Puk-student sterf aan nie-aansteeklike meningitis

Ettienne de Villiers.

Ettienne de Villiers.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het Maandagaand gesê dat Ettienne de Villiers, ʼn eerstejaarstudent wat Vrydag dood in sy woonstel aangetref is, aan ʼn nie-aansteeklike vorm van meningitis gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig Jean de Villiers, Ettienne (19) se pa, het gesê dat Ettienne aan virale meningitis dood is. Die oorsaak van sy dood is deur ʼn nadoodse ondersoek vasgestel.

Fika Janse van Rensburg, rektor van die universiteit, het in ʼn verklaring gesê dat die oorsaak van Ettienne se dood nie verwar moet word met die aansteeklike breinvliesontsteking (bakteriële meningokokkale meningitis) nie. “Ná ʼn gesprek met die staatspatoloog is daar bevestig dat Ettienne se dood deur die nie-aansteeklike breinvliesontsteking (virale enkefalitis) veroorsaak is,” het Janse van Rensburg gesê.

“Help asseblief dat alle bespiegelings en gerugte oor vermeende oorsake van Ettienne se tragiese dood hiermee stopgesit word. Ek gee die versekering, indien daar enige risiko van enige aansteeklike siekte sou ontstaan, sal ons onmiddellik die nodige stappe doen en dit amptelik bekendmaak, soos ons gebruik is.”

Janse van Rensburg het gesê die universiteit kry saam met Ettienne se ouers, woonstelmaat en ander familie en vriende swaar. “Mag hulle in hierdie moeilike dae besondere vrede en vertroosting ervaar, en dat die NWU-Puk-gesin hulle bystaan en dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Laura ·

Ek verstaan dat dit nie aansteeklik is nie, maar ek het kommer oor hoeveel jong studente spesifiek van Potchefstroom aan breinvliesontsteking sterf, elke jaar is daar een of twee.

Johan van Zyl ·

Laura, Paula en Magda,
Breinvliesontsteking is nie eie net aan Potchefstroom nie. Dit kom voor by baie skole en universiteite – veral daar waar mens met ‘n hoë konsentrasie of groot hoeveelheid mense werk.

Verskil is, die NWU-Puk volg ‘n deursigtige benadering met kommunikasie indien so ‘n geval homself voordoen. Ons kommunikeer dadelik met alle studente, personeel, oudstudente, ouers en die media. Ons moedig studente gereeld aan om hulself teen ‘n groot afslagprys sommer op kampus, teen meningitis te kom inent.
Ek is nie seker of ander universiteite dit ook so hanteer nie.
Johan van Zyl, Mediawoordvoerder, NWU-Puk

Stan ·

Die mense slaap in kamers met toe vensters en swak ventilasie. As troep jare gelede in die weermag het ons probleme gekry as ons nie ten minste een venster in ons kamers oop gehad het nie. Dit was presies om die siekte te voorkom.

Scalla ·

Paula enLaura. Dit is wel kommerwekend en tragies, Aantal studente word gereken op 20000, dit is persentasie gewys min. Sterkte aan die gesin.

Johan de Klerk ·

Dis irrelevant of dit aansteeklik is of nie– die man is dood daaraan en dis genoeg rede om daarna te kyk. Dit kwel mens dat PUK ‘n verklaring uitreik op ‘n webwerf se kommentaarblad–is dit die aangewese plek? Kon die rektor en woordvoerder nie darem meer formele forum hiervoor gebruik nie, soos ‘n kort media-konferensie? Dit kwel mens verder dat die rektor vir mens wil dink, en werklike besorgdheid afmaak as bespiegeling wat gestop moet word? Is die media- woordvoerder by PUK ‘n dokter wat sommer kan verklaar alles is reg?

Johan van Zyl ·

Johan, eerstens, is die persverklaring juis in die kommentaarveld ook gepubliseer sodat ons almal wat reeds kommentaar gelewer het, of die berig op Maroela Media gelees het, op hoogte kon bring van die jongste inligting. Ons het dit natuurlik ook formeel aan Maroela Media se joernalis en aan ander mediahuise ge-epos.

Tweedens, om 20:00 in Potchefstroom ‘n onmiddellike mediakonferensie te probeer reel, is onmoontlik. Ons trefkrag met ‘n elektroniese persverklaring is heelwat groter en meer effektief.
Nie ek of die rektor is mediese dokters nie, en daarom het ons juis die persverklaring in oorleg met die kampusdokter en staatspatoloog voorberei.

Die doel van die verklaring was om te voorkom dat paniek gesaai word oor ‘n moontlike aansteeklike siekte. Jy moet onthou, ons werk met meer as 20 000 studente op die Potchefstroomkampus en het eerstehandse ervaring van so ‘n krisis. As gerugte hand uit ruk, is dit chaos. Ek hoop dit maak sin!

Johan van Zyl, Mediawoordvoerder, NWU-Puk

Johan de Klerk ·

Johan van Zyl, jy het elders ook sommer die versekering gegee alles is reg met die klasse en ventilasie– maar hoe weet jy dit? Julle (PUK) is in ‘n tipe van ontkenningsfase– en dit gaan nog lewens kos. Wees oop vir die kommentaar wat hier geplaas word– julle het n probleem op PUK met breinvliesontsteking jaar na jaar, en om ons te probeer vertel dat dit elders ook voorkom, los nie jou probleem op nie, deursigtige benadering al dan nie. Sien bv. Stan se kommentaar hierbo– ek het ook diensplig gedoen in (SA geneeskundige diens- SAGD) en breinvliesontsteking steek kop uit waar troepe in ‘n tent of bungalow alles toemaak in die winter (mens wat mekaar sou ou asems inasem, kry breinvliesontsteking). Stan is doodreg dat daar ‘n beleid ingestel is vensters ens moet oop wees– en dit het onmiddelik die probleem opgelos. Weet julle dit? Het julle so ‘n beleid? Julle gaan julleself begin blootstel met siviele eise deur aanmekaar kop onder die probleem te ignoreer, terwyl julle uit alle oorde gewaarsku word.

Stem saam ·

Ek stem saam met Johan van Zyl, oop en eerlik in die publiek, dit is die publiek wat maklik paniek saai en hoe gouer so hartseer saak reg hanteer word hoe beter. Aan die anderkant sit hartseer, verslae ouers, eers as jy weet hoe dit voel, sal jy verstaan. Verder moet ek eerlik sê, ek was dankbaar om die verslag te lees, dit beteken hierdie talentvolle jong man is nie aan sy eie of iemand anders se hand dood nie. Verder is dit nie net op hierdie kampus en opleidingsentrum wat die virale meningitus kop uitsteek nie. Hierdie spoedige openbare optrede kan baie lewens red. Ons almal wil maar te graag gou die verkoue self dokter en weet nie dat dit iets baie erger kan wees nie!!! Ouers kan nou hul jong studente inlig en vereis dat hul met ‘n verkoue dokter toe gaan. Soos ons uit al die berigte en forum kan sien, dit gaan vinnig, so hoe gouer en meer ons weet hoe beter. Dankie vir ‘n oop eerlike verklaring.

Ella ·

Johan de Klerk jy is die een wat aannames maak. Ventilasie gaan nie die probleem oplos nie aangesien ENIGE virale infeksie (in jou keel, maag, enige plek) vir jou ook virale menigitis kan gee. Dit gaan alles oor jou vatbaarheid vir hierdie virus , of die virus oor die bloed-brein skans kan beweeg, en die virulensie van die virus. En ja ek weet dit, want ek is ‘n mediese dokter. Selfs die ou gewone “influenza” virus kan vir jou meningitis gee. Die PUK kan nie hier die skuld gegee word nie. Dit is bloot ‘n tragiese gebeurtenis wat niemand kon keer nie.

Joann ·

So tragies. Ek het ondervinding van beide meningitis,albei is maar gevaarlik. Snaaks volgens wat daar van hom gese word was daar nie simptome nie. Gewoonlik koors,hoofpyn,braking en bietjie deurmekaar.

Willie ·

Wat n tragedie.. so onnodig.. Met SA se poorte so oop, en die siektes dink ek dit is moeilik om simtome net so op te tel…

Marietjie ·

God het sy mooiste blom kom pluk. My hart gaan aan die ouers en bid vir jul want om jou eenigste kind te begrawe is nie maklik nie. Bid vir vertroosing in hierdie moeilike tyd.

Rentia ·

Dit is tragies wat gebeur het, maar ons moet groot asseblief as God se kinders ophou se God het sy mooiste blom kom pluk, God gee, satan steel. Dis nie God wat hom kom haal het nie, satan steel om ons verder van God af weg te neem en hierdie woorde kan ‘n ouer wat nie sterk staan in hul geloof nie kwaad maak teenoor God en Hom wegstoot omdat daar gese word Hy het die kind kom haal. Groot asseblief, ons besef nie ons authority in Jesus nie en wat ons woorde spreek nie.

SNEL ·

Rentia, jy het nou presies gesê wat ek gister gedink het toe ek so deur die kommentare lees. Ons lewe in n gebroke wêreld wat vol hartseer en moeilikhede is (ons sien in n dowwe spieël en verstaan nie hoekom goed gebeur nie), maar met God se hulp kom ons daardeur en Hy gee krag, maar om sulke goed te sê… Marietjie bedoel dit goed, opreg en uit die hart, en sy is nie die eerste of enigste een wat dit al gesê het nie (ek het dit al duisende kere gehoor), maar mense besef net nie dat sekere dinge ander eerder weg van God as na God toe kan trek of dat iemand se geloof n knou kan kry in so tyd wat hul juis broos en seer is nie. Marietjie, moet asseblief nie sleg voel nie, jy het dit net goed bedoel. Ek het dit al baie gehoor, maar ek voel daaroor soos Rentia.

Johan van Zyl ·

Johan,

Ons het besluit om die verklaring gisteraand in dié kommentaarveld ook te publiseer, sodat ons dié wat reeds kommentaar gelewer het, of die berig op Maroela Media gelees het, op hoogte kon bring van die jongste verwikkelinge. Ons het dit natuurlik ook formeel aan Maroela Media en ander mediahuise ge-epos.

Tweedens, is dit onmoontlik om 20:00 gisteraand ‘n dringende, onmiddellike mediakonferensie te reel. Die elektroniese verklaring het meer trefkrag en is baie meer effektief – veral daardie tyd van die aand…

Nie ek of die kampusrektor is mediese dokters nie, dit is juis daarom dat ons die persverklaring in oorleg met die kampusdokter en staatspatoloog voorberei en uitgereik het.

Die doel van die verklaring was om te verhoed dat paniek verder gesaai word oor hierdie spesifieke siektetoestand wat nie aansteeklik is nie. Jy moet besef dat ons met meer as 20 000 studente op die Potchefstroomkampus werk. As gerugte eers hand uit ruk, is dit chaos. Ons probeer bloot om dit te verhoed.
Ek hoop jy verstaan dit…

Johan van Zyl, Mediawoordvoerder, NWU-Puk

Johan de Klerk ·

Johan, nee ek verstaan dit (ek is professioneel gekwalifiseerd met ‘n suksevolle praktyk), maar stem bloot nie saam nie. Kom gerus weg van die idee dat as julle ‘n verklaring uitreik, ouers en die publiek dit goedsmoeds sal aanvaar en nie die korrektheid daarvan sal betwyfel nie. Dis ‘n demokrasie— mense dink vir hullself? Verstaan julle dat dit irrelevant is dat julle die punt wil maak oor aansteeklikheid? Al wat julle bevsetig, is dat beide soorte al by PUK voorgekom het en noodlottig was. Ek besef ook dat julle meer as 20 000 student hanteer— en veral daarom is begryp ek eerlik nie dat dat julle nie die erns van die saak besef nie.

Laura ·

Dankie Johan van Zyl, ek onthou toe kinders saam my op skool daarvan gesterf het, moes ons almal voorsorg tref en inent daarteen, en jul kan seker nie studente verplig nie, miskien moet die ander opleidings instansies ook gemeenskappe en media inlig.

Ouer ·

Wel, gerugte of nie, as ouer sou ek ook bekommerd wees aangesien dit nie die eerste sterfgeval aan dié spesifieke siekte aan die PUKKE is nie, wat kommerwekkend is. Geen rektor of woordvoerder gaan vir ‘n ouer voorskryf hoe bekommerd hulle moet wees nie. Terwyl julle nou nie dokters is nie, neem asb net kennis dat die inenting nie vir alle tipes werk nie. Lees ek verkeerd dat hy toe aan ENKEFALITIS dood is en julle wil nou almal laat inent teen MENINGITIS , dalk is dit tyd dat julle ‘n dokter kry om te praat en nie ‘n rektor of woordvoerder wat niks van die siekte af weet nie.

Paramedikus ·

Die tragiese afsterwe van Ettiene de Villiers verwys. Vorige kommentare kritiseer die wyse waarop die Universiteit die saak hanteer het. Lees asb die berig noukeurig voor u kommenaar lewer!. Die Rektor en die woordvoerder van die Universiteit wil nie vir die publiek dink nie, hulle gee slegs die feite vanaf die staatspatoloog deur en ek steun hulle ten volle daarin . Inenting teen breinvliesontsteking is vrylik beskikbaar en dit is by almal op die Universiteit aan te beveel om hierdie prosedure te ondergaan. Verkeerde hantering (totale oorbeklemtoning) van so ‘n sensitiewe saak deur ‘n sensasionele perskonferensie te hou, kan baie maklik tot publieke paniek lei, soos wat byna in die verlede tydens soortgelyke gevalle gebeur het. Wat doen mens met die bevolking van die dorp wat almal so vinnig moontlik probeer wegkom van die “besmetting” af?. In die verlede was daar sprake nadat die besonder besmetlike vorm van breinvliesontsteking lewens ge-eis het, om die dorp onder militêre kwarantyn te plaas, ten einde verspreiding van die siekte na ander dele van die land te voorkom. Mense sou die dorp kon binnekom, maar NIEMAND sou dit kon verlaat nie!. Watse chaos sou dit nie afgegee het nie?!. Die Rektor en die mediawoordvoerder van die Universiteit het met verantwoordelikheid ‘n netelige en hartseersaak met oorleg en sonder sensasie hanteer en die hele bevolking van Potchefstroom in ag geneem en gerus gestel!. Hulle behoort eerder geprys as gekritiseer te word!

Stem saam ·

Dankie Paramedikus, ek voel ook so. Mens kry maar net mense wat nooit ooit tevrede sou wees nie. Sou die rektor stil bly soos ander word hy gekruisig, praat hy word hy gekruisig. Wel Rektor ek wens ek kon meer eerlike mense in die land sien, dan was die misdaad syfer nie so hoog nie. Die een wat die deel gedeel het van toe vensters kan moontlik ‘n oorsaak wees, dankie, dit is iets wat ons weer kan leer. Alhoewel ek baie baie mense ken wat NOOIT ‘n venster oopmaak nie en hulle hele familie het nog nooit so iets oorgekom nie, dit is sooo bedompig, ek wil dood daarvan.

Sandra ·

Die feit bly staan sorg dat jou kind ingeent word teen menigitus. dit bly jou as ouer/tiener se verantwoordelikheid om jou teen alle aansteeklike siektes in te ent.

Sandra ·

Wil net by se. Al is die nie n aansteeklike meningitis, tref voorsorg en veral in die winter tye n mens se se liggaam word blootgestel aan alle kieme, bakterie en virale goggas.

Hannelie ·

Paramedikus, ons praat van meningites hier, nie n verkoue nie. Jy van alle Mense behoort te weet dit is die laaste virus wat jy net onder die mat kan invee! Gaan terug na jou mediese opleiding.

san ·

JA EN ?? HET JY VOORSIENING GETREF TEEN GRIEP. KAN NET SO GEVAARLIK UITDRAAI. DAAR IS VERSKILLENDE SOORTE GRIEP OOK. VARKGRIEP HET OOK AL BAIE LEWENS GEEIS . Hannelie dis heeltemal reg wat Paramedikus gese het. en aller mins dink ek wil hy dit onder die mat invee.

Louise ·

Ek wil hierdie ouers vandag so opdra in gebed na die troonkamer van Jesus Christus. My gebed is dat GOD hulle deur hierdie hartseer tyd sal dra versterk en staandhou.
Niemand van ons leef vir altyd nie. Elkeen se leeftyd is in GOD se handpalms gegraveer. Hoe hartseer dit ookal mag wees. Die Woord verklaar dit wat ons is, is genade. Dit wat ons het, is geleen. En iets wat geleen is, moet weer terug besorg word aan die regmatige eienaar aan wie dit behoort. Ons weet nie onder watter omstandigehede ons gaan sterf nie. Net GOD weet alleen. So wat ookal die redenasie die vrae hoekom en waarom, net GOD sal dit Eendag vir baie ouers wat nie nou verstaan nie dit verduidelik. Dit was hierdie prag seun se tyd. Prediker 3 Elke ding het sy tyd soos GOD dit bepaal. Hoop dit gee vir iemand die berusting. Be Blessed.

SkarrelKind ·

Johan de Klerk – verstaan julle nie dat die tipe siekte voorkom waar baie mense saam woon/werk. Johan van Zyl is PUK se media woordvoerder – is dit nie genoeg nie? Of suig hy dit uit sy duim wil julle hê hy moet ‘n paneel van 20 neuro-spesialiste die vrae laat antwoord. Lees en word wys. Mense kry breinvliesontsteking en sterf. Dis nie die uitbreek van runderpes nie. Ek is vreeslik jammer dat dit wel gebeur, maar dit gebeur. Hy kan niks hieraan verander nie. Jy is ombeskof om hom af te maak as ‘n leek. Hy doen sy werk soos hy moet. Afrikaners darem?!

Johann ·

Ons ou nasie darm. Hou van stry. In beginsel nie ‘n slegte ding nie, solank mens die gepaardgaande vermoë van perspektief behou? Praat ek met myself ook…

Johan de Klerk ·

Dis ons reg, en ons voorreg, en u s’n ook. Maak gerus gebruik daarvan, dit verbreed almal se verwysingsraamwerk.

san ·

Ja die kom nogals by ander plekke ook voor so 2 Maande terug is n seun van 11 jaar ook oorlede aan die bakteriele meningitis en dit was in Lepalele.

san ·

Ja die kom nogals by ander plekke ook voor so 2 Maande terug is n seun van 11 jaar ook oorlede aan die bakteriele meningitis en dit was in Lepalele.

annelise ·

Dis so hartseer. Dis so ʼn mooi jong man. Hou op baklei oor als.

Liz ·

Maroela, kry asb jul feite reg voor julle iets publiseer. Enkefalitis en Meningitis is twee verskillende goed hoewel dit albei met die brein te doen het. Breinvliesontsteking is meningitis nie enkefalitis nie. So dit moet virale meningitis wees en nie virale enkefalitis nie

Lilla B ·

Google inligting as volg: What is meningitis? What is encephalitis?
Infections, and less commonly other causes, in the brain and spinal cord can cause dangerous inflammation. This inflammation can produce a wide range of symptoms, including fever, headache, seizures, change in behavior or confusion and, in extreme cases, can cause brain damage, stroke, or even death.

Infection of the meninges, the membranes that surround the brain and spinal cord, is called meningitis. Inflammation of the brain itself is called encephalitis. Myelitis refers to inflammation of the spinal cord. When both the brain and the spinal cord are involved, the condition is called encephalomyelitis.

Stem saam ·

Hi Johan van Zyl, ek dink Maroela is ‘n goeie plek om die persverklaring op te sit, uit al die komentaar kan ons sien almal lees dit en sommer al van 20h00 toe jul die verslag gekry het. Dit is ook goed dat medici ook bietjie meer inligting gee al is dit so stry stry. As ouer van ‘n student by ‘n ander universiteit is ek maar alte bekommerd oor die tipe dinge. Hy is ‘n sport man en ek vra hom om maar altyd dokter toe te gaan al is dit verkoue (medici sal bevestig hoe gevaarlik dit ook kan wees), hy was gelukkig nog net 1 keer en nou weet ek – ek moet hom wel elke keer laat gaan!!!!

Annetjie ·

Mag ek vra by watter ander universiteite was daar al sterftes daaraan?
By hierdie spesifieke universiteit was daar al heelwat, insluitend my suster se seun.
Ek vra spesifiek ANDER universiteite en indien wel, hoeveel sterftes en voorvalle oor die afgelope 10 jaar.

Tasha ·

Ek lees Johan van Zyl se kommentaar waar hy verwys dat studente gereeld aangemoedig word om teen groot afslagpryse teen meningitis ingeënt word. Nou my vraag is – my seun was vanoggend daar om oor dit uit te vind en was vertel hy hoef nie ingeënt te word nie aangesien die student wat gesterf het nie die aansteeklike tipe meningitis gehad het nie. Sover ek weet is dit glad nie wat my seun wou weet nie – hy het gaan vra oor die inenting aangesien hy as baba vir weke in intensief was met meningokokale meningitis en by die dood omgedraai het.

Ook n ouer ·

Feite is goed om te hoor….due stryery oor wat is en wat nie is so onsensitief..dink aan die ouers en familie betoon simpatie en hou op om te probeer slim wees….sluit asb die kommentaar

Ada ·

Ek wens julle sterkte toe in hierdie droewige tyd. Moenie julle steur aan negatiewe kommentaar nie, Dit is nie die moeite werd om dit te lees nie . Kyk vorentoe en glo dat dit later weer beter sal gaan. Julle het ‘n pragtige seun gehad. “Embrace” dit. Ek hoop julle vind stroos met hierdie geweldige hartseer.
“will not the deepening darkness brighten the glimmering star” -uit Whispering Hope.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.