PUK-skêraanval: Verdagte bly agter tralies

Lerato Phoofolo in die hof. Foto: Met vergunning van Susan Cilliers/BEELD

Lerato Phoofolo in die hof. Foto: Met vergunning van Susan Cilliers/BEELD

Lerato Phoofolo (24), die derdejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus wat daarvan verdink word dat hy ʼn huiskomiteelid, Hendri van Dyk, Vrydagoggend met ʼn skêr aangeval het, se borgtog is Dinsdagmiddag in die dorp se landdroshof teruggetrek.

Phoofolo is Vrydag kort nadat hy Van Dyk glo in die manskoshuis aangeval het, in hegtenis geneem op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy het dieselfde dag in die Potchefstroom-landdroshof verskyn en is op borgtog van R1 500 vrygelaat en was veronderstel om weer op 21 Augustus in die hof te wees. Hy is egter Saterdag weer in hegtenis geneem omdat hy van sy borgtogvoorwaardes verontagsaam het deur die manskoshuis te besoek alvorens die saak afgehandel is.

Phoofolo het Maandag weens ʼn klag van minagting van die hof in die landdroshof verskyn en die saak is tot Dinsdag uitgestel.

Maj. Pelonomi Makau, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê Phoofolo se borgtog is teruggetrek en hy bly in aanhouding totdat hy weer op 27 Augustus in die hof moet verskyn. “ʼn Aansoek is ook by die hof ingedien dat die beskuldigde vir sielkundige waarneming gestuur word,” het sy gesê.

Hendri van Dyk. Foto: NWU

Hendri van Dyk. Foto: NWU

Maroela Media het vroeër berig die aanval het glo omstreeks 07:00 in die manskoshuis Over de Voor op die kampus plaasgevind.

Johan van Zyl, woordvoerder van die NWU, het toe aan Maroela Media gesê die beskuldigde het glo vroegoggend harde musiek in sy kamer gespeel. Talle studente het gekla waarna Van Dyk, ʼn vierdejaarstudent, hom gaan vra het om sy musiek sagter te sit aangesien daar studente is wat nog geslaap het of besig was om te studeer.

Volgens Van Dyk het hy die kamer binnegestap en die student gevra om sy musiek sagter te draai. Phoofolo het glo sonder waarskuwing opgespring en Van Dyk drie keer met ʼn skêr gesteek.

Die beskermingsdienste op kampus is na die koshuis ontbied waarna die polisie ook ingeroep is. Phoofolo is in hegtenis geneem en van die kampus verwyder.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter V ·

Ek kan nie glo hy is n sielkundige geval, iemand moes al iets agter gekom het in die drie jaar wat hy op kampus is

Winston ·

Dit is in die aard van n skerpioen om te steek. Wat het verander? Hou hom in hegtenis. Hy is gevaarlik

Pierre Celliers ·

Hierdie is ‘n poging tot moord saak en hy moet lank sit. As jy iemand drie keer met ‘n sker steek, wil jy die persoon doodmaak, nie ernstig beseer nie! Sielkundige waarneming se voet man!

Bruno Stef ·

Dit is gewoon net goeie Westerse maniere wat ons almal van kleins af geleer het tesame met dissipline om jou mede bewoners in ag te neem.As dit n Mynkampong was sou ek in n mate die misdadiger met die sker se optrede kon verstaan. Seker maar net ons Westerse konsep /kultuur en rassisme was wat vir die voorval veranwoordelik is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.