Puk-student se raaiseldood: ‘Ons sal seker eendag weet hoekom’

Jean, Liz en Ettienne de Villiers. Foto: Facebook

Jean, Liz en Ettienne de Villiers. Foto: Facebook

Die oorsaak van die eerstejaar-Puk-student, Ettienne de Villiers (19), se dood is nog nie bekend nie.

De Villiers se woonstelmaat het hom omstreeks 17:00 Vrydag dood aangetref op sy bed in die Uniloft-woonstelkompleks wat aan die Noordwes Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus grens. Sy woonstelmaat het onmiddellik die nooddienste ontbied en paramedici het probeer om De Villiers by te bring, maar hy is op die toneel dood verklaar.

De Villiers se ma, Liz, en haar suster, Carin du Plessis, het dadelik uit Pretoria Potchefstroom toe gery. De Villiers se pa, Jean, het van Port Elizabeth af gekom waar hy in daardie stadium weens werksverpligtinge was. Ettienne was die De Villiers-egpaar se enigste kind.

Du Plessis het Maandag aan Maroela Media gesê De Villiers se ouers is platgeslaan. “Hulle is heeltemal stukkend. Daar is nie woorde nie; wat sê ʼn mens vir hulle? Dit is vir die hele familie ʼn reuseslag. Ons almal funksioneer maar net op auto-pilot.”

Volgens Du Plessis sou De Villiers 16:00 Vrydag ʼn toets geskryf het voordat hy daarna op ʼn joolkamp sou vertrek. Toe hy nie vir die toets opdaag nie, het sy woonstelmaat onraad gemerk en gaan ondersoek instel.

“Dit moes so vinnig gebeur het, want sy ma het 14:00 laas met hom gepraat en sy pa 15:00,” het Du Plessis gesê. “Hulle het gebel om vir hom te sê sterkte met die toets. Hy het vir hulle niks gesê dat hy sleg voel of enigsins so iets nie.” Volgens Du Plessis het De Villiers glo wel vir ʼn vriendin gesê dat hy nie baie lekker voel nie, maar hy was nog aan’t herstel van griep.

“Dalk wou hy nie vir sy ouers sê hy voel sleg nie, omdat hy so opgewonde was oor die joolkamp. Dit was sy droom om in die joolkomitee te dien en hy was ongelooflik opgewonde oor hierdie kamp. Hy kon nie wag om te gaan nie,” het Du Plessis gesê.

Sy het gesê wat Ettienne se dood nog meer raaiselagtig maak, is dat hy ʼn sportman was wat baie fiks was en gesond geleef het. “Hy het op skool besonder in krieket uitgeblink, maar ook aan al wat ʼn sportsoort was, deelgeneem. Hy het onder meer ʼn gevorderde kursus in diepseeduik voltooi. Hy was so aktief en aan die gang. Glad nie siek of iets nie.”

Du Plessis het gesê Liz en Jean is vandag terug Potchefstroom toe om sy liggaam te gaan uitken en sy kamer op te pak. Die nadoodse ondersoek sal na verwagting Dinsdag gedoen word.

“Ettienne was so ʼn jong, lewenslustige mens met so ʼn blink toekoms voor hom. Hy het duisende vriende gehad. In elke foto van hom wat ons het, trek hy sy gesig of het ʼn groot glimlag. Daar is regtig nie een lelike ding wat enigiemand oor hom kan sê nie,” het Du Plessis gesê.

Ettienne het ʼn vol lewe geleef en “reeds so baie op sy jong ouderdom bereik”. “Hy het selfs al in ʼn fliek gespeel! Hy was ʼn ekstra in Lien se lankstaanskoene wat by Hoërskool Garsfontein [waar De Villiers op skool was] verfilm is,” het sy bygevoeg.

“Al was hy die enigste kind, was hy met die regte beginsels en liefde grootgemaak en het hard gewerk vir dit wat hy gekry het. Hy het so ’n mooi hart gehad. En toe kom haal die Here hom so gou. Ons kan dit nie verstaan nie, maar ons sal seker eendag weet hoekom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Marietjie ·

Sterkte aan die ouers dit is n groot hartseer en leemte maar weet net dat hy nou by n baie beter plekkie is. Bid dat God jul sal troos in hierdie vreeslike moeilike tyd. Hoe begrawe n ouer hul kinders? Dit breek my. STERKTE xxx

Corentia Swanevelder ·

Baie, baie sterkte aan sy ouers, familie en vriende. Dit is ongelooflik hartseer.MAg God vir jul berusting en antwoorde gee om al jul vrae.

Barend ·

Sterkte aan die familie, hy klink na ‘n besonderse seun. Die oorsaak le seker maar in die griep, ek weet van twee jong manne wat ook aan griep oorlede is onder soortgelyke omstandighede. Die hart het gaan staan in hulle gevalle as gevolg van te veel selfdruk en te min bedrus. Los oefeninge vir twee weke en moet nie te hard studeer tot jy beter voel nie, is die raad wat ons aan jong siek mans met sterk prestasiewil moet gee.

Ekwilibrium ·

Ja, kyk bv. na Gugu Zulu; jonk en fiks maar met die doodsnikke van ‘n nare griep onder lede. Skokkend tragies, R.I.V Ettiene. Asseblief mense; met griep vat jy dit rustig totdat jy GESOND is.

Joann ·

Dan kom die vraag by mens op,hoekom Here? Dit is al wat hul gehad het. Maar die mens wik maar God beskik. Here vertroos en gee die ouers krag in die tyd asb.

Denise ·

Dit is baie hartseer so n pragtige jong man sterkte vir sy ouers net hul Hemelse Vader kan hulle deur die pyn dra!!!!

Theresa B ·

My innige simpatie. Niemand kan sê hulle weet hoe julle voel nie. Hy was julle enigste, maar die Here dra julle in hierdie tyd. Die Here weet. Eendag sal julle antwoorde hê. Sterkte vir die pad vorentoe.

Karma ·

Ai, ai, so jonk – sterkte aan die familie. Onthou: “Only the good die young”.

Mariette Hammann ·

Baie sterkte aan sy ouers en al sy familie en vriende.

Christine ·

Sterkte het ook my seun 4jaar gelede in motor ongeluk verloor.Daars nie woorde om die seer te beskryf.

Paul Hartman ·

Ek ken die famielie persoonlik ek en sy Pa was saam in die weermag het Ettienne ennkeer gebabysit toe hy kleiner was ek en my gesin is baie hertseer oor sy afsterwe.Ons bid vir hulle en dink aan hulle.

Fransie ·

Wat ‘n pragtige gesin en hoe verskriklik tragies!!! Innige simpatie aan die ouers, familie en vriende.

Hannelie ·

Ek weet nie wat om vir julle as ouers te sê nie….op die oomblik is woorde so leeg. Al wat ek kan sê is dat ek jul opdra aan ons Vader om jul vas te hou met Sy Liefde en te vertroos. Hou vas aan Hom, want Hy alleen kan jul deur hierdie diep donker hartseer neem. Julle is so ‘n mooi gesin en hy was so verskriklik jonk. Al wat ek kan sê is sterkte met die pad vorentoe….jul sal wel eendag berusting vind. Maar op jul tyd.

Annemarie Smith ·

Sjoe! Dit is verskriklik hartseer! Geen woorde sal óóit troos vir die ouers kan bring nie. Ek kan net vir sy familie en vriende sterkte toewens, máár veral vir sy ouers. Wat ‘n groot verlies?! Heng, weet net dat ons harte ook aangeraak is deur dit wat ons gelees het. Mag God vir jul optel en dra….elke dag, van nou tot in ewigheid!

WeesWys ·

Liewe Jean en Liz
Al gaan ek ook deur ‘n dal van doodskaduwee, U is met my. U stok en U staf die vertroos my… Ons is vreemdelinge, maar ons huil saam met julle. Julle is in ons gedagtes en gebede.

marlise ·

Sterkte oom en tannie Ettienne was n amazing persoon en hy het altyd my dag gemaak as ek saam hom was in n klas dis n jammerte :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.