersoek van stapel gestuur

Prof Dan Kgwadi (L) en dr. Theuns Eloff (R) Foto: Phillip Bruwer, Maroela Media

Prof Dan Kgwadi (L) en dr. Theuns Eloff (R) Foto: Phillip Bruwer, Maroela Media

Dr. Theuns Eloff, visekanselier van die Noordwes-universiteit, het Donderdag aangekondig dat hy uittree as visekanselier van dié universiteit. Alle inisiasiepraktyke by dié universiteit sal met onmiddellike effek gestaak word.

Eloff word opgevolg deur prof. Dan Kgwadi, die huidige rektor van die universiteit se Mafeking-kampus.

Dié besluite is bekend gemaak tydens ‘n perskonferensie Donderdag in Pretoria, ná ‘n spesiale raadsvergadering wat Woensdag by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit gehou is. Tydens die raadsvergadering is besluite geneem oor die stappe wat by die universiteit geïmplementeer moet word ná onlangse berigte in die dagblad Beeld oor ‘n sogenaamde “Nazi-groet” en ander inisiasiepraktyke by die universiteit.

Die raad het hulle verder verbind daartoe om uitvoering te gee aan die minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Blade Mzimande, se versoek dat ‘n deeglike ondersoek geloods word oor sogenaamde “kulturele, induksie-, oriënterings- inisiasie- en vernederende praktyke, insluitend dade van fascisme en naziïsme” by die universiteit. Die lede van die kommissie van ondersoek word binnekort bekend gemaak, en die verslag oor hul bevindings word op 4 Junie aan die minister gelewer.

Eloff, wie se huidige termyn as visekanselier op 31 Mei tot ‘n einde sou kom ná 10 jaar in dié posisie, tree nou reeds op 31 Maart uit, en sal vir twee maande sy aan sy met Kgwadi werk om ‘n gladde oorgang te verseker.

Hy het dit duidelik gestel dat hy self die besluit geneem het om uit te tree, ten spyte van teenstand van lede van die raad. “Ek sou nie nou al uitgetree het as visekanselier as dit nie vir die afgelope paar weke se gebeure by die universiteit was nie,” het dr. Eloff gesê. “Ek glo egter dis in die beste belang dat die besluite wat nou geïmplementeer moet word, van die begin af deur prof. Kgwadi bestuur word. Ek kan met ‘n geruste hart sê dat ek nie weghardloop nie – ek glo die lede van die raad sal kan getuig daarvan dat ek in die afgelope 10 jaar, in 147 maande, nog nooit geskrik het vir ‘n uitdaging nie. Ek glo in prof. Kgwadi se bekwaamheid. Ons het die afgelope 10 jaar soos broers saamgewerk, en ek glo hy is as gevolg van sy agtergrond in ‘n beter posisie as ek om hierdie proses te bestuur.”

Oor die toekoms van Afrikaans aan die NWU se Potchefstroom-kampus, het Kgwadi gesê: “Ek glo sosiale integrasie is belangrik. Afrikaans is egter tans die enigste inheemse taal wat op universiteitsvlak funksioneer, en dit behoort in die toekoms as ‘n voorbeeld te dien vir ander inheemse tale.”

Hy is van mening dat Eloff die universiteit die afgelope 10 jaar gelei het tot stabiliteit en groot sukses in hul kernbesigheid, sodat die universiteit nou een van die bestes in die land is. “Leierskap behoort egter altyd ‘n instansie na nuwe hoogtes te neem,” het hy gesê. “Ek glo die universiteit sal onder my leiding goeie vordering met transformasie kan maak.”

Oor ‘n vraag oor of Kgwadi reken hy kan die Noordwes-universiteit beter bestuur as Eloff, het Kgwadi gesê: “Nee, ek dink glad nie so nie. Dit maak egter logistiek meer sin dat ek nou reeds oorneem om beplande verandering te implementeer.”

Eloff het hom sterk uitgespreek oor bewerings van ‘n fascistiese kultuur op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. “Dis verregaande om ‘n sprong te maak van groetgebare na ‘n kultuur van fascisme,” het hy gesê. “Kom praat gerus met die studente op die kampus; loop tussen hulle rond. Dis doodnormale studente van verskillende rasse wat saam studeer sonder enige sprake van ‘n fascistiese kultuur.”

Die raad het in hul verklaring onvoorwaardelik om verskoning gevra vir enige menseregteskendings by die universiteit. Hulle het beklemtoon dat ‘n interne ondersoek reeds aan die gang is en dat sekere dissiplinêre aksies reeds geneem is en nog binnekort geneem sal word.

Intussen het Chantelle Ludik, die primaria van Karlien, een van die koshuise op die Puk-kampus, ‘n regsmening ingewin nadat sy en haar volledige huiskomitee van hul ampte onthef en uit die koshuis geskors ná bewerings oor “ontgoeningspraktyke”.

Volgens Werner Human, prokureur van Hurter Spies, is die studente nie die geleentheid gegun om hulself te verdedig tydens die dissiplinêre verhoor waar hulle onthef en geskors is nie. Tydens die mediakonferensie het Herman van Schalkwyk, voorsitter van die raad, erken dat daar intussen bevind is dat al die geskorste HK-lede nie skuldig is aan al die aanklagte teen hulle nie. Hulle staar gevolglik nie dieselfde dissiplinêre stappe in dié oë nie, hoewel hulle almal wel skuldig is daaraan dat hulle nie die beweerde praktyke van menseregteskendings by die nodige owerhede aangemeld het nie, het hy gesê.

Die Noordwes-Universiteit het in ʼn persverklaring gesê die vier-persoon-ondersoekspan moet, in ooreenstemming met die Minister se versoek, die volgende doen:

  1. Deeglik ondersoek instel na die kulturele/induksie-/oriënterings-/ontgroenings- en ander afbrekende praktyke, “met inbegrip van dade van fascisme en naziïsme wat skynbaar by die instansie voorkom”.
  2. Bepaal of hierdie praktyke inderdaad “met die stilswyende goedkeuring van die universiteitsbestuur” voorkom.
  3. Bepaal die vlak van wanpraktyke (ontgroening) teen eerstejaarstudente en bepaal die doeltreffendheid van meganismes wat in plek gestel is om dit te voorkom.
  4. Evalueer die onderskeie ontvangs- en bekendstellingsprogramme op al die kampusse en doen ʼn normeringsoefening om nasionale en internasionale beste praktyk te bepaal, met aanbevelings oor moontlike herstrukturering of afskaffing.
  5. Bepaal die studentegemeenskap se vlak van begrip vir fundamentele menseregte.
  6. Bepaal die begrip en belangrikheid van tradisies in die studentegemeenskap en evalueer die inhoud van die huidige tradisies en die volhoubaarheid daarvan.
  7. Evalueer die institusionele en koshuiskultuur om te bepaal of dit oop en verwelkomend is.
  8. Oorweeg die bevindinge van die komitee wat deur die Potchefstroomkampus aangestel is om ʼn interne kampusondersoek te loods.
  9. Bepaal, soos gestel in die Minister se brief, of daar ʼn “kultuur van intimidasie, teistering, vrees en suiwering” by die universiteit bestaan teen personeel en studente wat poog om standpunt in te neem teen sodanige praktyke.

Lees ook:
Puk-groet: Raad besluit oor Puk se pad vorentoe
Zuma reageer op Puk-groet
Regshulp vir geskorste Puk-HK-lede
Oud-student bedank Puk vir balans
Video: Hitler se reaksie op Puk-groet
Basson se roekelose joernalistiek
Video: pukke moet transformeer – departement
Puk-studente begin met eie veldtog
Video: Puk-studente stap uit tydens Nazi-video
Solidariteit v. Beeld lok vurige reaksie uit
Solidariteit: Bloedneus vir Beeld en Basson
Puk-groet: Departement sê koppe gaan rol
NWU-raad: “Ons sal nie menseregteskendings duld nie”
Puk-groet: NWU-bestuur moet dringend afgedank word – HETN
Premier reageer op Puk-groet
Puk-groet: Twitter-vermaak terwyl storm woed
Debat oor Puk-groet ‘n g*tslag vir Afrikaans
Puk-rektor sê oor Nazi-saluut

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marietjie ·

Ek is jammer dat Theuns op so n manier gaan. Jammer om te se dit is politiekery omdat dit die enigste en beste Afrikaanse universiteit so “getransformeer” moet word. Standaarde gaan seker ook daal soos by ander universiteite !!! Dis Hartseer!!

Demokraat ·

Stem saam Marietjie – en op hierdie manier word die mat heeltemal onder die Afrikaner, wie minstens nog sy taal probeer beskerm het, ook uitgetrek – alles ten behoewe van sogenaamde transformasie (wat dit ookal mag beteken). Dit blyk dat transformasie vir die Afrikane slegs beteken om “op beslag te lê of oor te neem” en nie om iets self te skep of tot stand te bring nie.

Stephen ·

. Die huiskomitee is geskors nadat ‘n video waar eerstejaarstudente van dié koshuis ‘n sogenaamde “Nazi-groet” uitgevoer het, bekend geword het.

Nie waar nie. Komitee is geskors nog voor video insident.

Slim Daan ·

Wil voorkom die ” DAN’S ” ( soos in die naam hier bo ) van ons samelewing is per groot toeval altyd daar op die regte tyd en plek ? Gooi dit meer oor die boeg van suiwer opportunisme, want kyk nou net hoe lekker ingehaak loop die NF en EFF saam saam hof-toe !!? Kompleet getroud en gekerker.
Soveel dae soveel dinge. ( Of is dit meer n geval van die leeu wat skielik by die lam loop le ? )

Johann ·

Blade Mzimandi… Hoe hy ooit enige iets met opvoeding te doen kan hê gaan my verstand te bowe. Ek was ook op Potchefstroom tussen 2002 en 2006 en nooit was daar enige iets wat naastenby vergelyk kon word met fascisme en Naziïsme. Hierdie is sommer net ‘n bogstorie, hulle kan dit nie vat dat daar ‘n Afrikaanse universiteit is wat beter bestuur word as hulle poor excuse vir tersiêre opleiding instansies nie
(gewysig)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.