Puk-student sterf: ‘Hy het ʼn groot verskil gemaak’

George Schoeman. Foto: Facebook

George Schoeman. Foto: Facebook

Die vierdejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) wat Saterdag dood is nadat hy by ʼn bushalte deur ʼn voertuig raakgery is, “het ʼn groot verskil in mense se lewens gemaak”.

George Schoeman, wat grafiese ontwerp studeer het, was saam met ʼn groep medestudente en vriende by die kykNET Silwerskermfees en was vanaf Kaapstad op pad terug na Potchefstroom, toe hy by die bushalte in Kaapstad raakgery is. Hy is op slag dood.

Schoeman het saam met medestudente by Mos Films gewerk waar hy hom as assistentregisseur en klankingenieur bekwaam het.

Carolien van Milligen, ’n klasmaat wat saam met hom by Mos Films gewerk het, het gesê Schoeman sal altyd onthou word. “Jy sal vir ewig ʼn legende bly. Jy het rêrig ʼn groot verskil in my lewe en klomp ander mense se lewens gemaak. Dankie daarvoor.”

Schoeman se suster, Linnette, is intussen saam met hul ouers op pad Kaapstad toe van Koeweit af. Sy het op Facebook almal bedank vir hul medelye. “Mag hy die ruimtevaarder wees wat hy altyd wou wees en deur die ruimte reis met God aan sy sy.”

Die Silwerskermfees is vanjaar van 24 tot 27 Augustus in Kampsbaai in Kaapstad aangebied.

Prof. Fika Janse van Rensburg, die NWU-rektor, het sy medelye teenoor die student se ouers en vriende uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Flibo ·

My seun is ook 4de jaar op NWU. My innige meegevoel aan die familie. Ai, dis so onnodig !!

Emile ·

So jammer.

Innige meegevoel en simpatie aan die naasbestaandes en geliefdes.

R.I.V George

Theresa B ·

Liewe aardetjie tog. Hoe gebeur hierdie dinge……………….?

Baie baie sterkte ·

Dit is net soooo hartseer, ek tjank sommer weer oor myne, oor my vriendin sinne, oor die pragtige jong mense wat ons weekliks hiervan lees, die baba van gister en hierdie ongelooflike talentvolle jong man, maak nie saak wat gebeur het en wie se skuld wat is, hy kan nooit weer terugkom. Mag sy lewe en dood ‘n klomp wat nie hul lewe waardeer wakker skud en dat hul ‘n verskil maak en voluit leef!

Ansie ·

Dis verskriklik. Baie sterkte aan sy ouers, suster, familie en vriende…. Ken sy ma persoonlik en kan myself net indink hoe hulle moet voel… baie sterkte aan almal…. R.I.P. George

Colette Lotz ·

Vanuit die NWU Grafiese Ontwerp afdeling wil ons graag ons innige medelye en simpatie oordra aan die familie en vriende van George! Ons sal hom altyd onthou vir sy kalmte, liefde en skerp denke!! Sy heengaan laat ‘n groot leemte in ons afdeling en ons gaan hom baie mis!!
Die Grafiese Ontwerpspan

adele ·

Mag Liewe Jesus julle dra deur die donker hartseer tyd mag HY jul styf vashou en jul troos.

Marianne ·

Rus in vrede George.
Ek is oortuig daarvan dat jou plek op aarde stil gaan wees. Jy klink Na ‘n finominale man.
Aan sy ouers, familie, vriende en ALMAL saam met Wie Hy studeer en gewerk het my innige simpatie.

Elsa du Toit ·

Mag die Here julle die krag en vrede gee vir elke dag. Sonder Hom kan ons nie deur die dae kom nie. My seun is 5 maande terug oorlede. Ek dink aan julle en my hart gaan uit na julle!
George, ons weet jy is nou op die beste plek!

3de Jaar Grafiese Student ·

George was ‘n ongelooflike aangename mens om rondom te wees, hy het ‘n mens altyd laat lag en was ‘n baie interesante mens om te aanskou. Die grafies mense hier is almal geruk en ons gedagtes is met sy geliefdes. Hy het werklik by amper almal hier sy stukkie geluk gelos en ons sal ewig dankbaar wees om hom te kon ken. Dankie George, verewig n legende.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.