Puk-rektor bereik skikking

Prof-Herman-van-Schalkwyk

Prof Herman van Schalkwyk Foto: Noordwes-Universiteit

Die raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) het tydens hul vergadering op 19 November 2015 die rektor van die Potchefstroomkampus, prof Herman van Schalkwyk, se versoek om ‘n skikking goedgekeur.

Van Schalkwyk is met ingang van 1 Januarie 2010 aangestel en sy aanstelling as kampusrektor was tot 31 Januarie 2016.

Met die aanstelling van die huidige visekanselier aan die einde van 2013 het die destydse raad egter besluit om sy ampstermyn as kampusrektor en adjunkhoof te verleng om saam te val met die termyn van die visekanselier, wat in 2020 verstryk.

Die raad het tydens ʼn buitengewone raadsvergadering op 21 Maart 2015 besluit om eksterne regsadvies wat hulle ingewin het, te volg. Dit lui dat enige poging om die ampstermyn van die kampusrektor te verleng, op onwettige – en dus ongeldige – optrede van die raad sal neerkom. Daar kan dus nie regtens uitvoering gegee word aan die raadsbesluit Van Schalkwyk se ampstermyn te verleng nie. “Die raad het benadruk dat hierdie besluit slegs gebaseer is op die regsadvies wat ingewin is,” het adv. Johan Kruger, voorsitter van die raad, in ʼn verklaring gesê.

Die raad het tydens die vergadering in Maart ‘n mandaat aan hul uitvoerende komitee verleen om voort te gaan om die uitkoms van die besluit met Van Schalkwyk te bespreek, wat uiteindelik gelei het tot Donderdag se besluit, om sy skikking goed te keur.

“’n Ooreenkoms tot die tevredenheid van beide partye is met prof Van Schalkwyk bereik,” het Kruger bygevoeg.

Van Schalkwyk se ampstermyn sal volgens die skikking op 31 Desember 2015 beëindig word. “Die raad het besluit om ‘n ex gratia-betaling aan hom te maak. Geen verdere besonderhede met betrekking tot die skikking tussen hom en die Raad sal bekendgemaak word nie,” het Kruger verduidelik.

“Die raad het baie hoë agting en bewondering vir prof Van Schalkwyk se rol en die werk wat hy verrig het in sy hoedanigheid as rektor van die Potchefstroomkampus en as adjunkhoof van die NWU. Ons wens hom alles van die beste toe vir die res van sy loopbaan.”

Van Schalkwyk het sy waardering uitgespreek vir die feit dat ‘n skikking bereik is en vir die wedersydse welwillendheid tussen die partye.

Meer inligting oor ʼn waarnemende rektor sal eersdaags bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bruno Stef ·

Make him a offer he cant refuse.Ek bevraagteken na aanleiding van die gebeure op NWU wat eintlik agter die SG skikking sit maar dit is alles nou huidiglik net spekulasie.Tyd gaan leer en ek vermoed dat die ontnugtering vorentoe binne n kort tydperk duideliker sal word ons wag maar en sien.

arie plaasboer ·

@Bruno, ek dink stellig ook dat hy `n aanbod gekry het wat hy nie kon ignoreer nie.

Johann Marx ·

Nou gaan daar seker ‘n regstellende aksie transformasie aanstelling gedoen word, wie se moedertaal NIE Afrikaans is nie, en wie se kultuur NIE Afrikaans is nie……….en dan begin ons voor met eindelose argumente, dreigemente, hof-aansoeke, betogings, optogte en petisies…vir die behoud van Afrikaans en die Afrikaner Kultuur. Waarom doen ons dit?

Anny Penny ·

As oud PUK is ek ook al hartseer as ek al die goed lees en weet jy staan magteloos teen hierdie golf van verengelsing. Waarom kan ander lande hul onderskeie universiteite hê met inheemse tale as hoof onderrig en navorsingstaal bv Nederland, Duitland en vele ander lande sonder enige “agterstand” in navorsingsuitsette ens maar in RSA met Afrikaanse klasse en navorsing kan dit nie gedoen word nie. Dit gaan hoer in SA daaroor dat alles wat klink of ruik na Afrikaans moet doodgemaak word!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.