Puk-student sterf: ‘Nicola was net liefde’

Nicola Badenhorst. Foto: Verskaf

Nicola Badenhorst. Foto: Verskaf

“Dit was so skielik en niemand kon ons voorberei vir wat ons daardie nag beleef het nie. Ons harte is stukkend – daar is nie woorde om ons verlies te beskryf nie.”

Só het Nico Badenhorst, die pa van die Puk-student wat Sondag onverwags gesterf het, oor sy dogter, Nicola, gesê.

Maroela Media het vroeër berig Nicola (20), ʼn BSc Mikrobiologie-derdejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus, is Sondag in die vroeë oggendure dood nadat sy Saterdag met simptome van breinvliesontsteking in die Mediclinic Potchefstroom opgeneem is.

Nico het Maandag aan Maroela Media gesê dat Nicola se vriendinne van die Vergeet-My-Nie-koshuis sy vrou, Daleen, Saterdag omstreeks 21:30 gebel het om te sê hul dogter is siek en nooddienste het haar hospitaal toe geneem. “Daleen en ons seun, Steyn, het onmiddellik van Virginia af Potchefstroom toe gery. Ek was in daardie stadium op die plaas naby Kimberley en het van daar af Potchefstroom toe gery,” het Nico gesê.

Toe die gesin by die hospitaal kom, het Nicola se mediese span hulle meegedeel dat haar toestand kritiek was. “Ons het gebid en gebid om hulp, genade en ʼn wonderwerk, maar ons gebede het onbeantwoord gebly,” het Nico gesê.

“Omstreeks 03:30 het ek by die hospitaal aangekom, net betyds om my kind vir die laaste keer lewend te sien. Ons het as gesin gebid en die Here gesmeek vir genade, maar omtrent ʼn uur later is ons meegedeel dat ons van haar afskeid moet neem en die mediese apparate is ontkoppel. Haar hart het finaal ingegee en daar was niks meer wat die dokters kon doen om haar hart weer aan die gang te kry nie.”

Volgens Nico word vermoed dat Nicola aan breinvliesontsteking dood is, maar die gesin wag nog op uitslae van toetse om die ware oorsaak van haar dood te bevestig.

“Ons gesin is en leef uiters na aan mekaar in liefde. Nicola was ʼn intelligente, pragtige kind met ʼn hart van goud en die sagste, mooiste persoonlikheid. Sy was ʼn joviale en vriendelike mens en danksy haar saggeaarde persoonlikheid was sy gewild onder haar maats,” het Nico gesê.

“Nicola was net liefde en almal wat haar geken het of al ooit met haar in aanraking was, sal dieselfde kan getuig.”

Nico het namens die familie sy dank uitgespreek vir die honderde boodskappe van ondersteuning wat van oral ingestroom het, asook die ondersteuning van die Virginia-gemeenskap, die mediese personeel van die Mediclinic Potchefstroom, Nicola se vriendinne en Nicola se koshuismoeder, Heleen Coetzee.

ʼn Privaat roudiens vir Nicola sal Vrydag by die NG kerk Virginia gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Tina du Toit ·

Ag hoe hartseer. My hart gaan uit na Nicola se geliefdes. Mag God julle dra. R.I,V. Nicola.

Louise ·

My innige meegevoel met jul smartlike verlies! My hart huil saam met julle! Mag die Here jul vertroos in hierdie hartseer tyd.

Linda Engelmohr ·

Baie sterkte aan almal wat haar geken en lief gehad het.

Kry asb bystand om die hartseer help te verwerk.

Ons bid vir julle.

Gesiggie ·

Nico aan jou, jou vrou al die Familie en haar vriende… Saggies het sy gegroet… en is haar tyd op aarde is nou verby, maar in jul harte sal sy verewig en Altyd bly… Wanner ons daardie tye van swakheid, oomblikke van struikeling en vertwyfeling onthou, weet ons dat die Here was by ons. Sterkte aan jul.

Elsie Nrl ·

My inege mee gevoel met die ouers en famielie.Ek weet hoe julle voel,ek het ook n kind 16j aan die dood af gegestaan,hy was toe 26 j en dit is nou 16j terug.Dit is nie maklik nie.en dit voel nog soos nou die dag.Sterkte god is met julle en hy sal julle help.Liefde Elsie.

Sarie ·

Wàt ‘n pragtige meisie was sy… My hart gaan uit na haar ouers & geliefdes. Mag God aan julle die krag gee om hierdeur te kom…. Ek bid julle Sý vrede toe…

Elmarie Gerber ·

Dis so hartseer, dit kon net sowel my broer se dogter se verhaal gewees het. Sy was ook ‘n student by Potch gewees en is Maart oorlede. Sy het ook simptome gehad van breinvliesonsteking, maar toetse het gewys dis iets anders. Tot vandag toe nog weet ons nie wat sy makeer het nie. Haar masjiene moes ook afgesit word.

Lucille Delport ·

My innige simpatie met julle groot overlies. My seuntjie van7 is December oorlede en ons vermoed dit was ook breinvliesontsteking. Hy was n diabeet maar hy was baie gesond en het net skielik begin opgooi en klaar van hoofpyn. Twee dae later het sy hart ook net gaan staan. Hy was ook in n baie diep koma. My gebede is met julle.

Gerhardt ·

Ons absolute simpatie met julle groot skok en verlies. Absoluut hartverskeurend.

Oom Boer ·

God het Nicola se lewensboek ge-open en haar reis het 20 jaar gelede begin. Gedurende hierdie 20jaar het sy ‘n liefdevolle familie en ondersteuning gehad, maar ook het sy gedurende hierdie 20jaar vele harte en lewens aangeraak. God was tevrede met haar reis op aarde en het sy mooiste blom kom haal en haar lewens reis het afgesluit. Tog het sy vele herrinneringe en liefdesdade wat sy agter laat. Nico, Daleen en Steyn, in jul harte is daar rou en in jul gedagtes baie vrae, maar God het al die antwoorde en jul mag maar huil en hartseer wees, want die Hemelse Vader sal jul vertroos in hierdie tyd van rou en jul sal die nodige berusting met tyd vind. Nicola, ook dankie vir al jou bydrae wat jy aan almal gedoen het gedurende jou reis hier op aarde en die tyd wat God jou vir ons almal geleen het om ‘n verskil in baie se harte te kon maak. RIV in die HUIS van ons Hemelse Vader. Innige simpatie en medelye aan al Nicola se families, vriende, Kollegas en ‘n ieder en elk wat met haar betrokke was en mag sy vir jul altyd ‘n helder skynende stêr in die hemel ruim wees. “Sterkte”

Ursula Miolman ·

Sjoe hoe verwerk mens dit. Soveel hartseer. Dankie God dat daardie lydingsbeker verby my gaan. Sterkte aan almal, veral haar geliefdes.

Johan Marais ·

Dis so so so onodig.ai.sterkte aan almal wat haar geken het.dis so hatrseer….?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.