Puk-rektor reageer op berigte oor ‘spanning’ by NWU

Prof Herman van Schalkwyk Foto: Noordwes-Universiteit

Prof Herman van Schalkwyk Foto: Noordwes-Universiteit

Prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit, het Donderdag in ʼn brief reageer oor berigte in Beeld dat daar “spanning” is tussen die NWU-bestuur en die Potchefstroomkampus, veral rondom die strategiese proses en dat dié spanning sleg is vir die land.

Van Schalkwyk het gesê gekoppel aan hierdie twee temas, het Beeld ook die indruk geskep dat hy nie op hul navrae wou reageer nie. “Sulke foutiewe bewerings in die openbaar kan nie onbeantwoord gelaat word sonder dat die NWU benadeel word nie,” het hy gesê.

Volgens hom is die universiteit in ʼn strategiese beplanningsproses wat potensieel ook implikasies vir die bestuursmodel en struktuur van die NWU inhou. Daarom is dit belangrik dat daar ʼn debat onder interne en eksterne belangegroepe gevoer word.

Van Schalkwyk het dit benadruk dat die belangrikheid van transformasie deur die kampusbestuur onderskryf word. “Ons doen dit in ooreenstemming met die transformasiedoelwitte wat die Raad van die NWU in 2012 goedgekeur het,” het hy gesê. “Ons is besig om ons strategieë tot uitvoer te bring om in alle opsigte te transformeer, en nie eensydig net ten opsigte van gelykheid nie.” Hy het ook die volledige transformasiestatistiek in die brief bekend gemaak.

Hy het gesê sy ervaring van Beeld se beriggewing die afgelope tyd oor hom en die Potchefstroomkampus is dat dit nie objektief of gebalanseerd en dus regverdig was nie. “My frustrasie met die betrokke koerant en daarom ook my antwoord op hul navrae, kom oor ʼn lang tyd. Sonder om u met detail te bemoei, het dié frustrasie verlede jaar daartoe aanleiding gegee dat ons ʼn formele klag, met die medewete van dr. Theuns Eloff as visekanselier, by die Persombudsman ingedien het. Na dr. Theuns se bedanking, is hierdie klag egter téén ons advies teruggetrek.”

Van Schalkwyk het beklemtoon die bestuur van die Potchefstroomkampus bly verbind daartoe om konstruktief deel te neem aan die beplannings- en visioeneringsproses. “Dit is jammer dat ons insette en goedgemotiveerde deelname om die NWU na ʼn nog hoër vlak te neem en skade te verhoed of te beperk, gesien word asof dit onnodige spanning veroorsaak. Die feit dat daar aanvanklik nie behoorlik gekommunikeer kon word oor die proses nie, is dalk bydraend tot dié persepsie.”

Lees sy volledige brief hier.
Lees alle vorige berigte oor die Puk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet ·

Dit is net soos my indrukke van media 24 as beeld ‘n skryf is dit gewoonlik ver van die waarheid het net oog op sensasie. Dieselfde met volksblad vat die artikel oor Brandfort daar kan nie meer negatiewe kommentaar wees nie al wat hulle bereik is dat huis pryse daar daal wie wil nou ‘n eiendom in Brandfort hê

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.